Raskriteria moenie internettoegang kelder
Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum, het vandag by ’n openbare verhoor van die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) die voordele wat die satelliet-internetdiensverskaffer Starlink vir boere en landelike gebiede kan inhou, uitgelig. Hy het ook benadruk dat dit onregverdig is om die potensiële voordele op rassegronde van hierdie gemeenskappe te weerhou.
Van Zyl het in sy voorlegging aangevoer dat net meer as 10% van Suid-Afrikaanse huishoudings toegang tot die internet het en dat slegs sowat 1,7% van huishoudings in landelike gebiede hierdie voorreg geniet.
Volgens hom sal die verbeterde kommunikasievermoë wat Starlink in Suid-Afrika kan bied ’n reusebydrae maak om misdaad te voorkom en misdaadreaksietye te verbeter, veral in landelike gebiede waar selfoonopvangs dikwels onbetroubaar is of heeltemal afwesig is.
Hy het ook aangevoer dat die verbeterde kommunikasie wat Starlink tot gevolg gaan hê, sal help met misdaadvoorkoming en verbeterde misdaadreaksietye.
“Die beskikbaarheid van Starlink sal beter reaksietye vir nooddienste moontlik maak, asook die kommunikasievermoëns van gemeenskapsveiligheidstrukture verbeter.”
Volgens Van Zyl kan satelliet-gebaseerde tegnologie, soos Starlink, help om die gaping te oorbrug wat tans tussen landelike en stedelike Suid-Afrika bestaan.
AfriForum het in September 2024 skriftelike kommentaar ingedien waarin die organisasie Okosa versoek het om af te sien van sy streng raskriteria wat Starlink tans verhoed om ’n lisensie te bekom om ’n satelliet-internetdiens in Suid-Afrika te bedryf.