|

AfriForum trek ’n nuwe (groen) baadjie aan vir Fort Klapperkop-tuine

AfriForum, Vriende van Groenkloof- en Klapperkop-natuurreservate, die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit se museumafdeling, die metro se Departement van Natuurbewaring en ’n groep vrywilligers en gemeenskapslede het die afgelope Saterdag (21 November) moue opgerol om die verwaarloosde tuine van Fort Klapperkop reg te ruk.

Dié tuinboudag is aangepak om die fort se tuine tot sy eertydse glorie te herstel. Sowat 30 mense, elk met sy of haar eie tuingereedskap, het die vroeë oggendreën trotseer om ’n reusesukses van die dag te maak. Nie net is die tuine skoongemaak en verfraai nie, maar nuwe plante is ook aangeplant. Meer as 500 plante waaronder witolienhout (6), geelvuurlelies (5), blouwaterlelies (5), strandblommetjies (25), kransaalwyn (30) buffelsgras (256) en bergrooigras (200) is aangeplant. ’n Deklaag en kompos is ook bygewerk en minstens 20 sakke tuinvullis verwyder.

Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake, sê die oggend se reën het nie die vrywilligers se entoesiasme gedemp nie. “Dit het vroegoggend gereën en ons het gedink ons gaan nie veel regkry nie, maar tog het ’n klomp mense hier opgedaag om te help. Die wonderlike van wat ons gedoen het, is dat ’n mens dadelik die verskil kan sien. Beddings wat oorgroei was, is skoon, vullis is verwyder en alles lyk sommer net netjies.”

AfriForum en ander rolspelers het Saterdag (21 November) Fort Klapperkop te tuine opgeknap.

Golf Data, ’n maatskappy wat spesialiseer in uiteenlopende erfenis-gedrewe ontwerpe, is gevra om te help met die tuinuitleg en volgens Reynders Venter, hoof van ontwerp by Golf Data, is daar ’n paar goed wat ingedagte gehou moet word wanneer hierdie soort projek aangepak word. “Klapperkop is ’n erfenisgebied so ons kan nie te veel doen nie. Ons het dus die mense gewys hoe om verantwoordelik met inheemse en endemiese plante om te gaan. Dit was ’n goeie geleentheid vir ons om saam met die gemeenskap ’n handjie by te sit by hierdie wonderlike inisiatief van AfriForum.”

De Vaal sê met Golf Data se hulp is die werk op so ’n manier aangepak dat die minimum tyd vermors is op onnodige take. Dit sal ook voortaan makliker wees om instandhoudingswerk te doen om die tuine deur die loop van die jaar netjies te hou.

Die inisiatief het nie net ten doel gehad om die terrein te verfraai nie, maar ook om gemeenskapsbetrokkenheid by die bewaring en instandhouding van erfenisterreine aan te moedig. Die samewerking tussen die verskillende organisasies en munisipale afdelings het boonop gewys hoe gemeenskappe en plaaslike owerhede gesamentlik ’n praktiese bydrae tot erfenisbewaring kan lewer.

“Terwyl ons in die tuine gewerk het, het ek gedink dat sommige van ons voorouers moontlik destyds aan hierdie fort gebou het. Daar is geslagte se geskiedenis en erfenis in Fort Klapperkop opgesluit. Dit is daarom besonders om te sien hoe vrywilligers uit verskillende dele van die gemeenskap saamwerk om dié erfenis te help bewaar. AfriForum beywer hom vir samewerking tussen gemeenskappe en owerhede, en hierdie projek is ’n goeie voorbeeld daarvan,” sluit De Vaal af.

AfriForum en Vriende van Groenkloof- en Klapperkop-natuurreservate beplan nog soortgelyke projekte. Volg AfriForum en die Vriende se sosialemediaplatforms vir meer inligting.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf