| |

Knysna: droog, droër, droogste

Zel-Marí Gelderblom

Knysna staan op die rand van ’n ernstige krisis. Dag Zero is nie meer ’n abstrakte dreigement nie, maar ’n werklikheid wat al hoe nader kruip. Die dorp wat lank sinoniem was met ’n rustige kuslewe, groen woude en ’n sterk toerisme-ekonomie, word nou gekenmerk deur leë damme, streng waterbeperkings en ’n gemeenskap wat letterlik teen die horlosie werk om te keer dat die krane opdroog. Jare se wanbestuur, verouderde infrastruktuur en swak langtermynbeplanning het die watervoorsiening tot breekpunt gedryf en nou is vinnige ingryping en samewerking ononderhandelbaar.

Die erns van die situasie is onlangs onderstreep toe Knysna as ’n plaaslike rampgebied verklaar is. Die Akkerkloofdam is slegs ongeveer 15% vol, wat beteken dat die dorp, teen die huidige verbruiksvlakke, net ’n buffer van sowat tien dae se water het. Hoewel sporadiese reën en bykomende toevoer uit die Gounarivier tydelike verligting gebring het, is dit geensins genoeg om die rampstatus op te hef nie. Die verklaring as rampgebied stel die munisipaliteit egter in staat om nooduitgawes goed te keur en vinniger toegang tot provinsiale en nasionale hulp te kry.

In ’n poging om Dag Zero te vermy, versnel die munisipaliteit noodmaatreëls soos die opknapping van bestaande boorgate, die ontwikkeling van nuwe waterbronne en samewerking met privaatgrondeienaars.


Tog is dit duidelik dat infrastruktuur alleen nie die krisis gaan oplos nie. Knysna gebruik sowat 12 miljoen liter water per dag, terwyl produksie steeds onder dié vlak bly. Inwoners word dringend versoek om hul waterverbruik tot 50 liter per persoon per dag te beperk, ’n stap wat nou die belangrikste verdedigingslinie teen Dag Zero geword het.

Die krisis is egter nie skielik of onverwags nie. Soos uitgelig in ’n ontleding deur Daily Maverick is Knysna se waterprobleme die gevolg van infrastruktuur wat lankal sy lewensduur oorskry het, jare se swak bestuur en die feit dat daar nie genoeg in infrastruktuur belê is nie. Meer as die helfte van die water in die stelsel word as “verlore” geklassifiseer weens lekkasies, onwettige aansluitings en ou pypnetwerke. Ten spyte van herhaalde waarskuwings van besorgde rolspelers in die raad is hierdie strukturele probleme nooit daadwerklik aangespreek nie.

Die burgemeester, Thando Matika het dit duidelik gemaak dat inwoners ’n deurslaggewende rol speel om die krisis om te keer. Selfs met alle huidige toevoer- en infrastruktuurintervensies bly verbruik hoër as beskikbare voorraad.

Gedragsverandering – hoe en hoeveel water gebruik word – is nou die enkele belangrikste faktor om Dag Zero te vermy. Huiseienaars word ook aangemoedig om nie drinkwater in tenks te stoor nie, maar eerder reënwateropvangstelsels te gebruik.

In ’n onlangse video het die Knysna-munisipaliteit verder verduidelik dat streng waterbeperkings onafwendbaar is indien verbruik nie vinnig daal nie.
Die boodskap is eenvoudig: Elke liter wat vandag gespaar word, verleng môre se oorlewing.

Die rampverklaring vir die area, ingevolge die Rampbestuurswet, skep ook die ruimte vir meer gestruktureerde ingryping deur provinsiale en nasionale owerhede. Volgens berigte volg hierdie stap op volgehoue druk op watervoorrade en die groeiende risiko dat aanvraag die aanbod onherroeplik gaan oorskry.

Die groter prentjie is egter selfs meer ontstellend. Knysna, een van Suid-Afrika se gewildste semigrasie-bestemmings, se langtermynvolhoubaarheid hang nou in die weegskaal. Alhoewel nuwe boorgate, moontlike ontsoutingsprojekte en ander infrastruktuuroplossings in die toekoms bykomende water kan voorsien, bly dit duur en tydrowend. Die huidige krisis laat min ruimte vir uitstel.

Dag Zero is dus nie net ’n tegniese of administratiewe probleem nie, dit is ’n waarskuwing. Sonder onmiddellike aksie, volgehoue samewerking en fundamentele hervorming van hoe water bestuur én gebruik word, kan Knysna se watervoorsiening ineenstort, met verreikende gevolge vir die gemeenskap, ekonomie en toerisme. Hierdie krisis kan oorleef word, maar slegs as verandering nou plaasvind, individueel én kollektief.

Zel-Marí Gelderblom is ’n koördineerder van inhoud en mediaverhoudinge by AfriForum en het ’n meestersgraad (cum laude) in genderpolitiek aan die Nelson Mandela-Universiteit behaal. Sy is ook die aanbieder van AfriForum in fokus.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf