|

AfriForum en Mafube-sakeforum gee Vrystaatse premier bloedneus in die hof

’n Volbank regters het verlede week in die hooggeregshof in Bloemfontein in AfriForum en die Mafube-sakeforum (MBF) se guns beslis en sodoende die premier van die Vrystaat en 12 ander respondente skuldig bevind aan minagting van die hof. Dit spruit uit hofbevele van 29 Julie 2021 en 28 April 2022 wat nie nagekom is nie.

Die minagtingsaansoek is op 11 Oktober 2024 gebring. AfriForum en die MBF se saak is daarop gemik om volhoubare dienslewering te verseker in die Mafube Plaaslike Munisipaliteit, wat Frankfort, Tweeling, Villiers en Cornelia insluit. Volgens AfriForum het dienslewering in veral Frankfort so te sê tot stilstand gekom.

Volgens verlede week se hofuitspraak moet die respondente onmiddellik ’n finansiële herstelplan finaliseer en implementeer, besoedeling uit die rioolsuiweringsaanleg in die Vaal- en Wilgerivier stop en binne 60 dae aan die hof rapporteer oor tussentydse maatreëls wat ingestel is om die verdere storting van riool te verhoed.

Rioolstortings in die Vaal- en Wilgerivier het ’n algemene verskynsel in Frankfort geword.

Probleme in die dorpe wat Mafube Munisipaliteit bedien, sluit onder meer in: gebrekkige vullisverwydering, besoedelde of geen water, slaggate en langdurige elektrisiteitsonderbrekings. Die munisipaliteit het ook nie behoorlike invorderings toegepas nie en in sommige gevalle is rekeninge vir jare nie aan inwoners uitgestuur nie en het agterstallige skuld aan Eskom reusevlakke bereik.

In hul uitspraak het regters J. Daffue, S. Chesiwe en S. Hefer dr. Namane Masemola, adjunkminister van die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, aangehaal en beklemtoon dat die mense van die Vrystaat beter verdien. Hulle voer voorts aan dat meer doeltreffende bestuur nodig is waar aanspreeklikheid en verantwoordelikheid aanvaar moet word. Die regters het sover gegaan as om te sê dat die munisipaliteit nie hul grondwetlike verpligtinge nakom nie en dat die inwoners van Frankfort en die ander dorpe se basiese regte geskend word.

“Ons verwelkom die uitspraak en die feit dat die regters daarop wys dat die munisipaliteit nie die nodige fondse het om die opgradering van infrastruktuur te doen nie. Die uitspraak bevestig weer eens dat die munisipaliteit se wanprestasie geen perke ken nie en dat die munisipaliteit ook nie die politieke wil het om die probleme te takel nie. Die munisipaliteit sal eerder jare lange litigasie aanpak as om die dorpe se probleme aan te pak. Die tyd is ryp vir gemeenskappe en privaat instansies om toegelaat te word om self dienste te lewer én die invordering van fondse vir daardie dienste te doen,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die sentraalstreek.

Dienslewering in Frankfort het amper heeltemal tot stilstand gekom.

Christa Ikking, AfriForum se koördineerder vir die sentraalstreek, hou vol dat die munisipaliteit nie sy statutêre verpligtinge nakom nie en die gemeenskap ernstig in die steek laat as dit by dienslewering kom. “Die uitspraak lys die talle kere wat daar al teen die Mafube-munisipaliteit litigeer is op aanklagtes van swak bestuur en dienslewering, maar hulle steur hulself eenvoudig net nie aan die hofbevele nie. Vandag se uitspraak het egter bevestig dat daar, in gevalle waar daar geen respek vir die howe is nie, respek afgedwing sal word indien nodig.”

Die munisipaliteit is al in 2004 aangesê om die rioolpompe wat die Namahadi-dorp by Frankfort bedien, te herstel. ’n Soortgelyke bevel is in 2008 uitgereik waarna die hof in 2014 bevind het dat die munisipaliteit hierdie twee bevele geminag het. Nog hofbevele rakende rioolbesoedeling en probleme by die watersuiweringsaanleg het in 2015 en 2016 gevolg.

Volgens Ikking was die hooffokus van die aansoek om in belang van die munisipaliteit se inwoners op te tree en toe te sien dat dienslewering hier herstel word. “Ons het in ’n groter doel geslaag deur die provinsie te verplig om in te gryp en aan die hof te rapporteer,” sluit Ikking af.

  • Argieffoto’s is in hierdie artikel gebruik.

Soortgelyke plasings