AfriForum se noodwaterpunte kom tot die redding van Pretorianers
Pretorianers in verskeie dele van die stad staal hulself weereens vir moontlike watertekorte wat na verwagting tot 2 Junie kan voortduur. Dit kom te midde van noodsaaklike onderhoud waarmee Rand Water gister begin het. Daar word verwag dat verskeie reservoirs in Pretoria sal leegloop en dat dit inwoners met droë krane sal laat. AfriForum se sewe noodwaterpunte in die Tshwane-metro staan egter gereed om die gemeenskap se waternood te help verlig.
AfriForum het in Januarie 2020 die eerste van hierdie sewe waterpunte in die Moot opgerig. Intussen is nog drie punte in die Moot aangebring, terwyl Bronkhorstspruit, Garsfontein en Moreletapark ook elkeen sedertdien met ’n noodwaterpunt toegerus is. Die totale kapasiteit van dié noodwaterpunte is 65 000 liter. Die kapasiteit van die afsonderlike waterpunte wissel van 5 000 tot 20 000 liter.
“Die doel van AfriForum se noodwaterpunte is om op ’n volhoubare manier water aan die gemeenskap te gee as daar ’n noodsituasie ontstaan of die Tshwane-metro nie in staat is om water aan inwoners te verskaf nie,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se streekshoof vir die noordstreek.
Die tenks by die onderskeie waterpunte word met boorgatwater gevul. Die water uit die boorgate is voor die oprigting van die noodwaterpunte getoets. Toetse het bepaal dat die water geskik is vir huishoudelike gebruik, maar verbruikers word tog aangeraai om die water voor gebruik op ’n geskikte wyse te behandel.
“Enige lid van die publiek is welkom om water by een van die waterpunte te gaan tap, maar ons versoek die publiek wel om, in die belang van die groot vraag na water, nie meer as 100 liter water per gesin te neem nie,” verduidelik Steinberg.
AfriForum se takke dra tans die koste om noodwaterpunte op te rig en te onderhou. Benewens die sewe bestaande punte in die metro, word twee verdere noodwaterpunte intussen vir die Pretoria-omgewing in die vooruitsig gestel – een in Centurion en een in die noorde van die stad. Volgens Steinberg is die gemeenskap ook welkom om versoeke vir die oprigting van nog noodwaterpunte aan AfriForum te rig, waarna ondersoek ingestel sal word om te bepaal of die versoek uitvoerbaar is.
Die onderstaande kaart dui aan waar AfriForum se noodwaterpunte in die Tshwane-metro geleë is.
