|

AfriForum bevraagteken geloofwaardigheid van rooskleurige matriekuitslae

Die 2025-matriekuitslae lyk volgens amptelike syfers dalk goed, maar AfriForum bevraagteken die geloofwaardigheid van dié rooskleurige syfers en meen dit skets ’n onbetroubare beeld van die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel wat deur die diep sistematiese probleme gekenmerk word.

Uit die 920 000 matrieks wat in 2025 die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS)-eksamen afgelê het, het 88% geslaag – die beste slaagsyfer tot nog toe. Hierdie syfer is effens hoër as die 2024-matriekslaagsyfer van 87,3%. Die syfer klim inderwaarheid reeds elke jaar sedert 2021, toe net 76,4% van matrieks geslaag het.

Ondanks die oënskynlike onderwyssukses, steek daar veel meer in matriekslaagsyfers as die finale slaagsyfer, het AfriForum Dinsdag gewaarsku.

Bogenoemde syfers word gegrond op die aantal ingeskrewe matrieks wat aan die einde van die jaar geslaag het. Die derduisende leerders wat in 2014 met graad 1 begin het en sedertdien uitgeval het, word geensins in die berekening van dié syfer in ag geneem nie. Die sogenaamde matriekslaagsyfer skets dus nie ’n volledige prentjie nie.

“Wanneer ’n mens kyk na hoeveel hoopvolle leerders met groot potensiaal graad 1 begin het, maar uiteindelik nooit matriek bereik of slaag nie, word dit duidelik dat die probleem nie in hul matriekjaar ontstaan het nie,” sê Carien Bloem, hoof van Onderwysprojekte by AfriForum. “Dit is ’n stelselmatige mislukking wat oor jare ontwikkel en veral kinders in disfunksionele skole swaar tref.”

Disfunksionele openbare skole is gereeld in die nuus. Onderrig is dikwels onreëlmatig, ontoereikend of van swak gehalte wat alles ’n direkte invloed op akademiese prestasie en langtermynvooruitsigte het. Bloem benadruk dat belangrike vaardighede wat leerders moet aanleer om ’n goeie fondasie te vorm – soos lees, skryf, oplos van wiskundige probleme en die ontwikkeling van kritiese denke – telkens agterweë bly en leerders se latere akademiese sukses negatief beïnvloed.

’n Verdere uitdaging wat jaarliks kop uitsteek, is onreëlmatighede soos die uitlek van vraestelle wat ook ’n skadu oor die matriekuitslae werp.

Mathanzima Mweli, direkteur-generaal van Basiese Onderwys, het boonop onlangs tydens ’n tegniese opleidingsessie te kenne gegee dat die uitlek van vraestelle ’n groot slag vir die Departement van Basiese Onderwys se harde werk was. Hy het ook sy teleurstelling uitgespreek in sommige toesighouers wie se nalatigheid veroorsaak het dat ’n groep leerders by mekaar kon afskryf en selfone tydens die eksamen by hulle kon hê.

“Wanneer vraestelle uitlek, word die waarde van eerlike prestasie en harde werk afgebreek, en dit doen leerders wat wel onder moeilike omstandighede probeer slaag, ’n groot onreg aan,” sê Bloem.

AfriForum doen ’n ernstige beroep op die Onderwysdepartement om minder fokus te plaas op die misleidende hoë matriekslaagsyfer en meer aandag te gee aan vroeë kinderontwikkeling, gehalteonderrig in die grondslagfase, die herstel van disfunksionele skole en strenger op te tree teen eksamenonreëlmatighede.

“Wanneer ons vandag die matriekuitslae vier, moet ons ook eerlik wees oor die kinders wat nooit hierdie punt bereik het nie. Duisende leerders word steeds in disfunksionele skole agtergelaat en ontneem van die skolastiese opleiding wat hulle toekom. Solank vraestelle uitlek en swak skole onaangeraak bly, bly die matriekslaagsyfer ’n onvolledige en misleidende maatstaf van sukses,” sluit Bloem af.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik