|

‘Vetkoekpaleis’ – die tradisie leef wéér al laggend voort!

Toe Frik Delport, beter bekend as Frikkadel of sommer Dik Frik, in 1996 sy eie eetplek op Nigel oopgemaak het, sou Suid-Afrika nie kon raai dat die wel en wee van dié vetkoekrestaurant die verbeelding só sou aangryp nie. Vetkoekpaleis het in die laat 1990’s televisiekykers gretig laat uitsien na elke week se manewales.

Deur dié komediereeks het Vetkoekpaleis se karakters, insluitende die bobaas-vetkoekkok Worsie (gespeel deur die program se vervaardiger Willie Esterhuizen), die wulpse blonde kelnerin Boeboe (Liane Heyl) en die skreeusnaakse en soms ietwat onbeholpe sekuriteitswag Sheridon (Alvin Bruinders) gesorg vir ligte vermaak in Afrikaans soos wat laas met die ewe gewilde Orkney snork nie! die geval was.  

Sowat drie dekades later – in 2023 – het Vetkoekpaleis weer ’n verskyning op die kassie gemaak. Hierdie keer op AfriForumTV. Teen dié tyd was Worsie veel ouer, meer volwasse en nou die amptelike eienaar van Nigel se gunsteling-vetkoekrestaurant.

Hierdie storie is egter nog lank nie klaar vertel nie. Die derde reeks van dié geliefde sitkom word van vandeesweek af in die AfriForum Teater opgeneem en aanhangers kry die geleentheid om deel van die lewende gehoor te wees wat eerstehands die komiese, lawwe en lê-tot-jy-lag vermaak van Vetkoekpaleis kan beleef. Die geheim is boonop uit – Boeboe gaan ook hierdie keer weer haar verskyning maak en die vonke gaan behoorlik spat.

Kom kuier vanaf 26 Februarie tot 29 Maart saam met Wors, Molly (Lizz Meiring) en die res van die Vetkoekpaleis 3-span by die AfriForum Teater. Besoek www.afriforumteater.co.za om jou kaartjie te bespreek.

As Vetkoekpaleis jou maagspiere kielie, kort jy jêm, of selfs beter – twee kaartjies na die opname van Vetkoekpaleis 3 by die AfriForum Teater in Pretoria, en boonop die kans om ’n paar kiekies in die Vetkoekpaleis-kombuis te neem!

Al wat jy hoef te doen, is om die Vetkoekpaleis-bemarkingsvideo op sosiale media te deel met die hutsmerk “AfriForumTV” en siedaar, jy sal in aanmerking kom vir een van vier stelle dubbelkaartjies na enige van die tien opnames. Klik hier om die video te kyk. Agt kaartjies is op die spel.

Soortgelyke plasings