|

AfriForum sal nie toelaat dat Mbalula met landsburger se toekoms dobbel

Deur Megan Swart

AfriForum het vandeesweek dit onomwonde gestel dat hy nie sal toelaat dat landsburgers die gevolge dra van die roekelose optrede en uitlatings van die ANC in die algemeen en Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, in die besonder nie. Die burgerregteorganisasie het reeds stappe gedoen dat Mbalula plaaslik en internasionaal verantwoordbaar gehou word vir die bewerings van korrupsie teen hom, asook sy radikale optrede wat internasionale strafmaatreëls teen Suid-Afrika en sy mense tot gevolg kan hê.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê Mbalula se tartende en beledigende uitsprake teen Westerse lande; sy steunwerwing vir die miskenning van eiendomsreg deur onteiening sonder vergoeding; en sy skakeling met Hamas, gaan uiteindelik burgers duur te staan kom.

Mbalula het onder meer Westerse sanksies, veral deur die VSA, wat op lande soos Iran en Sirië ingestel is, sterk gekritiseer. Dit terwyl hy steeds noue bande met outoritêre regimes handhaaf. Onder die ANC-leierskap het Suid-Afrika sy politieke en ekonomiese bande met Rusland en China verdiep, wat Mbalula ook ondersteun. Hierdie belyning word wyd beskou as ’n strategiese verskuiwing na anti-Westerse ideologiese posisies.

Die burgerregteorganisasie het Woensdag ’n verslag getiteld die Mbalula-dossier bekendgemaak, wat as basis gebruik is om die VSA te probeer oortuig om nie Suid-Afrika te straf vir Mbalula se optrede nie, maar om eerder ingevolge die VSA se Magnitsky-wet teen Mbalula op te tree. Dié wet maak individuele sanksies moontlik teen individue wat beweerde korrupsie en menseregteskendings pleeg.

Die dossier bevat ook verdoemende bewerings van bedrog, geldwassery en korrupsie wat verband hou met ’n Dubaise gesinsvakansie wat Mbalula in 2016 geneem het. AfriForum se privaatvervolgingseenheid gebruik reeds dié dossier om Mbalula op tuisbodem te laat vervolg.

Kriel sê die sekretaris-generaal van die ANC is “feitlik onaantasbaar in Suid-Afrika gemaak”, daarom is die internasionale gemeenskap nodig om stappe te doen wat daarop gemik is om Mbalula aanspreeklik te hou. Dít kan insluit die instelling van individuele sanksies teen Mbalula (wat in die VSA moontlik gemaak word deur die Magnitsky-wet), die openbare veroordeling van Mbalula se optrede of die toepassing van diplomatieke druk op die Suid-Afrikaanse regering om teen Mbalula op te tree.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik