|

Die wêreld is in 2025 meer ingelig oor Suid-Afrika se polities ongerieflike feite

Deur Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum

Verskeie organisasies en individue het in 2025 groot deurbrake en vordering gemaak in die aanhoudende stryd om die wêreld in te lig oor die waarheid rakende die Suid-Afrikaanse regering se korrupsie, mislukkings en menseregteskendings. Ek merk onlangs grappenderwys teenoor ’n vriend op dat hierdie jaar soos drie jare in een voel – en tog is die jaar maar slegs driekwartpad klaar! Ons kan gerus ons suksesse vier, maar ons moenie die feit dat daar steeds baie werk is om te doen uit die oog verloor nie.

Hierdie jaar het bewys dat Afrikaners vriende oor die hele wêreld heen en in vele onverwagse plekke en posisies het. President Donald Trump se uitvoerende bevel oor Suid-Afrika waarin Afrikaners by name genoem is, was histories belangrik aangesien ’n Amerikaanse president hiermee vir die eerste keer ooit op dié manier erkenning gegee het aan Afrikaners as ’n unieke kultuurgemeenskap. Elon Musk wat AfriForum se dokumentêr Is Trump right about South Africa? gedeel het en waarna die program meer as 43 miljoen keer op X gekyk is, was nog ’n ligpunt in die duisternis.

Verder was daar internasionaal vele ander substantiewe, historiese deurbrake wat die waarheid oor Suid-Afrika betref. Hiervan is daar verskeie uitstaande voorbeelde.

Eerstens was daar AfriForum en Solidariteit se afvaardiging wat in Februarie vanjaar met senior verteenwoordigers van die Trump-administrasie in die Withuis vergader het.

Tweedens, die Britse owerhede wat in Junie vanjaar Julius Malema ’n visum geweier het weens onder meer sy uitlatings in AfriForum se “Kill the Boer”-hofsaak.

Derdens, Trump wat in die Withuis en ten aanskoue van die hele wêreld die Suid-Afrikaanse regering gekonfronteer het met die realiteite van plaasmoorde en die “Kill the Boer”-dreunsang.

Vierdens was daar die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake se kritiese verslag oor Suid-Afrika. In dié verslag, wat in Augustus vrygestel is, is kommer uitgespreek oor kwessies soos onteiening sonder vergoeding, diskriminerende raswette, plaasmoorde, die EFF se aanhitsing tot geweld en die “Kill the Boer”-dreunsang. Dié verslag het boonop ook – soos met Trump se uitvoerende bevel – erkenning gegee aan Afrikaners as ’n unieke kultuurgroep.

Laastens is die inhandiging van AfriForum se Malema-dossier hierdie maand by die Withuis ook ’n belangrike mylpaal.

Hierdie internasionale suksesse het egter nie oornag gebeur nie. Dit is die produkte van dekades se bewusmaking, veldtogte, netwerke bou, verslae, hofsake, voorleggings, internasionale besoeke en vele meer deur AfriForum, Solidariteit en ander. Dit is vrugte aan ’n boom wat reeds jare gelede geplant is, en gereeld en geduldig natgelei en kompos gegee is. Hierdie waterskeidingsoomblikke was die eindprodukte van duisende druppels in die emmer.

Ons moet egter voortbou op hierdie momentum, aanhou om internasionaal nuwe vriende te maak, nuwe bewusmakingsgeleenthede aangryp en bestaande bondgenootskappe onderhou en versterk.

Juis daarom gaan AfriForum in November weer ’n voorlegging doen voor die Verenigde Nasies se Forum vir Minderheidsaangeleenthede. Die organisasie gaan ook ’n opgedateerde weergawe van sy Die wêreld moet weet-verslag opstel en aan ons kontakte versprei.

Ons moenie onsself flous deur te dink dat ons internasionale bondgenote ons gaan red nie, maar hul aksies gaan beslis aanhou om ’n belangrike, aanvullende rol te speel vir ons wat veg en bou vir ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms vir ons nageslagte aan die suidpunt van Afrika. Ons moet dus volhou om ons bondgenote te bewapen én te bemagtig met feite.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik