Vyf redes vir munisipale verval – Deel 1: Politieke inmenging
Deur Ilze Nieuwoudt
Eers kom die vroeë tekens van verval. Hierop volg geleidelike agteruitgang, verswakte dienslewering, ineenstorting van infrastruktuur en finansiële probleme. Daarna kan verwag word dat ernstige gevolge wag op maatskaplike en omgewingsvlak en uiteindelik volg algehele ineenstorting. Die pad na munisipale verval is welbekend en duidelik sigbaar in die meerderheid van die land se 275 munisipaliteite. Die redes vir dié verval vereis egter nadere ondersoek en innoverende oplossings.
In hierdie artikelreeks ondersoek Forum Nuus die vyf belangrikste redes vir munisipale verval. Dié redes en voorgestelde oplossings daarvoor vorm deel van AfriForum se kommentaar op die hersiening van die Witskrif oor Plaaslike Regering wat onlangs ingedien is.
“Dit is nie die tekort aan wette wat tot administratiewe verval in munisipaliteite lei nie – dit is ’n politieke kultuur wat die nienakoming van wette fasiliteer. Totdat die verpolitisering van munisipaliteite nie getakel word nie, sal géén beleidshervorming suksesvolle uitkomste tot gevolg hê nie.”
Só meen Morné Mostert, bestuurder van AfriForum se afdeling vir Plaaslikeregeringsake. Hy hou vol dat ’n hersiene Witskrif oor Plaaslike Regering wat nie eerstens die erns van politieke inmenging erken en daadwerklike riglyne vir die uitskakeling daarvan instel nie, bestem is om net weer die foute wat tot dusver in plaaslike regeringsgeledere gemaak is, te herhaal.
AfriForum het vandeesweek sy kommentaar op die voorgestelde nuwe weergawe van die witskrif ingedien. Hierin maak die burgerregteorganisasie sy standpunt duidelik oor onder meer die ernstige impak van politieke inmenging in munisipaliteite.
Die aanstelling van ondergekwalifiseerde amptenare, die misbruik van verkrygingsprosesse en die doelbewuste stappe om ingryping deur gemeenskappe en die burgerlike samelewing te kniehalter is volgens Mostert van die kenmerke van munisipaliteite wat politieke belang bo dié van inwoners plaas. “Politieke agendas het lankal reeds sy plek ingeneem in munisipaliteite en die verheffing van politieke belange bo professionele munisipale bestuur, is ’n kritieke rede vir die verval wat munisipaliteite landwyd teister,” verduidelik hy.
Munisipaliteite waarin politiek die septer swaai word gekenmerk deur wanadministrasie en ondoeltreffendheid, wat uiteindelik daartoe lei dat die publiek se vertroue in munisipale bestuur verflou.
Volgens Mostert is die verpolitisering van munisipaliteite onder meer duidelik in die Ngwathe en Mafube Plaaslike Munisipaliteite. AfriForum het onlangs toegesien dat provinsiale ingryping by dié twee munisipaliteite afgedwing word. Die Hooggeregshof het in albei sake beslis dat die plaaslike munisipaliteite van Ngwathe en Mafube versuim het om hul grondwetlike verantwoordelikhede vir die lewering van basiese dienste na te kom. “Politieke inmenging het in die geval van albei munisipaliteite daartoe gelei dat sistemiese verval plaasgevind het. Die verval in Ngwathe, Mafube en verskeie ander munisipaliteite deur die land word in staat gestel en vererger deur politieke inmenging.”
Die oplossing vir die politieke inmenging wat munisipaliteite kenmerk, lê luidens AfriForum se kommentaar op die witskrif in die herstel van ’n skeiding tussen administrasie en politiek. “Politieke oorsig moet beperk word tot strategiese en beleidsaangeleenthede, terwyl die daaglikse operasionele, finansiële en projekbestuur in munisipaliteite die eksklusiewe domein van gekwalifiseerde administrateurs moet wees,” verduidelik Mostert.
In die volgende artikel stel ons ondersoek in na die toepassing van openbare deelname in munisipaliteite en hoe dié proses tans bydra tot die verval van munisipaliteite.