Vind jou naaste Geloftefees hier
Alana Bailey
Jare gelede het koerante moeite gedoen om inligting oor die Geloftefeeste in hulle omgewing, asook groter nasionale feeste op 16 Desember te plaas. Soms is net die plek, predikant en spreker se name genoem, ander kere is die volledige program van aktiwiteite by ’n bepaalde fees geplaas.
Mettertyd het inligting oor die fees wat daardie jaar “lewendig” oor die nasionale Afrikaanse radiodiens uitgesaai sou word, bygekom, en met die koms van televisie, ook die fees wat gebeeldsend sou word.
Toe tree die verskraling van die Afrikaner-kultuurlewe in. Verskeie oorsake kan hiervoor aangevoer word, insluitend die invloed van Sondaghandel en politieke sensitiwiteite. Die gevolg was dat die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) se uitsendings van feeste ten einde geloop het en oorwegend ook die gedrukte media se bekendmaking van inligting oor komende byeenkomste.
Dit is algemene kennis dat feeste elke jaar by plekke soos byvoorbeeld die Voortrekkermonument plaasvind. Gemeentes en gemeenskapsmedia het later toenemend ’n rol begin speel om inligting daaroor en oor plaaslike byeenkomste bekend te maak, maar steeds was daar baie mense wat jaarliks nie eers geweet het waar om te begin soek na nuus oor feeste in hul omgewing nie.
Johann Dannhauser het hierdie behoefte raakgesien en aan die werk gespring om ’n oplossing te bied. Hy het naamlik in 2012 die Geloftefeeskalender geskep en met navorsing die besonderhede van 35 Geloftefeeste opgespoor. Borgskappe is vir die projek gewerf en so het AfriForum en die FAK deel daarvan geword.
Sedertdien het hy die Geloftefeeskalender elke jaar opgestel. Intussen het die feeste waaroor hy berig al tot meer as 200 aangegroei. Naas dié in Suid-Afrika, is inligting oor herdenkings in Namibië, Australië, Nieu-Seeland en die VSA ook in vanjaar se kalender opgeneem.
Benewens die besonderhede van die feeste, sluit die kalender ook die historiese agtergrond van die aflegging van die Gelofte, die bewoording en algemene opmerkings oor die herdenking daarvan in. Dit is op die webtuiste geloftefeeskalender.co.za beskikbaar. Die webtuiste bestaan verder uit afdelings waar beskikbare sprekers en leraars hul kontakbesonderhede kan plaas, of programmateriaal en videoskakels gevind kan word.
Dannhauser merk onder meer op dat die feeste wat in 2024 gelys is, feitlik almal weer in 2025 plaasvind, wat ’n goeie aanduiding van die bestendigheid van herdenkings en toewyding van feesgangers is. Aansluitend hierby is die kommentaar dat al meer jonger mense deel van die feeskomitees word. Mediaberigte het aan die einde van 2024 aangedui dat die bywoning van talle feeste ook jaarliks groei.
Gereelde feesgangers sal waarskynlik reeds weet waar hulle vanjaar gaan inskakel. Vir diegene wat nog wonder, of wat op reis gaan wees op 16 Desember, is die Geloftefeeskalender ’n gratis aanlyn oplossing om ’n herdenkingsbyeenkoms in die omgewing te vind. Só sal aan die onderneming van die Voortrekkers dat opkomende geslagte die Here se naam moet verheerlik deur die eer van die oorwinning by die Slag van Bloedrivier aan Hom te gee, gestand gedoen word.
AfriForum wens almal ’n geseënde Geloftedag toe!



