Moet op prinse nie vertrou nie
Dalena Beyers, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum
Die munisipale verkiesing is hierdie week die groot nuus, en daarvan gaan ons nie kan wegkom nie. Maar dit voel tog of die euforie van moontlike politieke verandering nie dieselfde frekwensie van frenetiese verwagting het as in vorige jare nie. Miskien is dit omdat kiesers hierdie keer sommer tydens die verkiesingsweek sonder krag en water sit, en die brandstofprys maak dat optimisme loodswaar afsak aarde toe. Geen politiese grootpraat kan die werklikheid wegsteek óf die realiteit van plaasaanvalle ontken nie.
Wat ook al die uitkoms van die verkiesing, ondervinding wys nou al dat verandering net kan gebeur waar gemeenskappe self intree en verantwoordelikheid neem. Nie dat dit beteken dat die regering nie ’n rol het om te speel nie, hulle moet juis ook verantwoordelikheid kan aanvaar.
Die aankondiging dat Suid-Afrika uit Agoa (oftewel die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika) geskop is, is uiters kommerwekkend en nie ’n goeie aanduiding vir ’n opbloei van die ekonomie soos belowe deur die politici nie. Diplomasie is ’n gesofistikeerde bedryf wat geskoei is op wedersydse respek en samewerking, verdraagsaamheid en duidelike kommunikasie, en daarvan is daar wêreldwyd tans ’n groot tekort.
Die onsekerheid wat veroorsaak word deur ’n regering wat nie verantwoordelikheid vir hul wanprestasie kan aanvaar of die skuldiges laat boet vir hul aandadigheid nie, maak dat die gewone landsburger al hoe meer die gordel moet intrek en op sy tande moet kners om daagliks te kan oorleef. Ná 30 jaar van bewind is die demokrasie tog al mondig en veronderstel om weg te beweeg van die adolessente ontwyking van verantwoordelikheid en ontkenning, maar die regering aan bewind probeer steeds sy mislukkings agter strooipoppe van ideologie (en drogmonsters van sameswerende skimme) versteek. Kiesers sal uiteindelik by die stembus wys hoe suksesvol hierdie strategieë was.
Oorloë en gerugte van oorloë was nog altyd met ons (alhoewel jy verskoon sal word as jy dink die eindtyd het rééds aangebreek as jy tans ry deur die middestad van wat voorheen bekend was as die Goudstad). In Engeland word mense aangeraai om drie dae se kosvoorraad in hul huise te hou, en studente-opstande in Europa lyk verdag baie soos politiese onrus met ’n komponent wat vlae van verdagte oorsprong laat wapper.
En hoewel onsekerheid hoogty vier, bly Psalm 146 (met die Totius-beryming) in my kop draai: dat prinse nie vir ons heil gaan bring nie, en dat ons saligheid selfs in alle verlatenheid daarop kan berus om in die Ware toeverlaat te gaan skuiling vind:
1. Prys die HEER met blye galme,
o my siel, daar’s ryke stof!
’k Sal, solank ek leef, my psalme
vrolik toewy aan sy lof
en Hom, wat sy guns my bied,
altyd groot maak in my lied.
2. Moet op prinse nie vertrou nie,
by wie niemand heil kan vind –
op die mens jou hoop nie bou nie;
want as God hul gees ontbind,
keer hul na die aarde weer
en hul raadslag stort terneer.
3. Salig hy wat in die lewe,
sonder hulp en sonder raad,
as hom alles wil begewe,
vlug tot God, sy toeverlaat;
en ook in die swartste nag
op die HERE alleen bly wag.



