AfriForum gee wenke oor huisbrande
Die risiko vir die ontstaan van huisbrande neem toe in die koue maande van die jaar. Daar was reeds ’n paar tragiese gevalle waar huisbrande vanjaar tot die dood van Suid-Afrikaners gelei het. Die toenemende gebruik van verwarmers, kaggels en gastoestelle in die wintermaande dra alles by tot die verhoogde risiko vir die uitbreek van ’n huisbrand. AfriForum het ’n gids bekendgestel met wenke om die gevaar van huisbrande te bekamp.
“In die afgelope paar maande is verskeie lewens reeds in huisbrande verloor. ’n Huisbrand is vinnig, warm, donker en dodelik. Rook versprei vinniger as wat ’n mens dink en die meeste sterftes in huisbrande is nie van die vlamme nie, maar van rookinaseming,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum.
Die installering van ’n rookalarm is een van die eerste goed wat Cooks voorstel om ’n huis veiliger te maak. Daar moet ten minste een alarm per vloer van die huis wees en verkieslik naby die slaapkamers installeer word. Sy beklemtoon dat hierdie alarms gereeld nagegaan moet word om te verseker dat dit werk soos dit moet.
Ander wenke in die gids fokus op die voorkoming van huisbrande.
Wanneer ’n mens kosmaak en daar word iets gerooster of gebraai moet ’n mens nie die kombuis verlaat nie. Skakel eerder die plaat af as jy wel die kombuis selfs vir ’n kort rukkie moet verlaat. Dra kort, noupassende klere of klere met styf opgerolde moue as jy kos maak. Braaitoestelle moet ten minste drie meter van sykante en dekreëlings wees en ook nie onder oorhangende takke nie.
Drade van elektriesetoestelle moet vervang word indien dit uitgerafel is of op enige ander manier beskadig is. Ligskakelaars wat warm word moet onmiddellik afgeskakel word en professioneel nagegaan en herstel word.
Huishoudings wat van enige gastoestelle gebruik maak moet seker maak dat hierdie toestelle, die gasbottel en pype deur ’n gekwalifiseerde persoon installeer word en gereeld nagegaan word om seker te maak dis in ’n goeie werkende toestand. Gebruik slegs gastoestelle in ’n goed geventileerde area. Indien daar ’n gaslekkasie ontstaan, draai die gas dadelik af, maak die vensters en deure oop en vermy enigiets wat die gas aan die brand kan steek.


Cooks stel voor dat daar twee maniere moet wees om uit enige kamer in jou huis te kom sodat mense nie in die geval van ’n brand met die versperring van die primêre uitgang vasgekeer word nie. Tydens ’n brand bly so plat as moontlik om onder die rook te bly soos jy na ’n uitgang kruip.
“Nog ’n belangrike veiligheidsmaatreël wat dikwels oor die hoof gesien word, is ’n eenvoudige ontruimingsplan. Gesinne moet vooraf bespreek wat om te doen as ’n brand uitbreek. Wie help die kinders of ouer persone? Besluit waar daar buite die huis ontmoet gaan word en oefen die plan een keer per maand in. ’n Goed geoefende plan help om paniek te voorkom,” sluit Cooks af.
AfriForum se huisbrandgids het nog ’n klomp ander wenke. Lees die volledige gids hier.