Kinders se entrepreneursdrome kry vlerke by AfriForum se Besigheidsbytjies
AfriForum bied op 10 Oktober ’n Besigheidsbytjies-werkswinkel aan by Akademia se Leriba-kampus en daar is báie om na uit te sien. Inskrywings vir dié werkswinkel en AfriForum se Besigheidsbytjies-kompetisie vir 2025 is nou oop.
Alle laer- en hoërskoolkinders is welkom om die werkswinkel by te woon waar hulle met ander entrepreneurs kan gesels, idees uitruil en vriende maak. Die jong entrepreneurs gaan tydens hierdie werswinkel die basiese beginsels leer oor hoe om hul eie ondernemings te bedryf. Dit sluit in: sinvolle idees vir ondernemings en produkte, hoe om ’n sakeplan op te stel, kreatiewe produkname, aantreklike verpakking en bemarking.
Regte entrepreneurs Joany Brink van Brink of Touch (handgemaakte kerse in elke geur en kleur), Johan Furstenberg van Outentieke leer (leerprodukte) en Zané Bekker van Something Nice (soetkoekies verf en versier) sal die kinders ook toespreek en demonstrasies lewer. Tydens hierdie demonstrasies sal die kinders ook die geleentheid kry om hul eie produk te maak.
Ná elke kind hul produkte vervaardig het, sal die beoordelaars wenners in die verskillende kategorieë kies. Die kategorieë is van graad 1 tot 3, graad 4 tot 7 en graad 8 tot 12. Vanjaar se beoordelaars is Sanderien van der Walt (AfriForum Sakenetwerk), Mareli Swanepoel (Akademia), Révan Luus (Pretoria FM), Annelise de Vries (Akademie vir Wetenskap en Kuns) en Nina Warnich (vorige deelnemer).
“Ek glo hierdie platform en geleentheid is van ongelooflike waarde vir kinders – jy hoef geen bestaande idee of plan te hê vir ’n onderneming nie, so kinders kom maak op ’n prettige manier kennis met die entrepreneurswêreld. Wat ook baie lekker is, is dat ouers hul kinders vir ’n hele dag op ’n opvoedkundige uitstappie kan stuur waar hulle vaardighede kan aanleer of opskerp. Dit is boonop in die kort vakansie en baie beter as om die hele dag voor ’n skerm te lê,” sê Van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk.
Die kostes vir hierdie werkswinkel beloop R150 per kind en sluit ’n geskenkpakkie, peuselhappies, middagete en minstens een produk in. Daar is beperkte plekke so skryf sommer nou in. Besoek www.besigheidsbytjies.co.za om meer oor dié dag uit te vind en om in te skryf. Neem ook kennis dat AfriForumTV opnames op die dag gaan maak.