Vrede en vriendskap tussen Afrikaner en Bakgatla Ba Kgafela ná 150 jaar herstel
Deur Ilze Nieuwoudt
Die pad tot hier was gekenmerk deur teëspoed, wrywing en in sommige gevalle selfs openlike konflik, maar vandag is die begin van ’n nuwe era van vriendskap ingelui vir twee unieke kultuurgemeenskappe wat aan die suidpunt van Afrika woon.
Die ondertekening van ’n wedersydse erkennings- en samewerkingsooreenkoms tussen AfriForum en kgosikgolo Kgafela Kgafela II van die Bakgatla Ba Kgafela is ’n historiese gebeurtenis wat op ’n besondere wyse heling en hoop vir ’n toekoms van vreedsame naasbestaan vir Afrikaners en die Bakgatla Ba Kgafela bring. Boonop bied dit aan dié twee kultuurgemeenskappe wat albei uitdagings in die beskerming van hul grond, kultuur en erfenis ondervind, die geleentheid om hande te vat en deur middel van voetsoolvlakprojekte die bewaring van hul eie kulture selfstandigheid te bevorder.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het tydens die ondertekeningsgeleentheid wat vanoggend in Kaapstad gehou is, benadruk dat die sluit van ’n erkennings- en samewerkingsooreenkoms met die Bakgatla Ba Kgafela ’n grootste geleentheid is. “Dit is belangrik dat ons vriendskapsbande op grondvlak smee, want ons en ander gemeenskappe in die land wil ’n toekoms vir ons kinders hê – ’n toekoms waar ons veilig is en vreedsaam bly. Daarom is ooreenkomste soos dié van kardinale belang,” verduidelik hy.
Hy meen voorts dat die afgelope paar maande se pogings deur die regerende elite om AfriForum en Afrikaners te isoleer en die organisasie te probeer diskrediteer, misluk het en dat die vriendskappe wat tussen Afrikaners en ander volke in die land bestaan, tekenend is van die werklike en respekvolle bande wat op grondvlak tussen kultuurgemeenskappe voorkom. “Op grondvlak is daar vriendskap. Ons beleef dit elke dag in verhoudings op grondvlak. Ons formaliseer dit nou om op hierdie manier ’n netwerk van kultuurgemeenskappe te skep wat ’n toekoms vir ons nageslag en die nageslag van die ander volke in hierdie land sal help skep,” verduidelik hy. “Ons gaan voort om verhoudinge te bou en ’n toekoms te skep, nie as gevolg van die regerende elite nie, maar ten spyte van hulle.”
Kgosikgolo Kgafela Kgafela II het dié historiese geleentheid as ’n hoogtepunt bestempel, wat – benewens sy eie inhuldiging as kgosikgolo van die Bakgatla Ba Kgafela – vir hom as die belangrikste oomblik in sy tyd as kgosigkolo uitstaan. Dié kultuurgemeenskap is onder ernstige beleg, hul voortbestaan as kultuurgemeenskap word bedreig en die kgosikgolo en sy seun, Matshego Kgafela (aangewese kgosi van die Bakgatla Ba Kgafela in Moruleng), leef nou as’t ware as bannelinge in die Wes-Kaap weens veiligheidsrisiko’s en inmenging deur wat hy beskryf as die “ANC-mafia” in Noordwes. Hy benadruk dat Afrikaners en die Bakgatla Ba Kgafela nou die strydbyl van die verlede begrawe. “Ons het ’n verantwoordelikheid om ons volke en ons mense die toekoms in te lei – ’n toekoms van lig, ’n toekoms waarin waarheid, geregtigheid en liefde heerskappy voer en ’n toekoms waarin daar geen ruimte vir haat is nie,” verduidelik Kgosikgolo Kgafela Kgafela II.

Volgens Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudinge en Samewerking by AfriForum, is vandag ’n dag van “genesing, herstel en hoop” en die “begin van ’n uitdagende reis met blye vooruitsigte”. Uys het gewys op tragiese oomblikke in dié kultuurgemeenskappe se verlede, soos die Anglo-Boereoorlog (1899–1902), waartydens aan teenoorgestelde kante van die stryd geveg is. Dié en verskeie ander gebeure word vandag nog met hartseer onthou.

“Vandag reik ons egter ons hande na mekaar uit en verbind ons daartoe om op die grondslag van wedersydse erkenning en respek, saam te werk om die reuseuitdagings wat ons generasie moet trotseer, die hoof te bied,” verduidelik hy.
Die voortbestaan van beide Afrikaners en die Bakgatla Ba Kgafela as volke word luidens Uys bedreig deur onder meer armoede, misdaad en aanvalle op grondbesit, kulturele instellings en identiteit, erfenis, moedertale en waardestelsels. “Gemeenskappe kan en moet verantwoordelikheid neem vir hul eie toekoms. Daarom snoer ons kragte saam om die voorspoedige voortbestaan van ons kultuurgemeenskappe te verseker.”
Wie is die Bakgatla Ba Kgafela?
Die Bakgatla Ba Kgafela, ’n multinasionale kultuurgemeenskap met setels in Suid-Afrika en Botswana, is verenig onder die leierskap van kgosikgolo Kgafela Kgafela II. Dié kultuurgemeenskap is in Suid-Afrika veral bekend vir hul ryk platinumdraende grondgebied in die omgewing van die Pilanesberg Nasionale Park in Noordwes. Dit is in dié gebied waar die meerderheid van die Bakgatla Ba Kgafela se sowat 350 000 Suid-Afrikaanse lede in 32 dorpies woon. Hul tradisionele leierskap ondervind egter ernstige bedreigings weens onder meer onbehoorlike inmenging van provinsiale amptenare en politici.
Historiese konteks van Afrikaner- en Bakgatla Ba Kgafela-verhoudinge
Die gedeelde verlede van Afrikaners en die Bakgatla Ba Kgafela het nagenoeg 189 jaar gelede – in 1836 – begin. Die twee kultuurgemeenskappe se leiers van daardie tyd, kgosi Pilane en Andries Hendrik Potgieter, het goeie onderlinge verhoudinge en samewerking gevestig om die uitdagings van daardie tyd te trotseer. In die generasies wat daarop gevolg het, het ’n komplekse sameloop van omstandighede en besluite die verhoudinge tussen die twee kultuurgemeenskappe egter laat versuur en uiteindelik laat verbrokkel.
Die Bakgatla Ba Kgafela-kultuurgemeenskap woon sedert die vroeë 1800’s in die destydse Moruleng-omgewing (naby die teenswoordige Pilanesberg Nasionale Park). Hoewel die meerderheid van dié volk vandag hier woonagtig is, het ’n groot gedeelte, insluitend die vernaamste families, onder leiding van kgosi Kgamanyane, in die vroeë 1870’s na die Mochudi-omgewing in Botswana uitgewyk. Dit het gevolg ná wrywing met Paul Kruger en ander amptenare van die destydse ZAR.
Verhoudinge tussen Afrikaners en die Bakgatla Ba Kgafela, onder leiding van kgosikgolo Linchwe I, was weens laasgenoemde se betrokkenheid by die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) aan die kant van Brittanje in die vroeë 20ste eeu, steeds gespanne.