Vrot munisipaliteite in Noord-Kaap en Noordwes moet sokkies optrek, eis AfriForum
Swak, wisselvallige, onbetroubare – en soms selfs geen – dienslewering word dikwels as die lot van inwoners op veral die Suid-Afrikaanse platteland geag. In Noordwes en die Noord-Kaap, die twee swakste provinsies wanneer dit kom by munisipale prestasie, is dié lot ’n bittere werklikheid. AfriForum het die afgelope paar weke ook in dié twee provinsies insette gelewer as deel van munisipaliteite se geïntegreerde ontwikkelingsplanne (GOP) wat ’n belangrike bydrae maak tot die vasstelling van kort-, medium- en langtermyndoelwitte vir munisipaliteite.
Hoekom is GOP-insette nodig?
Kenners voer aan dat aspekte soos swak leierskap, swak finansiële bestuur, wantroue weens politieke aanstellings, politieke inmenging en onvoldoende oorsigmeganismes as redes vir die powere prestasie van munisipaliteite voorgehou kan word. Boonop word beter strategiese bestuur, en derhalwe ook strategiese beplanning, as noodsaaklike meganismes in die verbetering van munisipale dienslewering bestempel.
AfriForum beywer hom as burgerregteorganisasie juis daarvoor om toe te sien dat daar waar lede gesetel is, doeltreffende munisipale dienslewering aangemoedig word en indien dit moontlik is om deur middel van selfdoenaksies dienste wat nie meer deur munisipaliteite gelewer word nie, self te lewer.
Deur middel van die GOP-proses kan die publiek wys op munisipale kwessies wat dringende aandag vereis vir die lewering van munisipale dienste en behoort dié insette in berekening gebring te word tydens die samestelling van die daaropvolgende jaar se begrotings. AfriForum-takke se insette sien derhalwe toe dat lede se behoeftes en klagtes rakende munisipale aangeleenthede gehoor word én dat druk op munisipaliteite uitgeoefen word om hul grondwetlike pligte na te kom.
Probleme waarop AfriForum se takke in verskeie munisipaliteite wys, sluit onder meer in: die toestand van paaie en vullisterreine; onwettige storting van vullis; beligting van strate en ander openbare ruimtes; probleme met watervoorsiening; vervalle infrastruktuur; en die algemene netheid van dorpe.
Noord-Kaap en Noordwes: Waar munisipale verval hoogty vier

Luidens die 2024 Government Performance Index (GPI 2024) wat in Mei verlede jaar vrygestel is, waarvolgens die oorhoofse prestasie van munisipaliteite landwyd gemeet word op vyf vlakke (naamlik administrasie en regering; ekonomiese ontwikkeling; leierskap en bestuur; beplanning, monitering en evaluasie; en dienslewering) vaar die Noord-Kaapse en Noordwes-munisipaliteite die swakste in die land. In dié indeks dra die evaluasie van munisipale dienslewering, spesifiek ten opsigte van die lewering van water-, sanitasie-, elektriese en vullisverwyderingsdienste, die swaarste gewig.

Die Noord-Kaap het volgens die GPI 2024 ’n algehele punt van 2,78 uit 5 gekry (op dié skaal van 1 tot 5, is 5 die beste), terwyl Noordwes 2,59 gekry het. Daarenteen het die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal, as beste en naasbeste provinsies, ’n telling van 4,11 en 3,5 aangeteken. Noordwes se powere prestasie, is volgens dié indeks te verwagte aangesien nagenoeg 40% van dié provinsie se 18 plaaslike munisipaliteite onder administrasie is.
Noord-Kaap

AfriForum-takke in die Noord-Kaap het in verskeie Noord-Kaapse munisipaliteite – insluitend die Tsantsabane en Magareng Plaaslike Munisipaliteite – aan vanjaar se GOP-proses deelgeneem.
- Die Tsantsabane Plaaslike Munisipaliteit, met sy setel op Postmasburg, bied dienste aan nagenoeg 31 000 mense. Volgens GPI 2024 is dié munisipaliteit in die 71ste plek op die ranglys van 99 klein munisipaliteite (sogenaamde B3-munisipaliteite) geplaas – wat dié munisipaliteit stewig in die swakste derde van kleiner munisipaliteite in die hele land plaas. In Tsantsabane het AfriForum gewys op ernstige probleme met elektriese infrastruktuur, die swak toestand van begraafplase, onvoldoende munisipale beplanning en die beroerde toestand van paaie.
- Die Magareng Plaaslike Munisipaliteit, met sy sowat 27 000 inwoners, vaar volgens die GPI 2024 selfs swakker as Tsantsabane. Dié munisipaliteit, met Warrenton as setel, is in die 90ste plek op die ranglys van 99 klein munisipaliteite. Probleme op Magareng stem merendeels ooreen met die uitdagings wat in Tsantsabane ondervind word. AfriForum het vir Magareng se GOP-insette gewys op probleme by die munisipale vullisterrein wat nie aan die nodige omgewingsregulasies voldoen nie; die dringende behoefte aan die instandhouding van paaie in Warrenton; en die algehele onnetheid van die dorp. Daarbenewens het AfriForum ook voorgestel dat die elektriese straatligte wat tans in die dorp gebruik word met sonkragligte, as ’n meer volhoubare en kostedoeltreffende opsie, vervang moet word
Volgens Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo, is AfriForum se betrokkenheid in die Noord-Kaap van kardinale belang en is deel van ’n oplossingsgeoriënteerde benadering. “Ons glo vas daaraan om betrokke te wees en samewerking met die munisipaliteite te bevorder. Hierdie GOP-kommentaar weerspieël die werklike bekommernisse van inwoners en bied konkrete oplossings,” verduidelik sy.
Noordwes

In Noordwes – waar vyf van die swakste tien landelike munisipaliteite, die swakste B1- plaaslike munisipaliteit én die swakste B2- plaaslike munisipaliteit in die land geleë is – het AfriForum-takke ook aktief aan die GOP-proses deelgeneem. B2- plaaslike munisipaliteite is munisipaliteite met groot dorpe, terwyl B1- plaaslike munisipaliteite kleiner stede insluit. Die Madibeng Plaaslike Munisipaliteit is as die swakste B1-munisipaliteit aangewys, terwyl die Mahikeng Plaaslike Munisipaliteit dié onbenydenswaardige posisie onder die B2-munisipaliteite beklee.
- Die AfriForum-takke op Lichtenburg en Coligny het vir die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP)-deelnameproses van die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit gewys op die verskeie kritieke infrastruktuurprobleme in dié munisipaliteit met sy nagenoeg 164 000 inwoners. Hoewel kwessies soos die herstel van paaie; die instandhouding van boorgatpompe; en die oprigting van ’n funksionele vullisterrein noodsaaklik is, is dit egter die gebrek aan volhoubare watervoorsiening wat tans die ernstigste uitdaging op Lichtenburg bied.
- In die Rustenburg Plaaslike Munisipaliteit het AfriForum as deel van sy GOP-insette die munisipaliteit gekap oor die ernstige waterverliese en swak skuldinvordering in dié munisipaliteit. AfriForum benadruk dat die munisipaliteit se onvermoë om elektriese infrastruktuur te onderhou as rede vir dié stad se gereelde kragonderbrekings voorgehou kan word.
Volgens Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico, staan waterverliese in Rustenburg op meer as 51% en is die skuldinvorderingskoers hier slegs 3%. “Dit is duidelik dat die munisipaliteit nie in staat is om sy basiese funksies doeltreffend uit te voer nie,” benadruk hy.
Hoe lyk die toekoms?
AfriForum hou die vinger op die pols in elkeen van dié en ander munisipaliteite waar AfriForum-takke gesetel is om toe te sien dat munisipaliteite hul grondwetlike verpligtinge teenoor inwoners nakom.
Morné Mostert, bestuurder van Plaaslikeregeringsake by AfriForum, beklemtoon dat AfriForum se fokus daarop gerig is om uiteindelik selfstandige gemeenskappe te vestig. “Deelname aan munisipaliteite se GOP-prosesse is noodsaaklike, terwyl daar terselfdertyd ’n eie selfdoen-vermoë op grondvlak uitgebou word.”