Rek die litte met bergfiets of te voet by die Centurion Gemeenskapsfees
Daar is baie om na uit te sien by die Centurion Gemeenskapsfees wat op 27 September by die Voortrekkermonument (VTM) aangebied word. Die dag beloof baie opwinding vir die hele gesin met alles van lekker eetgoed tot vermaak en die geleentheid om ou gunsteling- Afrikaanse-liedjies uit volle bors te sing.
Vir dié wat op die dag ’n bietjie meer aktief wil wees, is daar ook ’n pretloop en bergfietsren om na uit te sien. Albei aktiwiteite is daarop gemik om die hele gesin die geleentheid te gee om litte los te maak én die natuurskoon te geniet. Die bergfietsrit word oor afstande van 15 km en 30 km aangebied. Die 15 km-rit se roete is kindervriendelik en die inskrywingsfooi hiervoor beloop R120 per persoon. Die 30 km-roete is meer uitdagend en inskrywing beloop R170 per deelnemer. Tydhouers kan vir ’n verdere R20 per deelnemer op die dag gebruik word. Beide roetes sal deelnemers die geleentheid gee om die pragtige omgewing van die VTM-terrein in te neem en te geniet.
Die pretloop word oor afstande van 5 km, 10 km en 15 km aangebied en sal op teer- en grondpaaie op VTM-terrein aangepak word. Die kortste roete is ideaal vir gesinne wat die pretloop met ’n stoorwaentjie wil aanpak. Die twee langer roetes is nie geskik vir waentjies en rolstoele nie. Die inskrywingsfooi beloop onderskeidelik R50, R140 en R160 vir die 5 km-, 10 km- en 15 km-roetes. Daar is ook tydhouers vir pretlopers teen R20 elk op die dag vir gebruik beskikbaar.
Deelnemers moet van 06:30 af gereed wees om te begin. Inskrywings is reeds oop. Besoek gemeenskapsfees.co.za om in te skryf of om meer oor die onderskeie roetes uit te vind. Inligting oor ander gebeure op die dag is ook op die blad beskikbaar.