|

Só wil Tshwane-metro R58 miljoen per maand in die sak steek met nuwe heffing

Deur Ilze Nieuwoudt

R58,1 miljoen – dít is min of meer wat die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit elke maand in sy sak wil steek met die implementering van die nuwe, omstrede stadsreinigingsheffing wat AfriForum vandeesweek in die Hooggeregshof in Pretoria beveg het. AfriForum takel in dié saak die metro om die besluit rakende dié heffing wat van vandeesmaand af op nagenoeg 260 000 huishoudings en ondernemings oor die hele metro heen afgedwing word, ter syde te laat stel. Die saak is gister en vandag aangehoor. Uitspraak is voorbehou.

Die burgerregteorganisasie hou vol dat dié heffing neerkom op onbillike dubbele belasting en inwoners wat reeds van privaat vullisverwyderingsdienste gebruik maak, onbillik teiken. Inwoners – waaronder ’n groot aantal wat in komplekse en landgoedere woon – en ondernemings dok rééds op vir privaat vullisverwyderingsdienste en eiendomsbelasting, maar word nou gedwing om te betaal vir ’n diens wat hulle nie gebruik nie.

Dié praktyk staan volgens AfriForum se raadgewer vir Plaaslikeregeringsake, Deidré Steffens, in stryd met die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels. Artikel 74(2) van dié wet vereis dat tariewe die werklike gebruik van dienste moet weerspieël en regverdig toegepas moet word.

AfriForum se regspan voor die aanvang van vandeesweek se hofverrigtinge. Van links na regs is Arno Roodt (AfriForum-distrikskoördineerder vir die Groter Pretoria-Suid-streek), Deidré Steffens (AfriForum se raadgewer vir Plaaslikeregeringsake) en Carl Meyer (prokureur van HurterSpies).

Die (vuil) waarheid oor die Tshwane-vullisverhaal

Wanneer dit kom by afvalbestuur, lyk die Tshwane-metro se sake – luidens sy eie verslag wat onlangs aan die metro se raad voorgelê is – beroerd. Die verslag draai geen doekies om nie en stel dit duidelik dat die metro “noemenswaardige uitdagings” in dié verband ondervind. Swak bestuur, lae vlakke van inkomste, onvoldoende beleggings en onbehoorlike organisatoriese werking kenmerk die metro se afvalbestuur. Kortom, is dit disfunksioneel.

Hoewel die metro se afdelingshoof van afvalbestuur, dr. Louis Makhubele, vandeesweek in die hof hoog en laag aangevoer het dat die metro oor die vermoë en kapasiteit beskik om doeltreffende vullisverwyderingsdienste vir almal in die hele metro – dit wil sê vir die volle sowat 3,6 miljoen inwoners wat oor ’n gebied van meer as 6 200 km2 woon – te lewer, sing sy departement se eie verslag ’n ander deuntjie. 

Dié verslag wat ’n sogenaamde omkeerstrategie van die metro se afvalbestuur uiteensit, lig verskeie probleemareas uit, insluitende onwettige storting, die ernstige tekorte aan infrastruktuur en hulpbronne sowel as operasionele ondoeltreffendheid. Nie net is sowat 670 onwettige stortingsterreine in 2021 geïdentifiseer nie, dié kopseer kos die metro jaarliks nagenoeg R30 miljoen. Boonop erken die metro self dat dit telkens tekorte aan vullisverwyderingsvragmotors, vullisdromme en ander infrastruktuur ondervind en derhalwe nie die volume vullis wat in die metro gegenereer word, kan hanteer nie. Teen 2019 het die metro ’n reusetekort aan vullisverwyderingsvragmotors aangemeld en oor net 136 eenhede beskik, terwyl 464 eenhede eintlik benodig was. En om dié groeiende vulliskrisis te kroon, word die swak bestuur van vullisterreine in die metro as ’n belangrike bydraende faktor vir die agteruitgang van afvalbestuur in die metro bestempel.

Intussen is die metro se inwoners wat van privaat vullisverwyderingsdienste gebruik maak, in die metro se hofstukke gebrandmerk as “neklêers” (oftewel freeloaders) omdat hulle as’t ware voordeel trek uit die metro se dienste, maar nie daarvoor wil opdok nie.

“Luidens die verslag is daar al verlede jaar gereken dat die metro se vullisterreine in die voorafgaande vyf jaar ’n totale verlies aan inkomste van R148 miljoen gely het. Die verslag maak verskeie aanbevelings om die probleme te beredder, insluitende die herstel van weegbrûe en die verbetering van sekuriteit op vullisterreine. Hierdie ingrypings is egter nie net al lankal noodsaaklik nie, dit beklemtoon ook die voortgesette wanbestuur en verwaarlosing wat die metro se afvalbestuursdienste teister,” sê Arno Roodt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

“Die metro hou voor dat hy die volle vermoë het om die betrokke dienste te kan lewer, maar die feite lê ’n totaal ander werklikheid bloot,” verduidelik Steffens. “Ons het hier te make met ’n metro wat nie net toegelaat het dat vullisterreine miljoene rande in die water gooi nie, maar wat ook daarin misluk het om – soos die wet vereis – ’n raamwerk vir die lewering van basiese dienste te vestig. Die metro wil nou inwoners straf met die implementering van ’n arbitrêre heffing op dienste wat óf nie gelewer word nie óf ten gronde gaan.”

Roodt benadruk dat die “sogenaamde stadsreinigingsheffing nie, soos wat wetgewing dit vereis, op werklike gebruik gebaseer word nie. Hierdie heffing is ’n fondsinsamelingsprojek wat daarop gemik is om jare se swak beplanning en finansiële wanbestuur toe te smeer.”

Maak jou stem dik!

Jy kan AfriForum se saak teen die Tshwane-metro se stadsreinigingsheffing ondersteun deur jou stem te laat hoor en AfriForum se petisie hieroor te onderteken. Klik hier en voeg jou stem by dié wat nee sê vir die metro se nuwe geldmaakplanne.

Soortgelyke plasings