Nuuskommentaar: Die ambassadeur waai, die Vrystaat (dalk) binnekort donker en Johannesburg verval
Deidré Steffens, raadgewer oor plaaslikeregeringsake by AfriForum
Die trekpas wat die Suid-Afrikaanse ambassadeur in die VSA, Ebrahim Rasool, die afgelope naweek van Amerika gekry het, stuur ’n duidelike boodskap aan die ANC. As die ANC kant kies téén die VSA – deur onder meer Iran se ambassadeur in Suid-Afrika na die ANC-hoofkantoor te nooi of ongegronde uitlatings teen president Donald Trump te maak – sal hulle nie skroom om Suid-Afrika die deur te wys nie.
Die realiteit is eenvoudig, die ANC maak besluite ter wille en tot voordeel van hulself, terwyl die inwoners van Suid-Afrika die wrang vrugte moet pluk van die party se selfverryking en die verlies aan gesonde diplomatieke verhoudinge met een van die wêreld se grootste ekonomieë.
Sodra Rasool terug is op tuisbodem sal hy, soos die res van Suid-Afrika, sy weg moet vind tussen slaggate, beurtkrag en onbetroubare dienslewering (met trots aan jou gebring deur die plaaslike ANC-bestuurde munisipaliteit).
In die Vrystaat dreig Eskom om 15 dorpe se krag te sny weens hoë skuld en munisipaliteite wat keer op keer faal om betalingsooreenkomste na te kom. Die provinsie moes ook intussen geld wat bestem was vir opgraderings- en instandhoudingsprojekte in die provinsie, herallokeer om agterstallige munisipale rekeninge vir dienste en erfbelasting te betaal. En hoewel daar nie geld vir instandhouding is nie, was daar tog R4,5 miljoen op die Vrystaatse provinsiale rede bestee.
Intussen het die ouditeur-generaal getoon dat die finansiële wanbestuur wat die afgelope ses jaar plaasvind in die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit (waarvan Parys en Heilbron deel is) nou raak-raak aan R6 miljard – vermorsing, wanbestuur en wanadministrasie waarvoor niemand al verantwoordelik gehou word nie.
Waar dit egter ANC pas, sal hulle probleme gou probeer oplos – weereens vir hul eie gewin. Met die G20-beraad wat later vanjaar in Johannesburg aangebied word, is politici skielik in rep en roer om die Goudstad te herstel tot die spogstad wat dit eens was. Ramaphosa het onlangs vergader met die burgemeester van die Johannesburg-metro om diensleweringsprobleme hier die hoof te bied en selfs die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, het die president om verskoning gevra vir die gehawende toestand van dié stad.
Dít is ’n klap in die gesig van Johannesburgers wat al vir jare in hierdie stad woon, werk en ondernemings moet bedryf. Hierdie inwoners se klagtes oor die einste probleme wat nou skielik voorrang geniet, het vir jare op dowe ore geval, want daar was niks wat Lesufi en kie gemotiveer het om iets daaraan te doen nie.
Te midde van woelinge oor die uitgeskopte Rasool, kommer oor Vrystaatse dorpe wat verval, ander wat binnekort in donkerte gehul kan word en benoude spronge om Johannesburg in ’n waardige gasheerstad vir die G20-beraad te omskep, werk AfriForum aan oplossings. Alhoewel die ANC Suid-Afrika al op so baie maniere in die steek gelaat het, kan daar nie langer staatgemaak word op die regering om ’n tuiste te skep waar burgers van die land voorspoedig kan voortbestaan nie. Leë dreigemente van hoogverraad en valse beskuldigings het AfriForum tot nou nie gestop en sal ook nie. Kom wat wil, ons sal veg en bou aan ’n beter toekoms.