|

AfriForum en Solidariteit onttrek uit gekaapte nasionale dialoog

Die Solidariteit Beweging, waaronder AfriForum en Solidariteit, het vandag aangekondig dat hulle aan komende naweek se eerste sitting van die nasionale dialoog onttrek. Die wyse waarop die ANC die geleentheid gekaap het om sy agenda te bevorder, word deur dié organisasies as die beslissende rede vir dié stap voorgehou.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het tydens ’n mediakonferensie by AfriForum se kantoor in Centurion gesê dialoog om die knelpunte en krisisse van die land te bespreek, is noodsaaklik, maar dat die Beweging nie ten gunste is van die wyse waarop die ANC die nasionale dialoog gekaap het nie.

“Die ANC is nie op soek na antwoorde nie, hulle probeer net verlore steun terugwen. Hulle het dekades lank nie na ons geluister nie en hulle is meer geïnteresseerd om ’n monoloog te voer as om na oplossings te soek. In die min gevalle waar ons wel konstruktiewe gesprekke gehad het, het hulle bloot net nie nagekom waarop ons afgespreek het nie. Ons is moeg om na hul blaampolitiek te luister.”

Buys sê dit sal beter wees om eerder op gemeenskapsvlak as nasionale vlak dialoog te voer. Hy hou voorts vol dat die ANC vir die meerderheid van die land se probleme verantwoordelik is en dat die land se kinders beter verdien.

AfriForum het ook die ANC se eensydige agenda vir die nasionale dialoog verwerp en ’n tweebeenplan aangekondig om die dialoog en antwoorde op die land se probleme in die gemeenskap se hande te plaas.

“Ons sal aanhou om druk op die regering uit te oefen om die nasionale dialoog in die gemeenskap se hande te plaas. AfriForum sal ook die dialoog wat ons reeds lankal met ander gemeenskappe begin het om oplossings te vind, versnel. Pres. Cyril Ramaphosa het verskeie geleenthede om ’n positiewe verskil te maak, geïgnoreer en ons sal – ten spyte van die regering – ons eie oplossings moet vind. Die goeie nuus is dat die gemeenskap reeds op plaaslike vlak hul eie oplossings vind en dit gee vir ’n mens hoop vir die land,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die land se burgers is moeg vir die ANC se mooipraatjies. “Die ANC wil die proses kaap om hul eie saak te bevorder. Solidariteit en AfriForum praat nie net nie, ons doen ook en ons sien uit na Suid-Afrika aan die ander kant van die ANC.”

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit

Verskeie ander belanghebbendes het reeds die afgelope paar dae aan die nasionale dialoog onttrek. Vooraanstaande stigtings, insluitende die Thabo Mbeki- en FW de Klerk-stigting, is onder dié wat onttrek het, maar tog het die regering aangekondig dat die dialoog sal voortgaan.

“Die ANC ly aan ’n chroniese toestand wat behels dat hulle alles beheer en uiteindelik vernietig. Alles wat mooi en goed is of kan wees word deur hulle gebreek. Hulle probeer nou die nasionale dialoog kaap om ander organisasies en mense bloot by hul agenda in te lyf. Ons gaan dit nie doen nie. Die Solidariteit Beweging glo in selfdoen en dit is verblydend om te sien dat al hoe meer organisasies nou hierdie beleid navolg,” sluit Werner Human, operasionele hoof van die Solidariteit Beweging, af.

Werner Human, operasionele hoof van die Solidariteit Beweging

Soortgelyke plasings