Meningstuk: Gemeenskapsforums as boustene van sterker gemeenskappe
Deur Carien Bloem
In ’n tyd waarin baie Suid-Afrikaanse skole met uitdagings soos swak infrastruktuur en veiligheid worstel, speel burgerlike organisasies ’n toenemend belangrike rol. AfriForum se gemeenskapsforums, waarvan skoleforums deel vorm, is ’n goeie voorbeeld van hoe gemeenskappe sélf kan inspring om oplossings te bou.
As ’n verwesenliking van AfriForum se tema “gemeenskapsbouers” fokus hierdie forums daarop om ouers, onderwysers en gemeenskapslede te mobiliseer om aktief by hul skole betrokke te raak. Praktiese projekte soos veiligheidsinisiatiewe, instandhouding en infrastruktuurverbeterings wys dat hierdie forums nie net praat nie, maar doen.
Navorsing en praktyk toon dat skole ’n kernrol in gemeenskappe speel: Wanneer skole funksioneer en veilig is, versterk dit die breër gemeenskap
Carien BLOEM
Navorsing en praktyk toon dat skole ’n kernrol in gemeenskappe speel: Wanneer skole funksioneer en veilig is, versterk dit die breër gemeenskap. In hierdie opsig dra skoleforums by tot ’n gevoel van eienaarskap en verantwoordelikheid – iets wat dikwels ontbreek wanneer gemeenskappe slegs op staatsinstellings staatmaak.
Hoewel sommige mense sou kon aanvoer dat strukture soos hierdie eksklusief kan wees (veral in ’n diverse samelewing), kan die waarde van hierdie forums nie ontken word nie: Hulle bied ’n praktiese model vir selfstandigheid en samewerking.
Uiteindelik lê die krag van die verskillende forums in hul vermoë om mense saam te bring rondom ’n gedeelde doel, hetsy veiligheid, maatskaplik, onderwys of sake. As dit volhoubaar toegepas word, kan hierdie forums ’n betekenisvolle verskil in Suid-Afrika se landskap maak.
Kyk ook uit vir die podsendinggesprek Onderwys in gesprek met Carien Bloem, waarin ek met Corné Cronjé oor die verskillende forums gesels.



