AfriForum-buurtwagte, -hommeltuie help byna 200 misdadigers tydens Operasie Shanela vastrek
Deur Megan Swart
AfriForum se buurtwagte in en om Pretoria het die afgelope naweek sy nommerplaatherkenningskameras (bekend as LPR-kameras), hommeltuie en uitgebreide kennis in gemeenskapsveiligheid gebruik om die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) te help 188 misdadigers vas te trek.
AfriForum se Noord van die Berg-buurtwag is genooi om broodnodige ondersteuning tydens Operasie Shanela te bied en het op kort kennisgewing AfriForum se Brits- en Centurion-buurtwagte, asook verskeie privaat veiligheidsrolspelers gemobiliseer om daarmee te help. Onder leiding van die SAPD is algemene misdadigheid, onwettige immigrasie en georganiseerde misdaadnetwerke in die Akasia- en Soshanguve-gebiede oopgevlek.
Die operasie is saam met onder meer die SAPD se hommeltuigeenheid aangepak, asook die Tshwane Metropolisie, die Departement van Binnelandse Sake en verskeie privaat veiligheids- en gemeenskapsveiligheidstrukture soos GAC Risk Solutions, Maximum Security, Amandasig Action Group en TRT Security.
Altesaam 24 van AfriForum se buurtwaglede het aan die operasie deelgeneem. ’n Span het padblokkades saam met die polisie opgestel, terwyl AfriForum se LPR-span voertuie se registrasienommers skandeer het om vas te stel of die voertuie by misdade betrokke was. Buurtwaglede het ook met AfriForum se honde-eenheid voertuie deursoek vir dwelms, plofstof en wapens.
Die samewerking het tot ’n reeks suksesse gelei, waaronder 15 inhegtenisnemings vir dronkbestuur. Twee gesteelde voertuie is ook teruggevind en verskeie onwettige of gesteelde items is op beslag gelê, waaronder dwelms, seinonderdrukkers, voertuigonderdele en edelmetale.
Volgens Ruan Janse van Vuuren, voorsitter van AfriForum se Noord van die Berg-tak en hoof van gemeenskapsveiligheid, was AfriForum se eie hommeltuig-eenheid ook by die operasie betrokke. “Die eenheid, in samewerking met ander rolspelers, het deurlopend oë in die lug gehad terwyl die padblokkade aan die gang was. Die hommeltuie was op die uitkyk vir voertuie wat voor die padblokkade omgedraai het en insittendes wat uit voertuie gespring en weghardloop het. In een geval het verdagtes te voet probeer vlug, maar hulle is agternagesit en in hegtenis geneem.”
AfriForum-buurtwaglede het ook saam met die polisie tavernes besoek en die onwettige gebruik en verspreiding van dwelms en wapens oopgevlek. Met behulp van AfriForum se honde- en hommeltuig-eenhede is altesaam 148 arrestasies vir oortredings van immigrasiewetgewing gemaak, asook arrestasies wat verband hou met dwelmbesit, onwettige drankverkope en ander oortredings.
AfriForum se radiokommunikasienetwerk is ingespan om die verskillende spanne voortdurend met mekaar in verbinding te hou.
AfriForum se Noord van die Berg-tak se hooffokus is veiligheid, daarom het hierdie buurtwag die Magalies OPS op die been gebring wat bestaan uit AfriForum-buurtwagte, privaat sekuriteitsdienste, die Tshwane-metropolisie en SAPD-lede. Tydens operasies soos dié word hierdie netwerk geaktiveer en broodnodige ondersteuning aan die polisie gebied.
“AfriForum is in staat om ’n netwerk te skep waar privaat sekuriteit, gemeenskapslede en ander organisasies in samewerking met mekaar en die SAPD kan optree. Die resultate wat volg ná samewerkingsoperasies soos dié is vanselfsprekend,” sluit Janse van Vuuren af.



