|

Boerebande in verre lande 6 – Wolraad Woltemade

Die spore van ons verlede in ander lande is soms sigbaar, soos die monumente waarop hierdie reeks al gefokus het. Ander kere is dit meer verborge, en dalk juis daarom meer verrassend en opwindend. Vandeesmaand herdenk ons ’n heldedaad aan die Kaap die Goeie Hoop van 252 jaar gelede.

Die heldedaad

Die storie begin op 20 Oktober 1772. Op dié datum vertrek ’n seilskip met die naam De Jonge Thomas vanaf Nederland na Asië om daar handel te dryf. Die skip, wat in 1764 gebou is, onderneem die vaart vir die vierde keer en staan onder die bevel van Barend de la Main. Dit behoort aan die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (die VOC) – die Nederlandse maatskappy wat die handel en handelsposte soos die Kaap bestuur. Dit is ’n “Oos-Indiëman”, met ander woorde ’n seilskip met drie maste wat redelik groot en lomp is omdat dit soveel handelsware as moontlik, byvoorbeeld porselein en speserye uit die Ooste, na Europa moet vervoer. Dit het ook kanonne aan boord om vyandige skepe soos seerowers af te weer.

Om van Europa na Asië te seil, moet dit eers om die Kaap vaar. Op 28 Maart 1773 kom dit in Tafelbaai aan, waar dit ’n tyd lank moet bly om vars water en voorrade in te skeep terwyl die matrose na die lang seereis kan herstel voordat hulle verder gaan. Uiteindelik moet vir geskikte wind gewag word om verder te kan seil. Hierdie vaart van De Jonge Thomas was alles behalwe voorspoedige, want met die aankoms in die Kaap het 70 bemanningslede reeds gesterf en is 41 baie siek.

Gevolglik lê De Jonge Thomas twee maande later steeds in die baai. Nou raak die bemanning bewus waarom die ander naam van hierdie plek “die Kaap van Storms” is, want op 31 Mei 1773 woed ’n noordwestelike stormwind daar. Dit veroorsaak dat die skip se anker begin sleep en die volgende dag strand dit op ’n sandbank naby die mond van die Soutrivier. Toe die hoofmas afbreek, word dit duidelik dat daar nie meer hoop vir die skip is nie. Van die mense en vrag begin op die strand uitspoel en soldate van die VOC pas die goedere op sodat dit nie gesteel word nie. Nog matrose probeer die land haal – hulle klou aan wrakstukke vas en roep desperaat om hulp.

Dít is die toneel wat die toeskouers op die strand gade slaan. Een van hulle is ’n man genaamd Wolraad Woltemade. Toe hy hoor van die stranding van De Jonge Thomas, het hy na die strand gery omdat sy seun, Christiaan Ludwig Woltemade, een van die soldate was wat daar oor die uitgespoelde vrag toesig gehou het. Wolraad het geweet sy kind sal koud en honger wees en het vir hom kos gevat.

Die hulpgeroep van die oorlewende bemanningslede wat aan die romp van die skip vasklou, is vir Wolraad een te veel. Hoewel hy reeds 65 is, spring hy aan die werk om hulle te probeer red. Eers gooi hy ’n tou na hulle, maar die wrak is omtrent 300 meter van die strand af en die plan werk nie. Van die manne wat reeds van die wrak strand toe probeer swem het, is deur die sterk seestrome by die monding van die rivier meegesleur en het in die ysige see verdrink. Al is die wrak dus redelik na aan die strand, is die res vasgekeer daarop. Uiteindelik besluit Wolraad om met sy perd die stormsee aan te durf en soveel manne as moontlik te probeer red. Sewe keer swem hulle na die wrak en bring elke keer twee skipbreukelinge veilig terug strand toe. Teen die agtste keer begin die wrak erg verbrokkel en is die oorlewendes al só paniekerig dat ’n groep hom en sy perd bestorm in ’n poging om gered te word. Hulle gewig is te veel vir die moeë man en perd, en beide verdwyn saam met die groep onder die golwe.

Wolraad se lyk asook dié van De la Main het op 2 Junie 1773 uitgespoel. Wolraad is op 4 Junie in ’n ongemerkte graf begrawe, wat ongelukkig beteken dat ons nie weet waar dit is nie.

Die rekords oor die ramp is nie baie akkuraat nie, maar dit kom voor asof meer as ’n honderd matrose verdrink het. Slegs 53 is gered, waarvan veertien deur Wolraad.

Wie was dié held en wat weet ons van hom?

Wolraad het twee keer diens aan die Kaap kom doen. In 1749 het hy as soldaat aangekom, is mettertyd tot korporaal bevorder en het teen ongeveer 1755 terug na Europa gegaan. In 1770 tree hy weer in diens van die VOC, keer terug na die Kaap en word as korporaal by Muizenberg gestasioneer.

Later boer hy met melkbeeste op die plasie Malta naby die hedendaagse Observatory en versorg ook die melkbeeste en ander diere van die VOC. Hy raak bekend as ’n baie hardwerkende en pligsgetroue man wat besonder goed met diere werk.

Daar word beweer dat Klein Zoar (wat in 1710 gebou is) sy huis was. Die huis staan vandag nog, hoewel dit tans nie in ’n goeie toestand is nie.

Klein Zoar, wat na bewering Wolraad Woltemade se huis was

Plaaslike en buitelandse spore

Aanvanklik het die VOC-amptenare gesê dat Wolraad verdrink het omdat hy domastrant was en dus is geen kompensasie aan sy weduwee uitbetaal nie.

Twee Sweedse ontdekkingsreisigers, Carl Peter Thunberg en Anders Sparrman, het egter nie die saak daar gelaat nie. Thunberg, wat van 1772 tot 1775 aan die Kaap gewoon het, het die verhaal van die skeepsramp en Wolraad se heldedaad neergeskryf. Sparrman het dié voorbeeld in sy reisbeskrywing gevolg en sodoende het die heldedaad in Europa bekend geraak. Die openbare druk wat dit op die VOC tot gevolg gehad het, het daarvoor gesorg dat sy weduwee uiteindelik wel geld van die VOC ontvang het. Verder is ’n seilskip wat toe aan aanbou was, De Held Woltemade genoem. Wolraad en sy perd se reddingspoging is deur die beeldhouer Hendrik van Velzen op die kunswerk wat die skip se agterstewe versier het, uitgebeeld. Ander uitbeeldings het gevolg, asook ’n gedig deur Paul Strick van Linschoten wat in 1806 geskryf is.

Die Unie van Suid-Afrika se Koninklike Medalje vir Dapperheid, wat in 1939 ingestel is, het ’n uitbeelding van Woltemade se heldedaad aan die voorkant gehad. In 1970 is die Woltemade-Toekenning vir Dapperheid ingestel as die hoogste burgerlike dekorasie vir dapperheid in Suid-Afrika. Dit is in 1988 vervang deur die Woltemade Kruis vir Dapperheid. Die toekenning is in 2002 deur die ANC-regering beëindig.

In 1956 is ’n bronsstandbeeld van Wolraad deur die kunstenaar Ivan Mitford-Barberton in Pinelands onthul, en ’n begraafplaas en treinstasie in Kaapstad is na hom vernoem. Verder is ’n stel seëls in 1973 met hom as tema uitgegee. Sy naam is ook gegee aan die S.A. Wolraad Woltemade, een van ’n paar bergingsleepbote wat in 1976 gebou is. Dit was destyds die kragtigste sleepbote ter wêreld.

Vir die jonger gehoor is daar ’n tekenprent oor Wolraad Woltemade in die Klein Helde-reeks op AfriForumTV (afriforumtv.co.za).

Stukke van die wrak van De Jonge Thomas lê nog onder die see. Dit word deur die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap bewaar.

Die merkwaardigste van alles is dat die skip se “grootboek” behoue gebly het en in die Nederlandse Nasionale Argief bewaar word. Dit kan selfs aanlyn besigtig word. Dit bevat onder meer ’n inventaris van die goedere wat aan boord van die skip was, die vendusierekord van geredde goedere van ongeïdentifiseerde persone wat verkoop is en die boedelrekeninge van goedere van die geïdentifiseerdes.

So is daar baie ander skatte in argiewe regoor die wêreld wat die stories van ons voorvaders vertel en wag om ontdek te word!

Soortgelyke plasings