|

Nuuskommentaar: Hoekom wetgewing nie Suid-Afrika se waterkrisis kan oplos nie; maar gemeenskappe wel

Dis ’n algemene feit dat Suid-Afrika se water- en sanitasiedienslewering kniediep in die moeilikheid is. Voorgestelde wysigings aan die Waterdienstewet (wet 108 van 1997) wat tans voor die parlement dien, waarvan talle veranderings telkens verstandig en reeds jare agterstallig is, kan egter nie ’n krisis oplos wat in werklikheid ’n bestuursprobleem is nie. As ons nie die politieke en administratiewe mislukkings op munisipale vlak bekyk nie, sal selfs die beste wetgewing tekort skiet.

Een van die grootste doelwitte van die nuwe wetsontwerp is om ’n duidelike onderskeid te tref tussen waterdienste-owerhede en waterdiensteverskaffers. Dit is natuurlik ’n gesonde beginsel om die entiteit wat waterdienste verskaf te onderskei van die entiteit wat toesig daaroor moet hou, want die speler en die skeidsregter moet nie dieselfde persoon wees nie. Behalwe vir ’n paar uitsonderings, het die meeste munisipaliteite tot op hede beide hierdie rolle vervul.

Die meganisme waardeur hierdie doelwit bereik moet word, is deur middel van die lisensiëring van waterdiensteverskaffers om te verseker dat slegs gekwalifiseerde operateurs wat aan minimum vereistes voldoen, hierdie kritieke diens mag lewer. Weereens ’n gesonde beginsel. Dit bly egter in praktyk steeds moontlik vir ’n  munisipaliteit om homself as die gelisensieerde waterdiensteverskaffer aan te stel, wat steeds ’n belangebotsing tot gevolg kan hê.

Selfs waar die rolle van waterdienste-owerheid en -verskaffer geskei sou word, is dit net nodig om na Johannesburg Water te kyk om te sien hoe hierdie model klaaglik misluk. Ten spyte daarvan dat Johannesburg Water ‘n losstaande nutsmaatskappy is, word dit volledig deur die Johannesburg-metro beheer. Die stad veg teen chroniese lekkasies, massiewe waterverliese, finansiële onstabiliteit en politieke inmenging.

Verder betreffende lisensiëring, hoewel dit ’n welkome verwikkeling is, kan lisensiëring nie vaardighede optower wat nie bestaan ​​nie. Baie munisipaliteite, veral in landelike gebiede, het eenvoudig nie die ingenieurs, prosesbeheerders of finansiële stelsels wat nodig sal wees om aan voorgeskrewe minimumstandaarde wat deur lisensievereistes opgelê word, te voldoen nie.

Die wetsontwerp stel ook strenger en broodnodige afdwingingsmaatreëls in die vooruitsig: swaar boetes, tronkstraf en persoonlike aanspreeklikheid vir munisipale bestuurders wat nie hulle verpligtinge nakom nie. Dit het die potensiaal om sterk hefbome te wees. Suid-Afrika se probleem was egter nog nooit ’n tekort aan wette nie, maar eerder ’n tekort aan afdwingingsvermoë. Daar is kwalik ’n dorp buite die Wes-Kaap waar rou riool nie reeds jare lank in riviere en strate loop sonder daadwerklike gevolge nie. Kaderontplooiing en ’n gebrek aan politieke wil, maak dit uiters moeilik om teen munisipale amptenare op te tree.

Dít is die wetsontwerp se blindekol. Munisipale rade beheer steeds wie in munisipaliteite aangestel word, wie kontrakte kry, hoe geld bestee word en watter infrastruktuur in stand gehou word. Dit laat die deur oop vir polities verbonde kontrakteurs om munisipale koffers te plunder en gemeenskappe in die steek te laat, soos wat onlangs in Reitz in die Vrystaat gebeur het. ’n Kontrakteur wat aangestel is om ’n nuwe reservoir te bou, het eenvoudig weggeloop nadat hy minder as die helfte van die werk voltooi het. Miljoene is bestee, die projek moet weer op tender geplaas word, en intussen staar watertekorte steeds die gemeenskap in die gesig.

Een van die belangrikste voorgestelde wysigings is dat ruimte geskep moet word vir alternatiewe waterdiensteverskaffers, insluitend nie-regeringsorganisasies, gemeenskapsgebaseerde-organisasies en koöperasies. Dít is ’n belangrike stap vorentoe en presies die vernuwing wat nodig is om gemeenskappe te bemagtig om self betroubare waterdienste te voorsien waar munisipaliteite misluk het. Nogtans kan hierdie belofte nie net op papier bestaan nie. Werklike vernuwing moet vanaf voetsoolvlak gedryf word.

  • De Vaal is ’n omgewingsakeraagewer by AfriForum.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf