|

VSA-ondersoek bevestig plaasmoorde is nie “gewone misdaad” nie – AfriForum

Klankgreep: Jacques Broodryk (Afrikaans)
Klankgreep: Jacques Broodryk (Engels)

AfriForum het vanoggend weer ’n beroep op die prioritisering van plaasaanvalle gedoen ná ’n ondersoek oor plaasaanvalle van die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake se Buro vir Demokrasie, Menseregte en Arbeid bevind het dat plaasaanvalle inderdaad nie “gewone misdade” is nie. Die buro het gisteraand hul bevindinge na aanleiding van hul sending na Suid-Afrika bekendgestel. Die burgerregteorganisasie eis ook in die lig van die buro se bevindinge, waarin plaaslike politici se versuim om die “Kill the Boer”-dreunsang te veroordeel, gekritiseer word, dat president Cyril Ramaphosa die dreunsang dringend in die publiek moet veroordeel.

Die buro het bevind dat plaasaanvalle nie gewone misdade is nie, maar dat slagoffers in sekere gedokumenteerde gevalle gemartel of vermoor word sonder dat enigiets gesteel word.

AfriForum benadruk dat die ANC-geleide regering se versuim om plaasmoorde met die nodige erns te hanteer, diplomatieke verhoudinge tussen Suid-Afrika en die VSA verder benadeel. Die buro voer in ’n X-plasing onder meer aan “die huidige ineenstorting van wet en orde [in Suid-Afrika] is nie bevorderlik vir groei of samewerking met die Verenigde State nie. Die Suid-Afrikaanse regering moet dit duidelik stel en beslissend optree om misdaad te takel en die geweld te veroordeel.”

Die burgerregteorganisasie het intussen die buro se bevindinge verwelkom en benadruk dat die internasionale fokus wat op plaasaanvalle geplaas word, ’n kritieke rol speel in plaaslike pogings om plaasaanvalle tot prioriteitsmisdade te laat verklaar. Die buro se ondersoek plaas ook volgens AfriForum na regte die klem op die werklikheid van landelike misdaad sowel as die unieke en gewelddadige aard en omvang van plaasaanvalle.

Die buro het bevind dat geweld plaasaanvalle gekenmerk. Hulle het ook die regering se versuim om gepas daarop te reageer, beklemtoon. Amerikaanse amptenare het bevind dat daar volgens statistiek van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) 296 plaasaanvalle en 49 plaasmoorde in 2023 plaasgevind het en dat die aantal moorde in 2024 tot 55 toegeneem het. Die verslag bevestig ook dat die slagoffers dikwels ouer en afgesonderd is en dat die polisie se reaksie op dié misdade óf stadig is óf totaal afwesig.    

Die internasionale erkenning van die ernstige krisis van plaasaanvalle is vir AfriForum bemoedigend. Die organisasie is oortuig dat dié erkenning die gevolg is van jare se volgehoue voorspraak en bewusmaking wat daarop gemik is om die erns van plaasaanvalle en -moorde aan plaaslike én buitelandse rolspelers bloot te lê.

“Ons is dankbaar dat dit wat ons al jare lank beklemtoon, naamlik dat plaasaanvalle nie gewone misdade is, nou ook deur die VSA bevestig is,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid. “Plaasaanvalle is wrede, geteikende aanvalle wat dikwels gepaardgaan met marteling, moord sonder dat enigiets gesteel word en polities gelaaide retoriek soos ‘Kill the Boer’. Die ANC-geleide regering se stilte hieroor is skandelik. Wanneer die regering weier om haatspraak te veroordeel en weier om die beskerming van ons boere te prioritiseer, staan hulle aandadig aan dié krisis.”  

AfriForum verwelkom voorts ook die buro se bevindinge rakende die motief vir plaasaanvalle. Die buro het bevind dat armoede telkens nie die motivering vir plaasaanvalle is nie. Daarbenewens is klem geplaas op die rol van plaaslike leiers wat slagspreuke soos “Kill the Boer” by byeenkomste dreunsing en hoe dieselfde slagspreuke ook deur plaasaanvallers gebruik is.

“AfriForum bedank die Amerikaanse regering vir die duidelike en beginselvaste standpunt wat hiermee ingeneem is, terwyl ander bloot swyg. Ons doen daarom ’n hernieude beroep op die Suid-Afrikaanse regering om hierdie wekroep ernstig op te neem en plaasaanvalle as ’n nasionale prioriteitsmisdaad te ag, want dit is duidelik ’n prioriteit – net soos transitorowe en renosterstropery – en vereis gespesialiseerde aandag. Die tyd van ontkenning is verby,” sluit Broodryk af.

Soortgelyke plasings