|

Sosiale media: Wanneer menslikheid in die kuberruim verdwyn

Deur Chanté Kelder

Die Suid-Afrikaanse driekampatleet Henri Schoeman het vandeesweek opnuut die kollig gewerp op die effek van sosialemedia-kommentare op die geestesgesondheid van dié aan die ontvangkant van kommentaar. Hy het gepraat oor die nadraai van sy 2016-oorwinning gedurende die eindronde van die wêrelddriekampreeks in Cozumel, Mexico.

Sowat 700 m voor die eindstreep van dié uitmergelende wedloop het die Brit Jonny Brownlee weens hitte-uitputting inmekaar gesak. Sy broer, Alistair, was op daardie stadium in die derde plek en het sy broer te hulp gesnel. Schoeman het Jonny verbygesteek en eerste die eindstreep oorgesteek.

Wat ’n hoogtepunt in Schoeman se loopbaan moes wees, het in ’n nagmerrie ontaard ná video’s van die Brownlee-broers wyd op sosiale media gedeel is. Schoeman en sy familie was die slagoffers van bitsige skerptonge op sosiale media. Sommige het gemeen dat Schoeman nie die oorwinning verdien het nie, terwyl ander aangevoer het dat hy nie kan durf om trots te wees op die oorwinning nie. Ander het selfs sy familie teëspoed toegewens.

Kommentare soos dié laat ’n mens wonder waarom mense so gemaklik is daarmee om haatlike uitlatings op sosiale media kwyt te raak wat hulle waarskynlik nooit vir iemand in persoon sou sê nie.

Sosiale media is in talle opsigte ’n wonderlike ding. Dit het ons wêreld kom kleiner maak en ons in staat gestel om kontak te hou met geliefdes oor die wêreld heen, maar dit het ook iets anders kom doen. Dit wil al hoe meer voorkom asof ons menslikheid wegkwyn namate ons meer tyd in die kuberruim deurbring.

Die Amerikaanse joernalis Nicholas Carr skryf in sy boek Superbloom: How technologies of connection tear us apart dat die idee agter sosiale media was dat as kommunikasie oor die algemeen ’n goeie ding is dan moet meer kommunikasie en meer doeltreffende kommunikasie dan nóg beter wees, maar dat ons nou met ’n situasie sit waar mense ’n groot hoeveelheid boodskappe met soveel meer mense as voorheen op een slag moet hanteer.

Volgens Carr oorweldig dit die mens se vermoë om bedagsaam en empaties te wees of om mekaar werklik te verstaan. Eerder as ’n beter verstandhouding met mekaar en duideliker kommunikasie, skep dit dus nou misverstande en wantroue wat dan ’n sneller is vir antisosiale reaksies eerder as om pro-sosiale reaksie te ontlok.

Carr meen dat daar genoegsame studies vooraf gedoen is wat bewys het dat om meer van ander mense te leer nie noodwendig sal maak dat jy meer van hulle sal hou of hulle beter sal verstaan nie, die teendeel is eerder waar. Die kanse is hoër dat jy minder en minder van ’n persoon gaan begin hou hoe meer jy van hulle leer en dat die mens natuurlik meer geneig is om van mense te hou wat soos hulle is, eerder as van dié wat anders as hulle is.

Op sosiale media sien ons hierdie uitwerking in ons algoritmes. Ons kan – deur dit waarop ons kommentaar lewer of waarvoor ons ’n regop duimpie gee – tot ’n mate bestuur wat ons sien. Die resultaat is dat ons baie inhoud inneem wat ons siening oor verskeie kwessies ondersteun, en wanneer ons dan voor inhoud te staan kom waarmee ons nie saamstem nie voel dit of ons bloeddruk die hoogte in skiet en voel jy gedwonge om op hierdie inhoud te reageer – dit het selde ’n positiewe gevolg.

Dit blyk dat dieselfde persoon met wie jy ’n aangename gesprek oor ’n koppie koffie kan voer ook in ’n aanlyn gesprek vir jou kan sê om van ’n dak af te spring wanneer hy nie met jou saamstem nie. Hierdie fenomeen het selfs ’n amptelike naam, aanlyn-ontremmingseffek (online disinhibition effect).

Volgens die terapeut L. Gorden Brewer gebeur daar iets interessant sodra iemand op ’n sosialemediaplatform gaan. Dit skep ’n valse idee van nabyheid en vervaagde grense waarin ’n persoon gemaklik genoeg voel om iets vir iemand te sê wat hulle nie onder normale omstandighede sou nie. Dit is ook heeltemal moontlik dat ’n persoon van nature net kwaadwillig is of self ’n diepe seer het en om uiting te gee hieraan deur ongeskik te wees of aaklige dinge aanlyn kwyt te raak, bring ’n valse gevoel van genesing vir hulle.

Uiteindelik moet ons as mense aanvaar dat ons nie altyd gaan saamstem of van mekaar gaan hou nie, maar dit is belangrik om bewus te wees van hoe ons van mekaar verskil. Wees ingelig oor verskeie menings in plaas daarvan om in eggokamers vasgevang te word waar jou eie mening net oor en oor bevestig word. Doen moeite om eerder in persoon-tot-persoon gesprekke te belê met vriende, familie en kollegas – al stem jy ook nie altyd saam met dit wat hulle sê nie. Dink mooi voor jy daardie “stuur kommentaar”-knoppie druk. Al hou jy nie van iemand nie, is dit altyd belangrik om te onthou dat ons almal mens is, ons almal het mense wat oor ons omgee en vir wie ons omgee. Ons is nie eendimensioneel nie en wanneer ons in respekvolle gesprekke met mekaar tree, vind ons gewoonlik dat ons baie meer in gemeen het as waaroor ons verskil.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Veiligheid