Nuuskommentaar: Skoleveiligheid moet ook gemeenskap se fokus wees
Twee weke gelede het die ministers van Basiese Onderwys en Polisie ’n sogenaamde veiligeskole-protokol geloods wat wyd deur onderswysorganisasies verwelkom is. Die doel hiermee is om te sorg dat skole veilige toevlugsoorde vir kinders is – selfs wanneer dit in gemeenskappe geleë is wat deur misdaad en geweld geteister word. Stappe ter beveiliging van skole is noodsaaklik, want in die onlangse verlede het internasionale en nasionale studies bevind dat Suid-Afrikaanse kinders en onderwysers uiters hoë stresvlakke vertoon en dat die land se skole van die mees onveilige onderwysinstellings in die wêreld is.
Aanvanklik sal die protokol by 283 skole in Gauteng, KwaZulu-Natal, die Oos- en Wes-Kaap geïmplementeer word. Dit behels onder meer dat plaaslike polisiestasies en skole nouer moet saamwerk om teen enigeen op te tree wat geweld, dwelms of wapens na skole bring.
Volgens polisiesyfers is 28 moorde in die 2023/2024-boekjaar by laer- en hoërskole aangemeld, waarvan 46-persent voorvalle was waar leerlinge die geweld teen mekaar gepleeg het. Talle verkragtings is ook aangemeld waar medeleerlinge by twee-derdes van die insidente betrokke was.
Soos soveel veldtogte wat gereeld met groot fanfare deur owerhede geloods word, moet die protokol verwelkom word, maar soortgelyke inisiatiewe het in die verlede bewys dat die invloed daarvan beperk is en dit meestal slegs openbare skakeloefeninge bly. ’n Soortgelyke protokol is byvoorbeeld in 2011 onderteken en sedertdien het die situasie vererger.
Dit is ook nutteloos indien die stelsels wat bestaan, nie gebruik word nie.
Suid-Afrika het byvoorbeeld ’n Nasionale Register vir Seksuele Oortreders, maar volgens ’n ondersoek deur die joernalistiek aanspreeklikheidsorganisasie Viewfinder, is minder as een uit tien onderwysers in skole al daarop nagegaan. Viewfinder skryf die agterstalligheid toe aan die swak samewerking tussen al die betrokke instansies en onderwysers se onwilligheid om daaraan deel te neem. Waar oortreders wel geïdentifiseer is, is verskeie steeds in hulle poste. Geen optrede is nog teen hulle onderneem nie. Die bestaan van dié register skep dus ’n valse gerustheid.
Hierdie voorbeeld bewys dat nouer samewerking tussen die betrokke owerhede noodsaaklik is, maar dit alleen is ook nie voldoende nie. Die gemeenskappe waarbinne die skole geleë is, speel ’n deurslaggewende rol, en meer spesifiek die beheerliggaamlede wat ouers verkies om binne die skole op te tree. Ouers moet hierdie spanne ondersteun in hulle moeilike taak om dissipline aldaar te handhaaf.
Die ou Afrika-spreekwoord dat ’n hele gemeenskap nodig is om ’n kind groot te maak, is ook van toepassing op skole.
Kinders uit swak huislike omstandighede moet deur rolmodelle en met gemeenskapshulp ondersteun word en geleer word om deel van die oplossing, in plaas van die probleem te wees.
In die omgewing van die skool kan buurtwagte ’n groot verskil maak deur bedrywighede wat kinders in gevaar stel, soos dwelmverkope, aan die kaak te stel. Hulle kan ook op die uitkyk wees vir misdadigers wat skole probeer vandaliseer of besteel.
Gemeenskapsorganisasies soos AfriForum kan help om padtekens wat deur munisipaliteite verwaarloos word, op te knap sodat motoriste betyds gewaarsku kan word dat hulle naby ’n skool is en op die uitkyk vir voetgangersoorgange moet wees.
Die ou Afrika-spreekwoord dat ’n hele gemeenskap nodig is om ’n kind groot te maak, is ook van toepassing op skole – as die gemeenskap koud teenoor die skool se veiligheid staan, is protokolle soos hierdie van nul en gener waarde en lyk die skool en die jeug van die omgewing se toekoms duister.