Studente vul slaggate om Tuks-kampus
“Ons gaan nie vir die regering wag om die land reg te ruk nie. Ons gaan dit sélf doen.”
Dít is waarom AfriForum Jeug se Tuks-tak op 4 Maart slaggate om die Universiteit van Pretoria (UP, Tuks) se Hatfield-kampus gevul het. Hierdie groep studente het 750 kg teer gebruik om slaggate vanaf Prospectstraat in Hatfield tot Murraystraat in Brooklyn op te vul en sodoende dié paaie vir motoriste te verbeter.
Volgens Rudolph Cilliers, woordvoerder van die Tuks-tak en ’n vierdejaarstudent aan dié universiteit, help dit nie om oor iets te kla as jy nie self probeer om iets daaromtrent te doen nie. “Om vir die regering te wag, gaan niks help nie. Ons wil self probleme oplos en ’n verskil in die omgewing maak.”



Die Tuks-tak se inisiatief volg nadat AfriForum Jeug-lede, tydens die organisasie se kongres in Januarie vanjaar, slaggate in Parys gevul het. Dié tak het daarna besluit om dit ook in die omgewing van Tukkies se hoofkampus te doen.
“Die slaggate pla almal, maar niemand doen iets daaromtrent nie en daarom het ons besluit om dit self te doen. Dit is ons almal se verantwoordelikheid om die verskil te wees wat ons graag in die land wil sien,” het hy gesê.
Een van AfriForum Jeug se hooffokusareas vir 2025 is studente se veiligheid en hierdie projek verseker studente en motoriste se padveiligheid.
Volgens Yvonne Gerber, ontwikkelingsbeampte by AfriForum Jeug, leer projekte soos dié studente om eienaarskap van hul omgewing te neem. “Dit wys ook vir die studente dat hulle nie hoef te wag dat iemand iets vir hulle doen nie. Hulle kan self inspring en eienaarskap neem van hul toekoms.”
Nina Kriel, ’n tweedejaarstudent aan die UP, wou graag ’n verskil maak en het daarom besluit om ook hand by te sit. Sy het aan Forum Nuus gesê dat elke klein bietjie help en dat ’n mens goed voel as jy hierdie doen. “Dit is vir ons gemeenskap en ek sal beslis enigiemand aanmoedig om te in die toekoms te kom help.”



Dit is belangrik om hierdie soort projekte aan te pak, terwyl daar mense is wat dalk net afbreek, het Anke Prinsloo, bestuurslid van AfriForum Jeug se Tuks-tak en derdejaarstudent, gesê.
“Hiermee wil ons wys dat ons hier is om op te bou en om studente se padveiligheid eerste te stel. Wanneer dit reën sien ’n mens nie die slaggate nie en dit hou gevare vir ons en die mense van die omgewing in.”
Volgens Cilliers is dit belangrik vir die jeug om betrokke te raak. “Ons het groot doelwitte vir die jaar en ons het jongmense nodig om te help om ’n verskil te maak.”
Prinsloo beaam dié standpunt en moedig studente aan om by AfriForum Jeug se Tuks-tak betrokke te raak. “Hierdie is ’n manier om jou netwerk te verbreed. Hier is mense wat jou ondersteun en jy leer so baie. Ons het groot en lekker aksies wat voorlê, so raak betrokke by AfriForum Jeug se Tuks-tak.”
Hou AfriForum Jeug se sosialemediaplatforms dop om by die Tuks-tak se projekte en aksie betrokke te raak.


