Stellenbosch MHB-bestuurder bevorder viktimisasie ten koste van dienslewering, sê AfriForum
AfriForum sal verdere ondersoek instel na die diskriminerende praktyke binne Stellenbosch Munisipaliteit. Dit volg ná ’n video op sosiale media versprei is waarin Alexander Kannemeyer, die menslikehulpbronbestuurder van Stellenbosch Munisipaliteit, na bewering voorstel om die lewe vir wit werknemers “moeilik” te maak totdat hulle bedank sodat hulle deur die munisipaliteit se voorkeurkandidaat vervang kan word.
AfriForum beklemtoon dat ’n munisipaliteit se primêre fokus altyd dienslewering moet wees en hulle dus die beste personeel vir die werk moet aanstel. Wanneer senior amptenare rasgebaseerde viktimisasie in plaas van merietegebaseerde aanstellings voorstel, ondermyn dit werknemers se regte en bedreig dit ook direk dienslewering aan die publiek.
Die gemeenskap gaan op die ou end aan die kortste ent trek as die munisipaliteit op hul rasgebaseerde vendetta aandring om die beste kandidate óf uit te sluit óf uit te dwing. Dienslewering sal onvermydelik afneem as die beste kandidate vir ’n posisie nie aangestel word nie en uiteindelik boet die gemeenskap daarvoor.
Om ’n werknemer se lewe “moeilik” te maak kom ook, ingevolge die Wet op Gelyke Indiensneming (55 van 1998) se kode op goeie praktyk asook die Wet op Arbeidsverhoudinge (66 van 1995), neer op teistering en word daarvolgens verbied. Dit skep ’n vyandige werkskultuur en stel die munisipaliteit bloot aan KVBA en Arbeidshof-eise vir konstruktiewe ontslag en skadevergoeding.
Dit is ’n menslikehulpbronbestuurder se plig om wettige en billike indiensnemingspraktyke te beskerm. Kannemeyer se versuim om aan hierdie verpligting te voldoen het die Stellenbosch Munisipaliteit in ’n slegte lig gestel. Volgens AfriForum wys hierdie optrede dat Kannemeyer nie vertrou kan word om wettige en onpartydige besluite te neem nie en behoort hy, ná ’n wettige proses gevolg is, uit sy pos verwyder te word.
Die Suid-Afrikaanse Grondwet (artikel 9) en die Wet op Gelyke Indiensneming (55 van 1998) verbied onbillike diskriminasie, insluitend diskriminasie op grond van ras. Kannemeyer se beweerde opmerkings kan dus hiervolgens neerkom op onbillike diskriminasie.
“Munisipaliteite bestaan om dienste te lewer, nie om politieke speletjies met werksgeleenthede te speel nie,” sê Morné Mostert, bestuurder van Plaaslikeregeringsake by AfriForum. “Wanneer senior bestuurders onwettige viktimisasie voorstel, ondermyn dit beide die Grondwet en die publiek se reg op betroubare dienslewering.”
AfriForum beklemtoon dat dienslewering van meriete, verantwoordbaarheid en billikheid moet afhang, en sal voortgaan om hierdie beginsels te verdedig waar dit ook al bedreig word.