Van Mchunu tot Cachalia – waarheen is die SAPD op pad?
Deur Zel-Marí Gelderblom
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) bevind hom by ’n gevaarlike kruispad waar die beloftes van hervorming onder leiding van die pas aangestelde waarnemende minister van Polisie, prof. Firoz Cachalia, oorskadu word deur skreiende mislukkings binne die stelsel. Terwyl Cachalia se aanstelling hoop wek vir daadwerklike optrede teen korrupsie, dui die gebeure van die afgelope paar weke op ’n instelling – en skynbaar ook ’n breër regstelsel – wat moreel, struktureel en strategies uitmekaar val.
Cachalia het kort nadat hy verlede week as waarnemende minister van Polisie beëdig is, aangevoer dat hy die “ontsaglike gewig van die verantwoordelikheid” wat op hom rus, begryp. Hy het ook die versekering gegee om dit wat nodig is om korrupsie te beveg, duidelik aan die kabinet te stel.
Sy reputasie as voorsitter van die Nasionale Teenkorrupsie-adviesraad, ’n amp waaruit hy teen die einde van die maand tree, bied ’n mate van geloofwaardigheid. ’n Mens vrees wel dat sy goeie voornemens getoets gaan word, veral al ná voorvalle soos dié in 2024 waar drie SAPD-rekrute, skaars drie weke nadat hulle met hul polisieopleiding begin het, aangekeer is vir hul betrokkenheid by ’n gewapende ontvoering.
Die rekrute-fiasko was nie net ’n morele verleentheid nie; dit het ook sistemiese verval in die polisie op minstens twee vlakke blootgelê. Dit het eerstens gewys op die gebrekkige keuringsprosesse wat individue met kriminele neigings toelaat tot die polisiediens. Tweedens wys dit dat toegang tot SAPD-vuurwapens klaarblyklik sonder streng beheer verkry kan word. Intussen het meer as 1,1 miljoen kandidate onlangs aansoek gedoen vir die 2025/2026-boekjaar se 5 500 beskikbare rekruutposte in die SAPD en daar kan met reg gewonder word oor die gehalte van dié aansoeke.
En terwyl die SAPD in ’n krisis verkeer, bied president Cyril Ramaphosa se hantering van die situasie nie veel hoop nie; inteendeel, sy hantering verdiep die krisis. Sy besluit om die minister van Polisie, Senzo Mchunu, bloot op spesiale verlof te plaas ten spyte van die lang lys ernstige aantygings teen hom, verswak die boodskap van verantwoordbaarheid. Dit bevestig ’n algemene indruk, naamlik dat politieke oorwegings dikwels voorkeur geniet bo institusionele hervorming.
AfriForum, wat hom lank reeds beywer vir ’n funksionele en deursigtige kriminele regstelsel, het die jongste gebeure bestempel as ’n bevestiging van hul vrese. Volgens die organisasie verkeer die SAPD tans in ’n diepgaande kultuurkrisis wat nie net die geloofwaardigheid van die polisiediens aantas nie, maar die veiligheid van gewone burgers direk bedreig. Die burgerregteorganisasie voer aan dat oppervlakkige herstrukturering nie voldoende is nie en dat die hele stelsel – van werwing en opleiding tot aanspreeklikheid – hersien moet word. AfriForum pleit onder meer ook vir ’n onafhanklike oudit van keuringsprosesse, groter gemeenskapsbetrokkenheid by die monitering van polisiebestuur en dat misdadigers binne die SAPD met dieselfde ywer vervolg moet word as dié op straat.
Cachalia se mandaat as waarnemende minister is dus duidelik, maar buitengewoon uitdagend – hy moet ’n interne gekaapte instelling probeer red. Sy sukses gaan nie slegs afhang van beleidsveranderings nie, maar ook van sy vermoë om politieke druk te weerstaan en werklike dissipline af te dwing.
Die vraag bly egter staan: Kan ’n minister alleen ’n kultuur van beskerming en verantwoordbaarheid herstel in ’n instelling waarin korrupsie so diep gewortel is? En wie hou dán toesig oor diegene wat veronderstel is om ons te beskerm? Totdat daar duidelike gevolge vir oortreders is, ongeag rang of politieke verbintenisse, bly hervorming ’n belofte op papier eerder as ’n werklikheid op straat.
Zel-Marí Gelderblom is die koördineerder van inhoud en mediaverhoudinge by AfriForum en het ’n meestersgraad (cum laude) in genderpolitiek aan die Nelson Mandela Universiteit behaal. Sy is ook die aanbieder van AfriForum in fokus.