|

Die siening van taalregte in die land moet nóú verander

Deur Alana Bailey – hoof van Kultuursake by AfriForum

’n Mens hoef daagliks nie veel nuusberigte te lees om te weet dat groot finansiële en morele uitdagings die land in die gesig staar nie. Wanneer onder dié omstandighede van taalregte gepraat word, maak talle dit as ’n luuksheid af. “As almal een taal gebruik, is dit makliker. Ons praat tog almal Engels en dié wat nie kan nie, kan mos leer,” sê hulle. Hiermee ondergrawe hulle nie net Afrikaans nie, maar ook die bevordering van ons gemeenskap se fisieke en geestelike gesondheid, geletterdheid, werksgeleenthede, geregtigheid en les bes, maatskaplike samehorigheid.

Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum

Dit is ironies dat ’n mens in 2025 steeds mense en owerhede moet oortuig dat die bevordering van taalregte noodsaaklik is. Tegnologie maak immers vertaling makliker en goedkoper as ooit tevore. Boonop vier ons vanjaar ons moedertaal, Afrikaans, se eeu lange status as amptelike taal.

Tog maak die plaaslike ontkenning van die taalregte van nie-eerstetaal Engelssprekendes in die land dit nodig dat ons weer beklemtoon waarom taalregte belangrik is.

Dit is ’n reg!

Die vryheid om onsself deur ons taal uit te druk, is ’n fundamentele mensereg. Verder is die vermoë om daardeur te kommunikeer, ’n sleutel tot basiese oorlewing. Deur ons taal kan ons deelneem aan ons gemeenskap se aktiwiteite en kultuurlewe. Die erkenning van ’n minderheid se taal is ’n noodsaaklike onderdeel vir die erkenning van die bestaansreg van die gemeenskap self. Wanneer ’n gemeenskap se taalregte en toegang tot moedertaalonderrig geminag word, is die skending van ander regte en selfs geweldpleging teen hulle gevaarlik naby.

Moedertaalonderrig en sy talle voordele

Deurentyd word meer voordele wat moedertaalonderrig aan leerders en studente bied, geïdentifiseer. Aanvanklik het navorsers veral gefokus daarop dat abstrakte begrippe in byvoorbeeld wiskunde en wetenskap wat in ’n leerder se moedertaal verduidelik word, makliker verstaan, geïnternaliseer en onthou word, terwyl leerders wat in ’n tweede taal onderrig word, dit meestal bloot memoriseer en nie prakties kan toepas nie. Deur die deeglike basis van taalpatrone wat by diegene gelê word, leer hulle boonop ander tale makliker aan.

Meer feite het intussen oor die waarde van moedertaalonderrig aan die lig gekom, soos dat mense wat moedertaalonderrig geniet, gewoonlik langer aanhou studeer, met beter kwalifikasies beter betaalde werksgeleenthede kry en meer inkomstebelasting betaal, wat ’n wen vir die individu én die land beteken.

Mettertyd het die verband tussen taal en geestelike welstand die aandag getrek. Volgens die jongste bevindings het moedertaalleerders meer selfvertroue, vorm meer logiese denkpatrone en redenasies, en neem meer aktief in klasverband deel. Dit dra weer by tot ’n verminderde geneigdheid tot depressie en selfdood.

Selfs fisieke gesondheid word deur moedertaalonderrig bevorder – die beter gekwalifiseerde persoon het uiteraard gewoonlik toegang tot hoëgehaltevoeding en mediese sorg, wat bydra tot ’n langer lewensverwagting.

Afrikaans vs. Engels

Met dit alles in gedagte is daar sowaar nog Afrikaanse ouers wat Engelse onderrig vir hulle spruite kies, “want die besigheidswêreld is Engels, en dalk wil hy eendag oorsee gaan werk”. As die kind in Afrikaans gaan studeer, kan hy later help om Afrikaans lewend in die besigheidswêreld te hou, of as hy emigreer sal die bogenoemde taalvaardigheid hom help aanpas, mét selfvertroue!

Wanneer taal die verskil tussen lewe en dood kan beteken

Die rol van taal is deurslaggewend op soveel ander terreine. Wat gesondheidsorg betref is daar voorbeelde van lewens en lewensgehalte wat ingeboet word weens taalverskille tussen medici en pasiënte oor diagnoses, behandelingsvoorskrifte, allergieë, ensovoorts. Taal kan letterlik die verskil tussen lewe en dood beteken.  

Dieselfde geld vir die regswese en dit is waarom AfriForum druk op die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) uitoefen om nie slegs in Engels te kommunikeer nie. Verklarings wat weens taalfoute verkeerde feite bevat, kan skuldiges laat vrykom of onskuldiges aan die pen laat ry. Die rol van hoftolke is ewe belangrik. Tolking en vertaling kan tydrowend en duur wees, maar die gevolge van regsverydeling weens taalprobleme kan individue en die staat veel duurder te staan kom.

Een taal, een rigting?

’n Drogredenasie wat politici dikwels voorhou is dat maatskaplike samehorigheid (social cohesion) bevorder word wanneer almal een taal praat. Dat taalkwessies altyd deel is van eietydse konflikte (byvoorbeeld die volksmoord in Rwanda en die huidige oorlog in Oekraïne) bewys die teendeel. Konflikspesialiste beklemtoon dat die gebrek aan die gebruik van ’n gemeenskap se taal in onderwys en openbare ruimtes daartoe lei dat hulle voel hulle oorlewing word bedreig. Die simboliek wat taalerkenning bring, laat hulle egter voel dat hulle gelyke burgerskap geniet, wat hulle lojaliteit en onderlinge welwillendheid aanwakker. Sodoende word groter maatskaplike stabiliteit meegebring.

Afrikaans en ons ander inheemse tale word toenemend deur Engels verdring. Ons moet keer dat Afrikaans verder geërodeer word, voordat die proses so moeilik omkeerbaar word soos vir onder andere die Iere, Walliesers, Maori’s, Galisiërs en Baske, wat spartel om die openbare gebruik van hul tale te laat herleef.

Hierdie roepingstaak begin tuis by elke gesin. Dit help nie ons pak die aanslae deur ideologies gedrewe politici aan, maar gebruik nie ons taal in openbare ruimtes, of stuur nie ons kinders na Afrikaanse onderriginstellings nie. Ons moet self die verandering uitleef wat ons wil sien en nóú is die tyd daarvoor.

* Hierdie rubriek is oorspronklik gepubliseer in die Forum Tydskrif (Winteruitgawe 2025).

Soortgelyke plasings