Nuuskommentaar: Hoe antwoord ’n mens op ’n uitsluitende gesprek?
Die eerste konvensie van die sogenaamde nasionale dialoog het die pas afgelope naweek plaasgevind. Die onttrekking van nasionale stigtings en die aankondiging van gemeenskapsorganisasies en politieke partye dat hulle ook nie aan die konvensie gaan deelneem nie, het die geloofwaardigheid van die dialoog aangetas. Goeie redes is aangevoer vir onttrekking en nie-deelname: die hoofsaak is dat die burgerlike samelewing, en nie politici en die regering nie, aan die stuur van sake moet wees. Daar is uitgewys dat ’n dialoogproses wat deur die ANC-beheerde presidensie bestuur word, eenvoudig deur die ANC misbruik gaan word as ’n 2026-plaaslikeregeringsverkiesingsveldtog.
Die chaotiese konvensie is wel deur diverse afgevaardigdes van verskeie organisasies bygewoon wat die indruk van breë verteenwoordiging en insluitendheid kan wek. Die waarheid is egter dat daar op ’n dieper vlak totale uitsluiting is.
Volgens ’n verklaring wat na die konvensie uitgereik is, is die volgende besprekingstemas geïdentifiseer: ekonomie, werksgeleenthede, kinders, lewensbestaan, misdaad en korrupsie, opvoeding, gesondheid, geslagsgeweld en vrouemoord, die ‘regmaak’ van die staat en die grondwet, die bou van Suid-Afrikaanse waardes en kultuur, om sosiale bande te versterk en die hantering van intergenerasietrauma en -heling. Die konvensie is, volgens die verklaring, ’n oproep tot ’n nuwe era van burgeraktivisme, radikale verandering, ’n vinnige reaksie op die dringendste uitdagings en die herbou van die nasie.
Daar word nie ’n enkele woord gerep oor kulturele identiteit, tradisie, erfenis, taal of kulturele regte oor die algemeen nie. Dit is baie duidelik dat ’n staatsideologie totaal domineer en hiervolgens bestaan die samelewing slegs uit die staat, as enigste magsentrum, en die individuele burger. Diegene wat kulturele identiteit en kultuurgemeenskap in die sentrum van hul verstaan van en benadering tot die samelewing plaas is nie net uitgesluit nie, die aanvaarbaarheid en selfs die bestaan van hierdie denkraamwerk word ontken en daarom is die uitsluiting so totaal.
Vir dialoog om werklik sinvol te wees is dit nodig dat daar erken word dat daar verskillende ideologiese raamwerke in die land bestaan en dat daar erkenning en ruimte daarvoor moet wees. Dit is noodsaaklik dat daar wesenlike ruimtes geskep moet word vir die erkenning van die veelheid van kultuurgemeenskappe wat ’n wesenlike deel van die grondslag van ons samelewing vorm. Leiers en organisasies wat kulturele identiteit en kultuurgemeenskap in die sentrum van hul ideeraamwerk plaas moet ook erkenning en plek naas dié wat die wat die staat en die wat die individu in die sentrum van hul ideologiese raamwerk plaas, gegun word.
Die werklikheid van ons samelewing is dat dit saamgestel is uit verskillende kultuurgemeenskappe, elk met hul eie taal, kultuur en tradisie. Kultuurgemeenskappe kan vreedsaam naas mekaar bestaan wanneer dié gemeenskappe die vryheid het om hul kulturele identiteit ten volle uit te leef en uit te bou. Dit kan gebeur in ’n omgewing waar wedersydse erkenning en respek tussen kultuurgemeenskappe bestaan en waar kulturele regte erken en beskerm word. Vreedsame naasbestaan word moeilik wanneer kultuurgemeenskappe beleef dat hul kulturele identiteit bedreig word – dit wek vrees en wantroue wat slegte gevolge kan hê.
Wanneer daar gepraat word van ‘radikale verandering’ en die ‘bou van Suid-Afrikaanse waardes en kultuur’ en die ‘herbou van die nasie’ terwyl daar niks gesê word oor die behoud en versterking van kulturele identiteit, kultuurgemeenskappe, erfenis en taal nie, kry kultuurgemeenskappe ’n duidelike boodskap dat hul bestaan as kultuurgemeenskappe deur ’n aggressiewe staatsideologie bedreig word.
Genadiglik is gesprekke, wat in goeie trou gevoer word, tussen regmatige leiers van verskeie kultuurgemeenskappe en kultuurgemeenskapsorgansies, met die oog op toekomstige geslagte, reeds aan die gang. Wanneer die lawaai van die dialoog en die goedkoop politiekery van ’n komende plaaslike regeringsverkiesing verby is, gaan kultuurgemeenskappe steeds in gesprek wees en saamwerk om ’n toekoms vir ons kinders te verseker.
- Uys is die hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum