|

Waardering dat Trump onreg teen Afrikaners uitwys – Afrikaners se toekoms lê egter in Afrika

AfriForum beklemtoon dat die uitvoerende bevel wat president Donald Trump, president van die VSA, gister oor die posisie van Afrikaners in Suid-Afrika uitgereik het, ’n direkte gevolg van president Cyril Ramaphosa en sy regering se onverantwoordelike optrede en beleidsrigtings is. AfriForum het sy groot waardering uitgespreek vir Trump en die VSA se erkenning van die onreg waaraan Afrikaners in Suid-Afrika onderwerp word. Dié burgerregteorganisasie en sy susterinstellings in die Solidariteit Beweging bly egter verbind tot Afrikaners se toekoms aan die suidpunt van Afrika en hou vol dat daar gevolglik dringende oplossings gevind moet word vir die onregte wat die Suid-Afrikaanse regering teen Afrikaners en ander kultuurgemeenskappe in die land pleeg.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sal Afrikaners slegs op plaaslike bodem as kultuurgemeenskap kan voortbestaan. “Emigrasie bied slegs ’n geleentheid vir Afrikaners wat bereid is om die risiko te loop om hul nageslag se kulturele identiteit as Afrikaners op te offer. Die prys daarvoor is te duur om te betaal. Ons is dit ook aan ons voorgeslagte verskuldig om nie hul opofferings, om Afrikaners as volk gestalte te laat kry, tot niet te maak deur ons selfbestaan as Afrikaners op te sê nie,” sê Kriel.

Klankgreep: Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum

Kriel wys daarop dat AfriForum saam met die Solidariteit Beweging hul daarop sal toespits om op ’n basis van wedersydse erkenning en respek met ander gemeenskappe in die land met daadwerklike voorstelle vorendag te kom oor hoe die onregte waaraan Afrikaners in die land onderwerp word, getakel kan word. Voorstelle sal ook gemaak word oor hoe Afrikaners positief kan bydra om die krisisse wat ander kultuurgemeenskappe en die land as geheel tans beleef, aangepak kan word.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging (waarvan AfriForum deel is), gaan in kontak tree met Ramaphosa en sal ook binnekort die VSA besoek in ’n poging om in dié verband oplossings te vind wat tot voordeel van almal sal strek.

AfriForum se voorstelle sluit volgens Kriel onder meer die volgende in:

  • Die ter tafel plasing van wysigingswette oor die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (Bela), wat spesifiek die voorbestaan van Afrikaanse skole en kultuurgemeenskappe bedreig; en die Onteieningswet wat eiendomsreg bedreig.
  • Suid-Afrika se terugkeer na ’n buitelandse beleid wat neutraal staan rakende internasionale konflikte. Die Suid-Afrikaanse regering se onbesonne anti-Westerse en anti-Amerikaanse buitelandse beleid dra direk daartoe by dat die ekonomiese welstand van alle mense in die land nou in gedrang kom.
  • Die sluit van ’n kulturele akkoord tussen die Suid-Afrikaanse regering en Afrikaners en ander kultuurgemeenskappe wat dit sou verkies, waarvolgens kulturele ruimte gebied sal word vir Afrikaanse instellings en kultuurgemeenskappe. Dié voorgestelde akkoord moet ook bepaal dat die vyandigheid teenoor Afrikaner-instellings gestaak word en beskou moet word as vennote in die bou van ’n beter toekoms in Suid-Afrika.
  • Die staking van rassediskriminasie teen Afrikaners en ander minderhede.
  • Die staking van uitsprake wat op haatspraak teenoor Afrikaners neerkom, soos die met die gebruik van die dreunsang “Kill the Boer”.

AfriForum stel ook voor dat daar in almal se belang versnelde pogings moet wees om:

  • die veiligheid van alle landsburgers te verseker en dat sodanige planne ook stappe moet insluit om plaasmoorde die hoof te bied;
  • korrupsie daadwerklik te pak deur onder meer te verseker dat individue wat deur die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping uitgewys is as staatskapers, dringend vervolg moet word;
  • gegewe die verval van plaaslike regerings, aan plaaslike gemeenskappe die ruimte te gun om self betrokke te raak by dienslewering en aksies om die gemeenskappe waarin hulle woon te verbeter;
  • gemeenskapsinstellings en burgerlike organisasies, wat die vermoë het om te help om die diensleweringskrisis in die land op te los, as vennote te beskou met wie samewerkingsooreenkomste aangegaan kan word; en
  • moedertaalonderrig na alle gemeenskappe uit te brei.

Volgens Kriel kan die organisasie se voorstelle, na aanleiding van gesprekke wat nou met die Suid-Afrikaanse en Amerikaanse regerings beplan word, verder uitgebrei word.

Soortgelyke plasings