|

AfriForum se teenboeliespan help duisende leerders om afknouery hok te slaan

AfriForum se teenboeliespan het die afgelope week ses skole in Mpumalanga, Noordwes en die Vrystaat besoek om met leerlinge, onderwysers en ouers te gesels oor die gevare van afknouery. Die span het in Mpumalanga besoek afgelê by Laerskool Pionier in Volksrust, in Noordwes by Laerskool Wolmaransstad en Jacobsdal Primêre Sķool, en in die Vrystaat by Primêre Skool Senekal en Paul Erasmus Hoërskool in Senekal sowel as Trio Primêr in Kroonstad.

Boeliegedrag is dalk niks nuut nie, maar is volgens Tania Scheepers, junior jeugbeampte by AfriForum, aan die toeneem.

“Boeliegedrag is oral teenwoordig en steek toenemend kop uit. Elke skool word op sy eie manier daarmee gekonfronteer en dit is noodsaaklik om vroeg in te gryp en die boom te buig terwyl hy nog jonk is,” verduidelik sy.

AfriForum se teenboeliespan het, sedert hulle in 2017 die eerste keer met skoolbesoeke en inligtingsessies by skole begin het, reeds 366 skole besoek. Die span pak boonop gewoonlik twee sessies per skool aan wat die totale aantal inligtingsessies wat in die afgelope nege jaar aangebied is, digby 700 te staan bring!

Vanjaar alleen het die span by 35 skole in Gauteng, die Vrystaat, Noordwes, Mpumalanga en die Wes-Kaap aangeklop en bykans 20 000 leerlinge toegerus met feite en raad oor hoe om boeliegedrag te identifiseer en hok te slaan. Leerlinge van graad 1 tot 12, onderwysers en ouers woon dié informatiewe praatjies by.

Tania Scheepers, junior jeugbeampte by AfriForum, lewer ’n teenboelie praatjie by Trio Primêr in Kroonstad.

Wees op die uitkyk vir boeliegedrag!

Wil jy meer weet oor boeliegedrag? Of meer te wete kom oor die tekens dat jou kind dalk die slagoffer van dié gedrag is? Dan is AfriForum se teenboeliegids vir jou. Dit is gratis beskikbaar en propvol wenke oor hoe om afknouery te takel. Besoek www.teenboelie.co.za om dié gids gratis af te laai of om meer oor AfriForum se teenboelie-inligtingsessies uit te vind.

Hier is enkele feite rakende boeliegedrag wat elke ouer, kind en onderwyser behoort te weet:

Tekens van boeliegedrag

Gevaarligte behoort te flits as ’n kind een of meer van die volgende simptome toon wat daarop kan dui dat hy of sy geboelie word:

  1. Onwilligheid om skool toe te gaan
  2. Verandering in slaappatrone
  3. Verandering in geaardheid
  4. Vriendskappe wat verander
  5. Dalende skoolpunte
  6. Fisiese tekens
  7. Gereelde klagtes van siekte
  8. Verlies van besittings
  9. Verlies aan eetlus of veranderinge in eetgewoonte

Wenke: Slaan boeliegedrag só hok

Boeliegedrag wat nie hokgeslaan word nie, kan tot ernstige gevolge lei. Die goeie nuus is dat daar wel maniere is waarop hierdie soort gedrag by die huis of die skool getakel kan word.

  1. Skep ’n oop kanaal vir kommunikasie met jou kind. Luister rustig na hom of haar en moenie oordeel nie.
  2. Werk saam met die skool en lig die onderwyser of skoolhoof dadelik in as jy vermoed jou kind word geboelie.
  3. Kweek selfvertroue by jou kind. Leer jou kind om kalm te bly en duidelik en ferm te reageer.
  4. Staan saam met vriende en kry bondgenote om boelies tee te staan.
  5. Vestig empatie by jou kind om ander se gevoelens te respekteer.
  6. Dissiplineer reg. As jou kind die boelie is, stel duidelike grense en leer hom of haar verantwoordelikheid.

Alhoewel iemand wat geboelie word moontlik voel asof hulle in ’n hoek gedryf is, sê Scheepers daar is altyd hoop. “Onthou, boeliegedrag sê meer van die boelie as van jou. Jy is kosbaar en uniek. Jy hoef nie alleen te staan nie, praat met iemand wat jy vertrou en weet dat daar mense is wat omgee. Gebruik God se wapenrusting (Efesiërs 6:11–18) om jou te beskerm en vertrou op die Here vir krag en moed. Hy gee jou die vermoë om sterk te staan en jou toekoms vol hoop te leef.”

Om ’n besoek van AfriForum se teenboeliespan by jou skool te reël, stuur ’n e-pos aan boelie@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings