Rigtingverandering nóú nodig in Suid-Afrika, skryf Kriel
Deur Kallie Kriel – uitvoerende hoof van AfriForum
Korrupsie, kaderontplooiing en die toenemende sentralisering van staatsmag eis steeds sy tol. Die verdere verval van infrastruktuur, talle munisipaliteite en staatsinstellings tot nadeel van almal in die land, is die getuienis hiervan. Ons sien ook dat pres. Cyril Ramaphosa en sy regering se beleidsrigtings druk op Afrikaners, Afrikaanssprekendes en ander minderhede verskerp.
RNE as oplossing?
Ons het almal gehoop dat die regering van nasionale eenheid (RNE) ’n duidelike rigtingverandering in Suid-Afrika teweeg sou bring om bogenoemde krisisse te help oplos. Die RNE se groot sukses is wel dat dit verhoed het dat die EFF en MK-party deel van die regering word. Ongelukkig stel die RNE andersins meestal teleur deurdat die ANC daarin slaag om steeds op te tree asof hulle alleen regeer en bloot ander partye koöpteer om te help om die ANC-beleidsrigtings te implementeer.

Ramaphosa en sy RNE het met die implementering van die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (Bela) die ergste ding gedoen wat enige regering kan doen, naamlik om die kulturele voortbestaan van ’n deel van die land se bevolking te bedreig. Aangesien Afrikaanse skole ’n sentrale rol in die bestaan van Afrikaanse kultuurgemeenskappe speel, is Bela se aanslag op Afrikaanse skole ook ’n aanslag op die voortbestaan van hierdie gemeenskappe. Ook die Onteieningswet en nuwe drakoniese rasseregulasies is onder die toesig van die RNE ingestel.
Wat nou? Ons sal sélf bou!
Alles is egter nie verlore nie. Afrikaners en ander minderheidsgemeenskappe se toekoms is nie totaal afhanklik van die owerheid se doen en late nie. AfriForum en die Solidariteit Beweging se #OnsSalSelf-plan vir gemeenskapsfederalisme is juis gerig op gemeenskappe om met genade van Bo self hul eie selfstandige instellings te skep en deur selfdoen beheer oor hul toekoms te neem. Ons sal die toekoms vir ons kinders kry wat ons self bereid is om te bou.
Die werkbaarheid van die #OnsSalSelf-plan word bevestig deur dit wat AfriForum, die Solidariteit Beweging en ander instellings reeds bereik het. Dit sluit onder meer in AfriForum se 177 buurtwagte en 165 plaaslike takke wat landwyd veilige en sterk selfstandige gemeenskappe help bou. Die wêreldklas- Afrikaanse tersiêre onderriginstellings Akademia, Sol-Tech, Bo-Karoo Opleiding en die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut is lewende monumente vir wat reeds gedoen is en gedoen kan word. Die grootste Afrikaanse mediaplatform, Maroela Media, asook AfriForumTV is voorbeelde van selfdoenaksies op mediagebied, terwyl die Solidariteit Helpende Hand Studietrust jaarliks meer as R60 miljoen se studiehulp aan studente bied. Helpende Hand finansier ook ’n landwye netwerk van maatskaplike werkers uit inkomste wat gemeenskappe help bekom deur die ondersteuning van die organisasie se sowat 130 Ons Winkels. Solidariteit se werksnetwerke, die FAK se bestuur van erfenisterreine, insluitend die Voortrekkermonument en AfriForum Teater, is maar net nog ’n paar van die suksesvolle toekomsbou-aksies. Ook ander instellings soos kerke en skole speel op plaaslike vlak ’n reuserol om ons gemeenskappe te versterk. Dit is maar die begin van dit wat kom met die selfdoeningesteldheid wat nou selfs groter momentum kry.
Veg vir ’n rigtingverandering
Benewens die #OnsSalSelf-plan, werk (én veg) AfriForum en die Solidariteit Beweging ook hard om verandering teweeg te bring aan die roekelose beleidsrigtings van die ANC-geleide regering. Aangesien die ANC, luidens sy eie beleidsdokumente, werk volgens ’n benadering van magsbalans (in hul eie woorde bekend as balance of forces), is die gevolg dat die ANC sal voortstoom om sy ideologies gedrewe agenda te implementeer indien daar nie wesenlike teenstand is wat ’n groter magsbalans bewerkstellig nie. Gevolglik is drukmeganismes en teenstand nodig om ’n rigtingverandering in die land tot gevolg te hê.
Plaaslik gebruik AfriForum en die Solidariteit Beweging talle drukmeganismes om ’n rigtingverandering te probeer bewerkstellig. Dit sluit in vreedsame protesaksies (soos die suksesvolle optog teen Bela), regsaksies, die beïnvloeding van openbare mening, bedinging met ’n stewige magsbasis en die speel van ’n waghondrol. Hierdie metodes bereik meestal sukses. Ongelukkig blyk dit dat wanneer dit kom by Bela, die “Kill the Boer”-dreunsang en rasbeheptheid, plaaslike optrede nie genoeg is nie.
Die VSA en pres. Donald Trump
Ramaphosa het die meeste van AfriForum en die Solidariteit Beweging se skrywes aan hom oor brandpunte in die land blatant geïgnoreer. Hy het ook die ooreenkomste wat wel met die regering bereik is in gesprekke waarvoor hy ’n amptelike mandaat gegee het, op ’n eerlose wyse ontken en geminag.

Binne hierdie konteks was dit noodsaaklik om internasionale druk op ANC-leiers te mobiliseer teen onder meer Bela en die Onteieningswet, die skending van Afrikaners en ander minderheidsgemeenskappe se menseregte deur die toepassing van rassewetgewing, plaasmoorde en oproepe tot geweld soos wat met die “Kill the Boer”-dreunsang gedoen word. Om dié redes het AfriForum en die Solidariteit Beweging in Februarie vanjaar ’n afvaardiging na die VSA gestuur om gesprekke met senior lede van die Trump-administrasie te voer.
Die druk wat Trump op die ANC-geleide regering uitoefen moet gegewe die ANC se beleid om slegs onder druk toegewings te maak, nou optimaal benut word om ’n rigtingverandering in die land te bewerkstellig. Die probleme in die land moet duidelik uitgewys word sodat oplossings daarvoor gevind kan word.
Die ANC-leiers probeer verantwoordelikheid vir die negatiewe gevolge van hul roekelose beleidsrigtings en aksies ontduik deur Trump se optrede valslik toe te skryf aan sogenaamde “misinformasie” wat AfriForum en Solidariteit kwansuis versprei. Ongelukkig is die ANC in hierdie poging ondersteun deur sommige media, kommentators en selfs minister John Steenhuisen.
Verandering nodig om handel met VSA te red
AfriForum besef dat dit in almal in die land se belang is om handelsbande met die VSA in stand te hou. Dit kan egter nie gered word deur ontkenning en “disinformasie” te skree nie. Daarom werk AfriForum en die Solidariteit Beweging om die oorsake van die bedreiging uit te wys en oplossings voor te stel.
Dié oplossings sluit in dat die ANC-leiers in die regering hulle moet verbind tot die beskerming van eiendomsreg, respek vir menseregte (ook die menseregte van Afrikaners en ander minderheidsgemeenskappe), die uitfasering van drakoniese raswette en regulasies, die afwenteling van magte na gemeenskappe, die sluit van ’n kultuurakkoord met Afrikaners (wat die beskerming van Afrikaanse onderriginstellings insluit) en ’n herbesinning oor Suid-Afrika se buitelandse beleid.
Dit is hierdie veranderings waarvoor AfriForum en die Solidariteit Beweging nou volstoom met sowel die ANC-geleide regering as die VSA beding om die krisis op te los. Die tyd is nóú ryp vir ’n rigtingverandering in die land.
* Hierdie artikel verskyn ook in 2025 se winteruitgawe van Forum Nuus.