|

AfriForum gee wenke om moontlike plaasaanvalle te verhoed

Die ANC-regering lig steeds nie ’n vinger om ’n prioriteit te maak van plaasaanvalle nie. Die Departement van Internasionale Verhoudinge en Samewerking (DIVS) het verlede week die voorkoms van enige rasse- en politieke motivering vir plaasaanvalle ontken. AfriForum sê dis nóg ’n bewys dat die regering ontkenning van dié wrede misdade bo aanspreeklikheid en feite kies.

Politici kan verskillende argumente aanvoer vir die motiewe vir plaasaanvalle, maar dié aanvalle bly ’n realiteit waarvoor baie boere voorbereid moet wees. AfriForum het egter wenke wat kan help om die risiko van ’n plaasaanval te verminder.

Fisiese sekuriteitsmaatreëls

  1. Omtreksekuriteit: Verseker dat heinings, mure en hekke stewig is en gereeld in standgehou word. Oorweeg om ’n elektriese heining of ander afskrikmiddels aan te bring.
  2. Toegangsbeheer: Beperk toegang tot die eiendom.
  3. Sekuriteitsligte: Installeer bewegingsgeaktiveerde ligte om die eiendom.
  4. Alarmstelsels: Gebruik alarmstelsels wat alle geboue dek. Maak seker dit word gemoniteer en dat dit aan reaksiedienste gekoppel is.

Gebouesekuriteit

  1. Beveilig deure en venters: Gebruik sterk deure met kwaliteit slotte. Oorweeg om diefwering voor vensters aan te bring.
  2. Veilige vertrek: Identifiseer ’n veilige vertrek waarheen inwoners kan terugtrek in die geval van ’n aanval. Hierdie vertrek moet vooraf toegerus word.

Veilige gewoontes

  1. Wees waaksaam: Moedig alle inwoners aan om veiligheidsrisiko’s te identifiseer en rapporteer.
  2. Kommunikasie: Vestig kommunikasieprotokolle vir noodsituasies.

Gemeenskap en netwerke

  1. Buurt- en plaaswagte: Sluit by die buurt- of plaaswag aan of stig een as dit nie reeds bestaan nie.
  2. Gemeenskapsbetrokkenheid: Bou goeie verhoudings met inwoners op nabygeleë plase en plaaslike wetstoepassers. Sterk gemeenskappe is beter bestand teen misdaad.

Persoonlike veiligheidsmaatreëls

  1. Persoonlike sekuriteit: Moedig werkers aan om versigtig te wees wanneer hulle na of van die plaas reis, veral in die nag.
  2. Nood- en gebeurlikheidsplan: Ontwikkel en oefen noodplanne in, spesifiek ook vir ’n plaasaanval.

Algemene wenke

  1. Wees op die uitkyk vir blikkies wat rondlê, klippe wat uit plek is of plastieksakke aan heinings.
  2. Gebruik WhatsApp-groepe om byvoorbeeld inligting oor verdagte persone te deel.
  3. Moet onder geen omstandighede ná donker die veiligheid van die huis verlaat om ondersoek in stel oor iets wat verdag lyk nie. Misdadigers gebruik allerlei metodes om mense uit hul huis te lok.
  4. Slaan ag op vroeë waarskuwings en ontbied dadelik hulp.
  5. Vra ’n betroubare persoon om na jou woning om te sien as jy met vakansie gaan.
  6. Hou rekord van persone wat vir jou werk en moenie dat hulle uitvind van waardevolle items wat dalk op die perseel aangehou word nie.
  7. Voor iemand as werker aangesel word, doen deeglike navorsing na hul agtergrondgeskiedenis.
  8. As jy ’n wapen het, sorg dat jy weet hoe om dit te gebruik en hou dit op jou persoon. Dis van geen waarde in ’n kluis nie.

Lees in ’n volgende Forum Nuus artikel oor AfriForum se wenke oor wat om te doen as ’n plaasaanval wel plaasvind.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Veiligheid