Nuuskommentaar: Fluitjieblasers in SA stééds ’n maklike teiken
Dit is vandeesmaand reeds vier jaar sedert die fluitjieblaser Babita Deokaran op 23 Augustus 2021 vermoor is. Deokaran, ’n senior amptenaar by die Gautengse Departement van Gesondheid, het vroeër daardie maand verdagte COVID 19-tenders, ten bedrae van miljoene rande, onthul en versoek dat ’n forensiese ondersoek van stapel gestuur word. Op 11 Augustus 2021 het sy nog haar departement se finansiële hoof gewaarsku dat dié onthullings hul lewe in gevaar kan stel. Twaalf dae later is sy in ’n koeëlreën buite haar huis in Johannesburg vermoor.
Hoewel ses professionele huurmoordenaars in 2023 skuldig bevind en gevonnis is vir die moord, is daar steeds een vraag wat onbeantwoord bly: Wie het die bevel gegee? Die meesterbrein is steeds op vrye voet en totdat dié vasgetrek word sal daar nie geregtigheid vir Deokaran wees nie.
Onlangse ondersoeke het sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala verbind met sommige van die kontrakte wat Deokaran onthul het. Verskeie dopmaatskappye wat met Matlala verbind is, het na bewering finansiële voordeel getrek uit van hierdie verdagte tenders. Ondanks hierdie bewerings is daar nog geen arrestasies gemaak nie. Die hoop beskaam egter nie en miskien is werklike geregtigheid nog steeds binne bereik.
Die skokkende is egter dat Deokaran se lot as fluitjieblaser nie uniek is nie.
Sommige fluitjieblasers boet met hul lewens, terwyl ander se lewens onherstelbaar omvergegooi word. Dit was ook die geval met Thuso Bloem wat in 2011 wanbesteding by die Groter Taung Plaaslike Munisipaliteit aan die groot klok gehang het en in 2012 afgedank is vir beweerde wangedrag. Hy het egter dié afdanking vir meer as ’n dekade lank in die hof betwis. Die Hooggeregshof het uiteindelik vroeër vandeesmaand in sy guns beslis en beveel dat meer as tien jaar se vergoeding aan hom verskuldig is. Selfs belangriker as die vergoeding is dat die hof hiermee bevestig het dat fluitjieblasers beskerm moet word.
Fluitjieblasers weet gewoonlik wat die risiko’s is en trotseer intimidasie, werksverliese, uitgerekte hofgedinge en baie keer betaal hulle die hoogste prys – dit alles om die regte ding te doen. Geen wonder dat gewone mense soms eerder kies om stil te bly en anderpad te kyk nie. Hoe kan korrupsie dan beveg word as fluitjieblasers nie voldoende beskerming geniet nie?
In Maart vanjaar het Mzamo Buthelezi, minister van Staatsdiens en Administrasie, gesê dat Suid-Afrika alles in sy vermoë sal doen om fluitjieblasers te beskerm. Die Suid-Afrikaanse regering sal na verwagting in die huidige finansiële jaar nog ’n wetsontwerp op die Beskerming van Fluitjieblasers aan die parlement voorlê. Dié wetsontwerp sal na verwagting tekortkominge in die Wet op Beskermde Bekendmakings uit die weg ruim. In ’n 2023-besprekingsdokument oor hierdie wetsontwerp is daar egter ook versoek dat dreigemente gekriminaliseer moet word en dat fluitjieblasers se anonimiteit verpligtend behoort te wees.
Politieke partye het sedertdien ook voorstelle ingedien wat daarop gemik is om fluitjieblasers meer beskerming te bied.
Van die voorstelle sluit onder meer in die vestiging van ’n onafhanklike agentskap vir fluitjieblasers, noodhervestigingsprogramme, finansiële belonings vir fluitjieblasers en boetes vir amptenare wat fluitjieblasers se identiteit bekendmaak.
Groepe soos Corruption Watch en Platform to Protect Whistleblowers in Africa (PPLAAF) is dit egter eens dat wette alleen nie genoeg is om verandering teweeg te bring nie. Amnestie Internasionaal Suid-Afrika het ook gewaarsku dat beskermingsmaatreëls gepaard moet gaan met afdwinging en politieke wil ten einde suksesvol te wees.
Indien die Suid-Afrikaanse regering werklik ernstig is oor die bekamping van korrupsie, kan die beskerming van fluitjieblasers nie opsioneel wees nie. Sonder die nodige beskerming van fluitjieblasers sal niemand waarskynlik meer wil opstaan vir dit wat reg is nie.
Dit is reeds vier jaar sedert Deokaran se dood. Ná haar dood het president Cyril Ramaphosa en verskeie ander politici haar dood betreur en hoog en laag beloof dat fluitjieblasers voortaan beter beskerming sal geniet. Dit is vier jaar later, maar tog is die talle risiko’s vir dié wat bereid is om op te staan en onreg oop te vlek, steeds dieselfde.