AfriForum sê “nee” vir hidrobreking
Deur Marthinus Koekemoer
Dit is nie ’n abstrakte debat nie – hidrobreking sál tot die oorbenutting en besoedeling van die land se skaars waterbronne lei. En die geleentheid om die toekoms van die land se waterbronne te bepaal, is nóú.
Dié kragtige standpunt staan aan die kern van ’n inligtingsvideo wat AfriForum vandeesweek bekendgestel het en waarin die gevare van hidrobreking (fracking) uiteengesit word. Dit vorm deel van dié burgerregteorganisasie se veldtog teen die goedkeuring van hidrobreking in Suid-Afrika.
Hidrobreking word hoofsaaklik aangewend om aardgas te ontgin, maar die proses gaan gepaard met die gebruik van groot hoeveelhede water en hou negatiewe gevolge vir die omgewing in. Dit is juis dié metode van ontginning wat volgens AfriForum ernstige gevare inhou.
“Die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie hou hidrobreking as ’n oplossing voor,” verduidelik Marais de Vaal, AfriForum se omgewingsraadgewer. “Volgens die departement skep hidrobreking werksgeleenthede, lei tot vooruitgang en gee toegang tot ’n skoner bron van energie. Maar dit is valse beloftes en die risiko’s van besoedeling is veel groter as wat voorstanders van hidrobreking wil voorgee.”
De Vaal meen voorts dat die bestuur van hidrobreking in die hande van die owerhede talle risiko’s inhou.
“Daar is al telkens gesien hoe staatsentiteite in die grond in bestuur word. Korrupsie, wanbestuur en vele ander probleme steek gereeld kop uit. Hoe gaan hidrobreking enigsins beter bestuur word? Die moontlike negatiewe impak is net te groot om enige hidrobreking toe te laat en gemeenskappe sal dan die gevolge daarvan moet dra,” sê De Vaal.
As jy glo dat Suid-Afrika nie kan bekostig om met sy watersekerheid te dobbel nie, voeg jou stem by AfriForum se veldtog teen hidrobreking. Besoek www.afriforum.co.za om die veldtog te ondersteun.
Kyk die video hier.



