Finansiële wanbestuur kos Ngwathe-munisipaliteit meer as R5,8 miljard in ses jaar
Deur Ilze Nieuwoudt
Die finansiële wanbestuur wat die afgelope ses jaar in die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit plaasvind raak-raak nou, luidens die ouditeur-generaal (OG) se syfers, aan R6 miljard. Onregmatige en onreëlmatige besteding sowel as vrugtelose en verkwistende uitgawes in dié Noord-Vrystaatse munisipaliteit, met sy nagenoeg 135 000 inwoners in Parys, Heilbron, Koppies, Edenville en Vredefort, het boonop in die 2023/2024-finansiële jaar alleen meer as R774 miljoen beloop.
Die munisipaliteit se swak bestuur is reeds etlike jare duidelik op papier én in die werklikhede waarmee inwoners hier gekonfronteer word.
Good governance Africa, ’n dinktenk wat hom toespits op volhoubare ontwikkeling in Afrika, se bestuursprestasie-indeks vir munisipaliteite ontleed uiteenlopende data – insluitende die kritieke data oor drink- en rioolafvalwater – van regeringsdepartemente en statutêre instellings soos die OG, Nasionale Tesourie, die Departement van Water en Sanitasie (DWS) en Statistiek Suid-Afrika (SSA) om, met die oog op beter dienslewering, munisipaliteite se prestasie te beoordeel.
Die 2024-indeks het die Ngwathe-munisipaliteit in die 77ste plek uit 99 B3-munisipaliteite in Suid-Afrika, en in die 14de plek uit 18 Vrystaatse munisipaliteite geplaas. B3-munisipaliteite is munisipaliteite met ’n versameling klein dorpe en ’n relatiewe klein bevolking wat nie in ’n enkele ankerdorp woon nie. Uit die 18 Vrystaatse munisipaliteite het net die Tokologo (15de plek), Matjhabeng (16de), Dihlabeng (17de) en Nala (18de) Plaaslike Munisipaliteite swakker presteer. Op ’n nasionale vlak is die Ngwathe-munisipaliteit in die 175ste plek op die ranglys van 205 munisipaliteite – wat beteken dat dié sukkelende munisipaliteit swakker vaar as meer as 85% van alle munisipaliteite in die land.
Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, strook dié indeks se bevindinge met die realiteit waarmee AfriForum op grondvlak gekonfronteer word waar AfriForum-takke in die Ngwathe-munisipaliteit ’n verbete stryd om die verval in dié dorpe om te keer.
Pretorius het president Cyril Ramaphosa se onlangse aankondiging, tydens ’n vergadering van die Presidensiële Koördineringsraad (PKR) in Kaapstad, dat die regruk van sukkelende munisipaliteite en metro’s oor die hele land heen nou prioriteit moet geniet, verwelkom. Sy voer egter aan dat topregeringslui hulle vir te lank blind gehou het vir die verval wat in munisipaliteite plaasvind, terwyl munisipaliteite – soos Ngwathe – miljarde rande wanbestee en verval teen ’n ongekende spoed voortduur.
“Plaaslike regering is verantwoordelik vir die lewering van basiese dienste soos skoon water, behoorlike sanitasie, betroubare krag, doeltreffende afvalbestuur sowel as die instandhouding van paaie en munisipale infrastruktuur. Die Ngwathe-munisipaliteit stel sy inwoners op elkeen van dié terreine teleur en ten spyte van die OG se aanbevelings om die finansiële bestuur van die munisipaliteit reg te ruk én burgerlike organisasies soos AfriForum se praktiese aanbevelings, blyk dit dat dié munisipaliteit nie die vermoë het om self die probleme op te los nie,” verduidelik Pretorius.
AfriForum het daarom in Desember verlede jaar ’n dringende aansoek by die Bloemfonteinse hooggeregshof ingedien waarin intervensie ingevolge artikel 139 van die Grondwet versoek is. Hiervolgens kan ’n provinsiale uitvoerende gesag intree en die munisipaliteit onder administrasie plaas wanneer ’n munisipaliteit nie sy pligte nakom nie.
Pretorius benadruk dat die gesloer met die voorsiening van veilige drinkwater aan die inwoners van Parys, die storting van ongesuiwerde rioolwater in die Vaalrivier, sowel as die ooglopende swak toestand van vullisterreine in hierdie munisipaliteit die dringende behoefte aan provinsiale ingryping beklemtoon.
Die gehalte van drink- en boorgatwater in Parys het in Februarie weer gevaarligte laat flikker nadat watertoetse wat AfriForum laat doen het, getoon het dat kraanwater en water uit sekere boorgate hier ongeskik is vir menslike gebruik.
Intussen is daar tydens AfriForum se onlangse oudit van die Heilbron- en Parys-vullisterreine bevestig dat hierdie terreine nie eens oor die nodige lisensies beskik of omhein is nie. Daarbenewens hou die terreine ernstige risiko’s ten opsigte van waterbesoedeling in. Volgens Pretorius toon AfriForum se jaarlikse vullisterreinoudit dat die bestuur van Ngwathe-munisipaliteit se vullisterreine minstens die afgelope ses jaar lank reeds ontoereikend is.


Water- en rioolprobleme in die Ngwathe-munisipaliteit skep lank reeds probleme.