Slange, son en slaggate – AfriForum se Nelspruit-buurtspan kén dit alles
Deur Ilze Nieuwoudt
Die sêding “wilder as die wildtuin” kom dalk maklik vir mense, maar wanneer jy jouself waarlik op die voorstoep van die Kruger-wildtuin bevind, is wild deel van jou dag se bestaan. En vir die drie manne van AfriForum se Nelspruit-buurtspan op Mbombela is hul werk in die stikwarm Laeveldse son, so duskant die Krokodilrivier, voorwaar “wilder as die wildtuin”.

Dave Labuschagne, Curtis van Jaarsveld en Willem Vorster vorm die driemanspan wat hier in die hoofstad van Mpumalanga gereedstaan om skoon te maak, op te knap en reg te ruk waar dié plaaslike munisipaliteit skynbaar lankal opgegee het. Labuschagne die buurtspanleier en afgetrede ambagsman, en Van Jaarsveld, wat voorheen ook werksaam was by ’n niewinsgewende organisasie, werk reeds sedert die buurtspan se ontstaan in Augustus 2025 by AfriForum. Vorster, ’n afgetrede dieselewerktuigkundige, het in Augustus vanjaar ook sy gewig by die span gevoeg.
Saam het dié span reeds berge versit in die opknapping en herstel van hierdie dorp. Vanjaar alleen is daar reeds ’n rits uiteenlopende projekte aangepak. Sedert Januarie het die Nelspruit-buurtspan onder meer nagenoeg 60 hektaar se gras gesny, byna 330 sakke rommel opgeruim, meer as 80 liter verf ingespan om padmerkers oor te verf, meer as 1,6 ton vullis verwyder en sowat 400 kg teer gebruik om slaggate mee te herstel.
Volgens Arlo van Heerden, die plaaslike AfriForum-koördineerder wat dié span bestuur, was die vestiging van AfriForum se Nelspruit-buurtspan noodsaaklik. “Die Mbombela Plaaslike Munisipaliteit se dienslewering het die afgelope paar jaar geweldige agteruitgang beleef wat beteken dat talle parke, groenstroke en ander openbare ruimtes in dié en omliggende dorpe net nie meer in stand gehou is nie. Dit het ons dorp se netheid ’n geweldige knou toegedien, maar danksy die totstandkoming van ons eie plaaslike buurtspan het ons nou kapasiteit en hande om die netheid deurlopend te takel en ons kan reeds sien watter beduidende impak hierdie klein span werkers het op ons dorp,” verduidelik Van Heerden.

Die span onderhou in hierdie stadium reeds agt parke en verskeie groenstroke op ’n deurlopende basis, maar daar is nog baie werk wat wag, bely Van Heerden. Dit is juis daarom dat hy hoop om die span se kapasiteit aanstaande jaar uit te brei en met die hulp en betrokkenheid van die gemeenskap en ondernemings die impak wat die span tans maak, nog groter te maak.
En terwyl die span hul dagtaak met ywer pak, is daar die son wat al te dikwels fel op hulle neerskyn. Om die wilde natuur te tem wat plek-plek so wil deurbreek in dié geweste is geen maklike taak nie, erken die Nelspruit-buurtspanlede. Hulle het boonop reeds telkens (ongemaklike) eerstehandse kennis gemaak met swerms bye, slange en ander krioelende gediertes wat in die bosse en grasse wat skoon gesny word, wegkruip.

Bang is hulle egter nie. Hierdie werk is eerder vervullend. Labuschagne hou vol dat hy en sy span elke dag ’n bydrae tot ’n skoner en netjieser Nelspruit maak. En die beste van alles? Wanneer jy sien hoe kinders weer kan klim, klouter en speel in ’n parkie wat jy skoon- en reggemaak het, beklemtoon hy. “Dit beteken dat ons regtig ’n positiewe verskil in ons gemeenskap maak,” maak hy dit duidelik.
Veiligheid bly ook vir die span ’n prioriteit, en terwyl veiligheid indirek bevorder word deur die skoonmaak van groenstroke, is projekte soos die verf van padmerkers en die herstel van slaggate projekte wat direk ’n bydrae tot padveiligheid van motoriste en voetgangers maak. Vir Van Jaarsveld is die skoonmaak van openbare ruimtes en die oorverf van verweerde padmerkers belangrike maniere waarop hy en sy spanmaats tot die bevordering van die gemeenskap se veiligheid bydra.
Tog gaan dit vir hierdie manne nie net oor die werk wat hulle takel nie, maar ook oor die gemeenskap se betrokkenheid. Volgens Vorster is dit duidelik dat die gemeenskap ook nou weer begin eienaarskap neem van die plekke waar hulle woon – ’n neiging wat uiteindelik ’n wydlopende en positiewe uitkringeffek sal hê.
Hierdie betrokkenheid kom boonop uit alle uithoeke, verduidelik Van Heerden. Taxi’s kom dikwels met ’n getoet verby die buurtspan, wat op hul beurt vriendelik groet. Ander dae sal gemeenskapslede stilhou, geselsies aanknoop, die span vir hul werk bedank of sommer self aan die werk spring. En soms maak mense selfs hul harte oop en deel op die warmste somerdae yskoue koeldrank uit aan dié span in hul oranje oorpakke wat stukkie vir stukkie hierdie Laeveldse dorp weer laat blom.
PAS BEKEND: AfriForum stig nuwe buurtspan in Witrivier!
AfriForum het vandeesweek ’n nuwe buurtspan in Witrivier op die been gebring. Dié span staan slaggereed om hier ’n reuseverskil te maak.




