VSA se woede oor SA buitelandse beleid kan duisende hul werk kos
Daar is groeiende woede in die VSA-regering oor Suid-Afrika se buitelandse beleid. Dit gaan Suid-Afrika duur te staan kom en tienduisende mense gaan met hulle werk betaal vir die regering se roekelose beleidsrigtings.
Dit is die Solidariteit Beweging, waarvan AfriForum en Solidariteit deel is, se reaksie ná gesprekke vandag met senior lede van die buitelandse komitee van die Huis van Verteenwoordigers en die Senaat in die VSA. Dit volg na gesprekke gister met senior lede van Donald Trump se administrasie in die Withuis.
Die ANC-regering het oor die jare heen die wêreld se grootste ekonomie vervreem, wat ’n enorme invloed op Suid-Afrika kan hê. Dit blyk egter dat die Suid-Afrikaanse regering nie die erns van die situasie besef nie. Hulle soek sondebokke en glo dat die huidige situasie net ’n diplomatieke misverstand is. In werklikheid is dit ’n diplomatieke krisis, maar die ANC hou vol dat hulle nie geboelie sal word nie.
Die vlakke van frustrasie in Washington is so hoog dat ’n wetsontwerp oorweeg word om die bilaterale verhouding tussen die VSA en Suid-Afrika te hersien. Die konsepwet is reeds in 2024 deur die Huis van Verteenwoordigers goedgekeur, maar nie deur die Senaat opgeneem nie. Lede van die Buitelandse Sake-komitee oorweeg tans om die wet, gegewe die snelveranderende verhouding tussen Suid-Afrika en die VSA, opnuut in die Huis voor te lê.
Aangesien Republikeine nou ook die Senaat beheer sal die wet ’n beter kans staan om aanvaar te word. Die klimaat vir nuwe wetgewing oor die VSA se verhouding met Suid-Afrika is selfs nou beter, gegewe die kritiese houding wat die Withuis en lede van die Trump-administrasie jeens Suid-Afrika ingeneem het.
Hierdie wetsontwerp sit Suid-Afrika se historiese bande met die terreurgroep Hamas en lande soos China, Iran en Rusland in detail uiteen en argumenteer dat Suid-Afrika sy beleid van neutraliteit prysgegee het.
Verder gaan die wetsontwerp ook in op Suid-Afrika se gebrekkige binnelandse beleid, die regering se onvermoë om die land te bestuur en sy laksheid teen korrupsie.
’n Omvattende hersiening van die bilaterale verhouding tussen die VSA en Suid-Afrika word daarin voorgestel.
Indien dié wetsontwerp aanvaar word, sal dit uitsluitlik die regering, en spesifiek die ANC, se skuld wees. Hierdie situasie het oor baie jare opgebou, en die onlangse aanvaarding van die Onteieningswet was bloot die sneller.
Hierdie wetsontwerp kan rampspoedige gevolge inhou vir Suid-Afrika se deelname aan die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa). Agoa en handel met die VSA skep tans werk vir sowat 500 000 Suid-Afrikaners.
Die Solidariteit Beweging het voorgestel dat, in plaas daarvan om gewone Suid-Afrikaners te straf, daar eerder gefokus word op sanksies teen korrupte individue en druk op ANC-leiers.
Die Suid-Afrikaanse regering skitter egter in sy afwesigheid in die VSA. Dit blyk dat sy diplomatieke vermoëns ineengestort het. Die Solidariteit Beweging kan nie en wil nie namens die regering optree nie, maar glo dat die versoek vir verskerpte politieke druk om beleidsverandering te weeg te bring, ten behoewe van alle Suid-Afrikaners is.
Die Solidariteit Beweging het lede van die Senaat en die Huis van Verteenwoordigers versoek om by Trump aan te beveel dat Suid-Afrika ’n lid van Agoa moet bly. Daar is egter ook ’n versoek om die diplomatieke druk op Suid-Afrika te behou om ’n beleidsverandering te bewerkstellig.