|

Vullis: Vergeet van weggooi en wegkyk – dit is tyd vir herbesin en herwin

Deur Lambert de Klerk, bestuurder van Omgewingsake by AfriForum

Gemeet aan die vinnig krimpende beskikbare lugspasie by Gautengse vullisterreine, wag ’n vrot vulliskrisis dalk binnekort op dié dig bevolkte provinsie. Lugspasie – oftewel die volume ruimte op ’n vullisterrein wat toegelaat is vir die storting van munisipale afval – is ’n belangrike aanduiding van die leeftyd van ’n vullisterrein en in Gauteng loop die uurglas van dié leeftyd vinnig leeg.   

Die provinsie se vullisterreine is egter nie net ’n provinsiale kopseer nie; dit is ’n vroeë waarskuwingsteken vir die hele land.

Gauteng’s landfill time bomb, die burgerregteorganisasie AfriForum se nuwe dokumentêr wat verlede week vrygestel is, stel juis ondersoek in na dié “kloppende kopseer”. Dit toon hoe vinnig ’n “onsigbare” stelselkrisis in ’n openbare gesondheids- en omgewingsnoodtoestand kan ontaard wanneer lugspasie opraak en alternatiewe nie betyds gereed is nie.

Die kernvraag is eenvoudig: Is ons afvalbestuurstelsel ontwerp om te slaag – en word dit bestuur om te kan slaag?

AfriForum se dokumentêr fokus op die 13 aktiewe munisipale vullisterreine wat ongeveer 14 miljoen inwoners in die Johannesburg-, Tshwane- en Ekurhuleni-metro’s bedien. Teen die huidige stortingstempo kan oorblywende kapasiteit binne ongeveer 16 maande in die Johannesburg-metro, 78 maande in die Tshwane-metro en 60 maande in die Ekurhuleni-metro uitgeput wees. Dié tydlyne is nie sensasionele “eindtydvoorspellings” nie; dit beklemtoon bloot hoe min beweegruimte beleidmakers, munisipaliteite en inwoners oor het om alternatiewe planne te maak.

Wanneer kapasiteit knak, is huishoudings die eerste om die gevolge daarvan te voel. Onwettige storting neem dan dikwels toe in woonbuurte en op oop stukke grond. Die koste om vullis verder te vervoer, styg. Die risiko van brande en lugbesoedeling word groter, en ’n daling in lewenskwaliteit en eiendomswaardes word aangeteken.

Gauteng’s landfill time bomb fokus op die strukturele druk wat die provinsie se vullisterreine kenmerk, naamlik onvoldoende langtermynbeplanning, finansiële druk, operasionele beperkings en swak nakoming van wetlike verpligtinge – probleme wat reeds plek-plek oorgespoel het na gemeenskappe. Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake stel dit duidelik: “Die doel van die dokumentêr is nie om vinger te wys nie, maar om te wys wat gebeur wanneer ’n stelsel vir jare lank onder druk funksioneer.”

Gauteng se vullisterreine nie die uitsondering is nie. In baie munisipaliteite elders in die land ontvou ’n soortgelyke krisis – nie noodwendig omdat vullisterreine se lugspasie opraak nie, maar eerder weens bestuur wat klaaglik misluk. Dit is duidelik in defektiewe weegbrûe, onvoldoende toegangsbeheer, die afwesigheid van vraginspeksies, swak kompaktering en bedekking van vullis en gebrekkige stormwater- en veiligheidsbestuur. Dit is juis dié soort tekortkominge wat AfriForum se jaarlikse vullisterreinoudits telkens dokumenteer en wat die risiko van besoedeling, brande en versnelde kapasiteitsverlies verhoog. ’n Stortingsterrein kan tegnies nog plek hê, maar as basiese beheer ontbreek, word dit ’n bron van grondwater- en rivierbesoedeling en ’n trekpleister vir onwettige storting.

Teen dié agtergrond bied die konsep- Nasionale Afvalbestuurstrategie 2026 (NWMS 2026) ’n belangrike geleentheid. Luidens dié strategie word beoog om op ’n nasionale vlak binne vyf jaar 40% van afval weg te herlei van vullisterreine. Dit is in teorie ’n bewonderenswaardige plan, maar planne wat nie uitgevoer word nie, bly net by planne. In sy kommentaar oor die konsepstrategie stel AfriForum dit duidelik dat herwinningsdoelwitte telkens vasgestel word sonder om strukturele hervorming te bewerkstellig en dat onvoldoende belyning tussen beleidsdoelwitte en munisipale kapasiteit dié strategie kan kniehalter. Voorts waarsku die burgerregteorganisasie dat monitering en wetstoepassing inkonsekwent gedoen word en dat ekonomiese aansporings om privaatsektordeelname én huishoudelike deelname te vergroot, onvoldoende is.

Daar is egter ook belangrike praktiese geleenthede wat ontgin kan word. Die kapasiteit vir herwinningsinisiatiewe bestaan, maar word nie tans konsekwent gevoed met skoon, voorspelbare afvalstrome nie. Daarbenewens moet aspekte, soos vullisskeiding by die bron, betroubare insamelroetes en kontrakte wat prestasie beloon, ingestel word om die herwinningstelsel meer veerkragtig te maak. As munisipaliteite nie minimum standaarde kan handhaaf nie, moet hulle ruimte skep vir samewerking met kundiges en diensverskaffers wat dit wél kan doen.

Die oplossing lê dus nie in nóg beloftes nie, maar in ’n stelsel wat werk en waar konsekwente wetstoepassing, betroubare datamonitering, realistiese finansiering en samewerking tussen munisipaliteite, die privaat sektor en burgerlike gemeenskappe geskied.

Die doel van AfriForum se dokumentêr en beleidsinsette is juis dit – om die skuif weg van krisisbestuur na krisisvoorkoming te versnel. Gemeenskappe verdien deursigtigheid, meetbare teikens en aanspreeklikheid vir alle rolspelers. Kortliks, gemeenskappe verdien ’n stelsel wat werk. Dit is daarom nou die tyd om te beplan én uit te voer, want wanneer vullisterreine hul maksimum kapasiteit gaan bereik, sal gemeenskappe die prys daarvoor moet betaal.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf