Sowat 4 uit elke 10 plaasaanvalle in 2025 het beduidende kans op dood gehad, toon jongste AfriForum-plaasmoordeverslag
Deur Ilze Nieuwoudt

Byna 4 uit elke 10, oftewel 36% van plaasaanvalle wat verlede jaar plaasgevind het, was só gewelddadig dat slagoffers ’n beduidende kans op dood gehad het. Dié skokbevinding is vervat in AfriForum se jongste plaasmoordeverslag wat vandag bekendgestel is.
Volgens Johan Nortjé, AfriForum-navorser en samesteller van die organisasie se jaarlikse plaasaanvalleverslag, werp vanjaar se verslag – benewens statistiek rakende plaasaanvalle en -moorde – ook spesifiek lig op die voorkoms van gewelddadige optrede van verswarende aard, verkragting en marteling tydens plaasaanvalle wat in 2025 aangemeld is.
“Ons navorsing toon dat ’n totaal van 29 slagoffers in 2025 dood is in die 184 aangetekende plaasaanvalle. Die kommerwekkende is egter dat die gewelddadige aard van die aanvalle konserwatief gereken in minstens 36% van dié aanvalle sodanig was dat slagoffers ’n noemenswaardige kans op dood in die gesig gestaar het,” verduidelik Nortjé.
In die verslag wys Nortjé op verskeie voorbeelde van aanvalle wat met ernstige geweld gepaardgegaan het. In een geval is ’n slagoffer van Chrissiesmeer in die nek gesteek. In ’n ander is ’n bejaarde beesboer van Heidelberg geskiet en vir dood agtergelaat. In KwaZulu-Natal is ’n jong man vyf keer geskiet, het bloeding op die brein opgedoen en moes daarna weke lank in die hospitaal deurbring. In nog ’n voorval het ’n 63-jarige slagoffer van ’n plaas buite Stellenbosch twee skedelfrakture opgedoen nadat hy minstens ses keer met ’n koevoet geslaan is.
Dié is maar enkele voorbeelde van die geweld wat plaasaanvalle in 2025 gekenmerk het. Die voorkoms van hoë vlakke van geweld tydens plaasaanvalle is egter, volgens Nortjé, nie ’n nuwe verskynsel nie. AfriForum se navorsing bied wel nou die moontlikheid om die voorkoms daarvan op ’n meer tasbare wyse te meet met die inligting wat tot die organisasie se beskikking is.

Vorige AfriForum-navorsing het al die kwessie van brutaliteit in plaasaanvalle ondersoek, maar vanjaar se verslag volg ’n meer meetbare benadering. “Aangesien die gebruik van geweld in aanvalle nou vir die eerste keer op dié manier gemeet word, is dit nie moontlik om te bepaal hoe dit met vorige jare se plaasaanvalle vergelyk nie. Wat ons wel hiermee kon vermag, is om AfriForum se standpunt dat slagoffers van plaasaanvalle aan ernstige geweld blootgestel word, ook in terme van syfers te bevestig,” benadruk Nortjé. “Die voorkoms van geweld was nog altyd duidelik, maar nou kan ons dit werklik meet en enige bewerings van die teendeel weerlê. Hiermee kan AfriForum en die talle vrywilligers en medewerkers wat deur die loop van die jaar betrokke is by die insameling van kritieke data oor plaasaanvalle ook help verseker dat die fokus op plaasaanvalle behoue bly.”
Die daling in die aantal plaasmoorde wat die afgelope jare aangeteken is, vertel net een deel van die grusame verhaal van plaasaanvalle, meen Nortjé. “Die realiteit is dat baie plaasaanvalle uiters brutaal is en dat slagoffers telkens erg aangerand word, soms fisiek gemartel word of hul huise selfs aan die brand gesteek word. Die kommerwekkende is dat oorlewendes ná dié traumatiese gebeure dikwels nie die nodige sielkundige ondersteuning ontvang nie en dan vir jare met die trauma en nagevolge van dié gebeure moet saamleef wat hul lewensgehalte, en uiteindelik ook dié van hul eie plaasgemeenskap, negatief kan beïnvloed,” verduidelik hy.
AfriForum se jongste navorsing toon dat minstens 184 plaasaanvalle en 29 plaasmoorde in 2025 plaasgevind het, vergeleke met 176 aanvalle en 37 moorde in 2024.

Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, waarsku dat hoewel die afname in die aantal plaasmoorde wat in 2025 plaasgevind het, bemoedigend mag voorkom, die gewelddadigheid tydens aanvalle kommer wek.
“Die verslag se bevindinge skets ’n kommerwekkende beeld van landelike veiligheid in Suid-Afrika en beklemtoon die kwesbaarheid van boere, hul gesinne, plaaswerkers en ander plaasbewoners. Enige daling in die aantal plaasmoorde is goed, maar dit sou ’n ernstige fout wees om dit as ’n oorwinning in die stryd teen plaasaanvalle te beskou. Die werklikheid is dat die vlak van geweld in plaasaanvalle buitengewoon hoog is en dat baie van hierdie aanvalle maklik tot die dood van slagoffers kon gelei het. Die brutaliteit wat in hierdie aanvalle gesien word, bevestig dat plaasaanvalle nie gewone misdade is nie en dienooreenkomstig hanteer moet word,” sê Broodryk.
AfriForum eis prioritisering van plaasaanvalle én werk self om aanvalle hok te slaan
AfriForum het in die lig van die verslag se bevindinge vandag weer ’n beroep op die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (Valke) gedoen om plaasaanvalle tot ’n prioriteitsmisdaad te verklaar. “Die versuim om sodanige klassifikasie te doen, belemmer pogings om dié misdaad doeltreffend te bestry. Gegewe die georganiseerde aard van plaasaanvalle en uiterste geweld wat daarmee gepaard gaan, voldoen plaasaanvalle aan die voorvereistes van ’n prioriteitsmisdaad,” verduidelik Broodryk.
Die burgerregteorganisasie sal egter intussen, volgens Broodryk, nie afwyk van sy strategie nie en voortgaan om internasionale bewustheid te skep oor plaasaanvalle en die realiteite waarmee landelike gemeenskappe in Suid-Afrika te kampe het. AfriForum sal daarbenewens voortgaan om sy gemeenskapsveiligheidstrukture, insluitend buurtwagte, plaaspatrollies en reaksienetwerke, uit te brei om te help om kwesbare gemeenskappe te beskerm; en samewerking tussen gemeenskappe, privaat sekuriteit en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) bly bevorder.
Lees die volledige verslag hier.



