|

Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum: 2025-hoogtepunte

2025 was ’n goeie jaar vir interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum, en daarom kyk ons met groot dankbaarheid op die hoogtepunte van die jaar terug.

AfriForum bevorder landelike ontwikkeling

Die groenteprojek by die Noga’s Post-nedersetting buite Thaba’Nchu in die Vrystaat, wat deur die gemeenskap, kgosi (koningin) Gaboilelwe Moroka, AfriForum en Saai aangepak is, het in Februarie 800 kg uie opgelewer. Dié oes is in nabygeleë nedersettings en aan skole verkoop, terwyl daar ook van die uie aan persone met gestremdhede en bejaardes in die gemeenskap geskenk is. Die geld wat deur die verkoop van die oes ingevorder is, word gebruik om insette vir die volgende plantsiklus aan te koop, terwyl dit ook ’n inkomste vir die betrokkenes beteken het. Die gemeenskapslede was ook trots daarop dat hulle van die uie aan kgosi Gaboilelwe en mohumagadi (koninginmoeder) Gaongalelwe Moroka kon skenk.

AfriForum het in April die lêhoender en inheemseveldbok landbou-inkubasie projekte op die plaas Blijdskap by Thaba’Nchu in die Oos-Vrystaat besoek en dit was verblydend om te sien dat dit met die projekte baie goed gaan.

AfriForum en Saai het saam met Kgosi Gaboilelwe Moroka in Mei belangrike vergaderings oor landbou-ontwikkeling en ontwikkelingsfinansiering tydens die jaarlikse Nampo Oesdag by Bothaville gehou.

AfriForum en Saai het kragte saamgesnoer met kgosatsana (prinses) Gaongalelwe Moiloa, medestigter van die Bahurutshe Ba Ga Moiloa-stigting, op haar reis van opkomende na kommersiële boer. ’n Sonaangedrewe drupbesproeiingstelsel is in Oktober geïnstalleer om die produktiwiteit, lewensvatbaarheid en winsgewendheid van haar boerdery te verbeter. Kgosatsana Gaongalelwe het reeds in 2024 ’n suksesvolle aartappeloes van 200 sakke gelewer en het aartappels, tamaties, soetrissies, groenbone en rooiuie tydens die huidige plantsiklus aangeplant. Sy plant ook vir ’n tweede keer aartappelproewe vir die Landbounavorsingsraad. Sy boer op ’n gedeelte van die plaas Jagersfontein in die Mafikeng-distrik as begunstigde van die Batsweneng Gemeenskaplike Eiendomsvereniging, wat die plaas besit.

AfriForum, die uitvoerende komitee van die Nasionale Huis van Tradisionele en Khoi-San Leiers(NHTKL), Saai en die kantoor van Morena e Moholo (hoof tradisionele leier) Montoeli Mota van die Batlokoa Ba Mota het in November aangekondig dat ’n sonaangedrewe waterstelsel, wat betroubare watervoorsiening aan die kantore van die Batlokoa Ba Mota Tradisionele Raad en die plaaslike groentetuin verseker, suksesvol geïnstalleer en in werking gestel is. Die groentetuin sal nie net groente aan die plaaslike voedingskema voorsien nie, wat tans ’n tekort aan groente in die gesig staar, maar ook lede van die gemeenskap die geleentheid bied vir opleiding, oordrag van vaardighede en om ’n inkomste te verdien. ’n Watertenk wat vir gemeenskapslede toegang tot water gee, is ook inwerking gestel. Dit volg nadat die NHTKL leiding geneem het in die smee van die geskiedkundige vennootskap as deel van die eerste jaarlikse Lenaka-gedenklesing, wat teen die einde van 2024 by Manthatisi Hoërskool in Sedibeng, Phuthaditjhaba, Vrystaat gehou is.

AfriForum en Saai het hande gevat met Nkosi Zweloxolo Stokwe van die AmaQwathi-kultuurgemeenskap en die Adopt-A-Village Landelike Voedselsekerheidsinisiatief om die Mtingwevu-gemeenskap, naby Cala in die Oos-Kaap te bemagtig met kennis om saailinge te kweek vir hul groentetuine. Ongeveer 55 gemeenskapslede van 50 huishoudings het die opleiding wat in November deur Stark Ayres aangebied is bygewoon. Dié opleiding volg nadat die Adopt-A-Village Landelike Voedselsekerheidsinisiatief vir AfriForum genader het oor moontlike samewerking. Die hoofoogmerke van die inisiatief is om huishoudelike groenteproduksie te laat herleef, om afhanklikheid van regeringstoelae te verminder, holistiese selfversorgendheid en gesonde eetgewoontes te ontwikkel en om dissipline, toewyding en sterk werksetiek te bevorder. Die uitkomste wat die inisiatief graag wil bereik is voedselsekerheid en landelike gemeenskapsontwikkeling, vaardigheidsontwikkeling, armoedeverligting en gemeenskapsgesondheid deur voedingswaarde bewustheid en organiese landboumetodes.

Gemeenskapslede van die Batlokoa Ba Mota-kultuurgemeenskap in Tsheseng, Phuthaditjhaba in die Vrystaat het in Desember opleiding in groenteproduksie van AfriForum ontvang, wat gefokus het op herlewingslandboumetodes wat aangepas is vir gemeenskappe met min hulpbronne tot hul beskikking. Die opleiding het die grondvoorbereiding en verbetering van grondgesondheid ingesluit, asook die aanwending van ’n deklaag vir beter waterbehoud, temperatuurstabilisering en onkruidbeheer, aanplanting, algemene versorging en bestuur én lewensvaardighede. Dit is die volgende stap in die proses om die gemeenskap te ondersteun om hul selfversorgendheid en selfstandigheid te versterk – ’n proses wat onderneem word deur die geskiedkundige vennootskap wat gesmee is onder die leiding van die uitvoerende komitee van die Nasionale Huis van Tradisionele en Khoi-San Leiers (NHTKL), met AfriForum, Saai en die kantoor van Morena e Moholo (hoof tradisionele leier) Montoeli Mota van die Batlokoa Ba Mota as die ander vennote.

AfriForum bevorder goeie verhoudings en samewerking

AfriForum en die Seleka Barolong het teen einde Maart die verdrag van alliansie en bondgenootskap herdenk wat toe 160 jaar gelede, tussen die toenmalige kgosi van die Seleka Barolong, kgosi Moroka II, en die Republiek van die Oranje-Vrystaat onderteken is. Dié historiese gebeurtenis word geag as die aanvang van formele samewerking en wedersydse erkenning tussen Afrikaners en die Seleka Barolong. Tydens vandag se gedenkgeleentheid is die pas gerestoureerde grafte van die koninklike familie van die Seleka Barolong en die monument wat die verkiesing van die eerste Voortrekkerregering in 1836 in Thaba Nchu herdenk, onthul.

AfriForum het in April die graduering van studente van Thaba’Nchu, waaronder studente van Noga’s Post ,wat deur die Global University for Lifelong Learning, die Sentrale Universiteit van Tegnologie en die Universiteit van die Vrystaat behartig is, bygewoon.

AfriForum het in Mei belangrike inligting gedeel oor die goeie huidige en historiese verhoudinge en samewerking tussen die Afrikaners en die Seleka Barolong tydens ’n gesprek op Mmabatho FM.

AfriForum het in Junie die Nasionale AmaBhele-vereniging (Amanasso) geluk gewens met die suksesvolle aanbieding van die eerste jaarlikse Ndlela KaSompisi-gedenklesing. Die burgerregteorganisasie het die lesing bygewoon en het ook die hoop uitgespreek dat dié geleentheid in die toekoms ’n belangrike rol in die openbare diskoers in die land sal speel. Dié lesing is in Durban aangebied.

AfriForum en Kgosikgolo Kgafela Kgafela II van die Bakgatla Ba Kgafela-kultuurgemeenskap het in Junie ’n geskiedkundige erkennings- en samewerkingsooreenkoms in Kaapstad onderteken. Hulle het ook hul samewerking ter versterking van kulturele outonomie, gemeenskapselfstandigheid, landbouontwikkeling en die bewaring en versterking van kulturele identiteit aangekondig.

AfriForum het in Julie saam met die Adopt-A-Village Landelike Voedselsekerheidsinisiatief besoek afgelê by Nkosi Zweloxolo Stokwe van die AmaQwathi-kultuurgemeenskap en die Mtingwevu-gemeenskap om moontlike wedersydse erkenning en samewerking te bespreek.

AfriForum het in Augustus die middeltermynhersiening (IMbizo) van die Nasionale Huis van Tradisionele en Khoi-San Leiers bygewoon en ’n voorlegging gedoen wat gefokus het op vreedsame naasbestaan, die ontsluiting van die potensiaal van grond en mense, nabetragting oor grondrestitusie, gemeenskaplike eiendomsverenigings, water en samewerking tot wedersydse voordeel.

AfriForum het in September vir sy majesteit koning Misuzulu geluk gewens met die suksesvolle aanbieding van die jaarlikse Koninklike Rietdans wat by die eMashobeni Koninklike Paleis suid van Pongola in KwaZulu-Natal op 13-14 September aangebied is. Dit was ’n historiese viering wat die positiewe momentum van ’n nuwe era vir die Zoeloe-koninkryk bevestig het aangesien dit die eerste keer is dat dié fees by koning Misuzulu se eMashobeni-paleis gehou is en daar baie werk in ’n kort tyd gedoen moes word om te verseker dat dié viering ’n sukses is. AfriForum was ook bevoorreg genoeg om die viering as gaste van koning Misuzulu by te woon.

AfriForum het teen einde September op die uitnodiging van Kgosi Mogakolodi Masibi die Ngwao Moswa Kultuur- en erfenisfees van die Batlharo Boo Tokwana Ba Ga Masibi van Disaneng, in die omgewing van Mahikeng, Noordwes bygewoon en ’n boodskap van ondersteuning gelewer.

AfriForum het in Oktober die Mahumani Multi-kultuur- en erfenisviering op uitnodiging van Hosi Nkomo V Mahumani van die Mahumani-kultuurgemeenskap by Nkomo, in die omgewing van Giyani, Limpopo bygewoon.

AfriForum het in Oktober AmaBhele AseLenge Inkciyo-viering in Mavuso, buite Alice in die Oos-Kaap bygewoon en namens die Kultuurgemeenskappe Samewerkende-inisiatief ’n boodskap van ondersteuning oorgedra.

AfriForum en Me Lebo Mosime van Thabak Business Enterprise het in Oktober ’n groep internasionale skoliere van die School for Ethics and Global Leadership (SEGL) op die plaas Boekenhoutfontein, by Phokeng, Noordwes, ontvang en met hulle gesprek gevoer oor die werklikhede van grondbesit en eiendomsreg in Suid-Afrika, die uitdagings wat ontwikkelende boere in die gesig staar en wat deur samewerking tussen kultuurgemeenskappe bereik word.

AfriForum het in Oktober deelgeneem aan die vergadering van leiers uit diverse Suid-Afrikaanse kultuurgemeenskappe, waartydens die Kultuurgemeenskappe-netwerk (KGN) formeel gevestig is. Die KGN is ’n interkulturele samewerkingsinisiatief wat ten doel het om ’n vreedsame en voorspoedige toekoms vir die kinders van alle kultuurgemeenskappe in die land te verseker. Die KGN dien as ’n forum vir kultuurgemeenskappe om betekenisvol en in goedertrou in gesprek te tree en saam te werk aan kwessies van gemeenskaplike belang en kommer. Die KGN is gevestig deur die aanvaarding van die Ordereëls van die vergadering van die KGN deur 38 afgevaardigdes vanuit 26 verskillende kultuurgemeenskappe uit al die provinsies wat die formaliseringsvergadering in Pretoria bygewoon het. Samesprekings tydens hierdie eerste in-persoon vergadering van die KGN het op twee hooftemas gefokus: die volle verwesenliking van kultuurregte en sosio-ekonomiese ontwikkeling.

AfriForum het in November die Lenaka-gedenklesing-funksie van die Nasionale Huis van Tradisionele en Khoi-San Leiers bygewoon en ’n boodskap van ondersteuning tydens die geleentheid gelewer.

AfriForum het in November ’n gesprek tussen Afrikaanssprekendes wat deur Kaapse Forum gereël is bygewoon.

AfriForum ondersteun in nood

AfriForum het in Maart ’n dringende beroep op Dean Macpherson, minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, gedoen om ondersoek in te stel na die ineenstorting van ’n gedeelte van die kantoorkompleks van die tradisionele raad van die Batlharo Boo Tokwana Ba Ga Masibi- tradisionele gemeenskap van Disaneng, in die omgewing van Mahikeng, Noordwes. Die kantoor het Woensdag 29 Januarie om 18:30 – enkele ure nadat die laaste mense die gebou verlaat het – gedeeltelik ineengestort.

AfriForum verdedig kultuurregte

AfriForum het in Februarie kommentaar ingedien op die Wetsontwerp op Tradisionele en Khoi-San-leierskap en in Maart ’n beroep op Velenkosini Hlabisa, minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake gedoen om in belang van kultuurgemeenskappe op te tree en noodsaaklike wysigings op dié wetsontwerp aan te bring aangesien dit volgens AfriForum in stryd is met die Verenigde Nasies se Deklarasie vir die Regte van Inheemse Volke (UNDRIP). AfriForum het ook aangedui dat die wetsontwerp verander moet word om respek teenoor en waardigheid van koninklike leiers, families en gemeenskappe te weerspieël, en om hulle te bemagtig om die rigting wat hulle wil volg, self te bepaal.

AfriForum het in Mei in ’n brief aan die premier van KwaZulu-Natal, Thami Ntuli, daarop aangedring dat hy dringend stappe doen om om verdere onwettige, onregmatige en onbillike optrede teen izinduna (hoofmanne) te stuit en om dringend ondersoek in te stel na die onregmatige optrede teen tradisionele leiers in dié provinsie. Dit volg in reaksie op versoeke om bystand wat AfriForum van tradisionele leiers en gemeenskapslede ontvang het rakende die beweerde optrede wat die provinsiale Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake teen plaaslike tradisionele leiers ingestel het met die oog op ontslag van dié leiers.

AfriForum het teen einde Mei ’n beroep op die parlement gedoen om te hou by die Konstitusionele Hof se tydlyne vir die verandering van wetgewing en die regstel van wetgewende prosesse wat ongrondwetlik of ongeldig verklaar word. Dit volg ná die hof op 29 Mei ter elfder ure beveel het dat die tydperk vir die grondwetlike aanvaarding van óf die Wet op Tradisionele en Khoi-San-leierskap 3 van 2019 óf ’n nuwe wet in die plek daarvan met twee jaar, na 29 Mei 2027, uitgestel is. 29 Mei was die vasgestelde datum wat die Konstitusionele Hof vir die aanvaarding van die wet beveel het.

AfriForum het in Augustus amptelike kommentaar ingedien teen Mzwanele Manyi se 22ste wysigingswetsontwerp op die Grondwet wat daarop gemik is om, deur die wysiging van artikel 25 van die Grondwet, alle privaat grondbesit in die land af te skaf en die staat die voog van alle grond en natuurlike hulpbronne te maak. AfriForum het aangedui dat die konsepwetsontwerp ’n aanval is op privaat grondbesit én alle kultuur- en ander gemeenskappe wat selfstandigheid, kulturele outonomie en interne selfbeskikking in ooreenstemming met internasionale reg nastreef. AfriForum het beklemtoon dat die voorgestelde wysigings in stryd sal wees met die Internasionale Verbond vir Burgerlike en Politieke Regte sowel as artikels 3, 14, 19, 20, 21 en 28 van die Afrika-handves van Mense- en Volkeregte en ’n beroep op alle kultuurgemeenskappe en hul leiers gedoen om dringend gebruik te maak van artikel 20 van die Wet op die Opgradering van Grondbesitregte 112 van 1991 om die titelaktes van grond wat hulle beheer, te bekom. AfriForum het beklemtoon dat die wysigings tradisionele kultuurgemeenskappe en die koninklike leiers wat hulle as leiers dien, permanente huurders op hul eie grond sal maak en hulle sal verhoed om hul grond wettiglik te besit en volle, onbelemmerde beheer daaroor uit te oefen. Dit sal die volle herstel van die waardigheid, gesonde kulturele selfbeeld en eiewaarde van kultuurgemeenskappe en hul koninklike leiers verhoed, aangesien hulle permanent gedefinieer sal word as mense wat as “ongeskik” beskou word om hul grond te besit en ten volle te beheer. AfriForum het ook gewaarsku dat dit die gesag en invloed van koninklike leiers en tradisionele leierskapstrukture en ander gemeenskapsgebaseerde instellings verswak, terwyl dit ook kulturele outonomie en kultuurregte in die algemeen negatief sal beïnvloed. Hierdie wysiging sal voortgesette en toenemende oorheersing van regeringsamptenare oor die ontwikkeling, bestuur en regering van kultuurgemeenskappe se grond, eiendom en die gebiede waar hulle woon, moontlik maak.

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners