Ramaphosa oortree VN se Volksmoordkonvensie deur nie “Kill the Boer” te veroordeel nie
AfriForum sê die feit dat president Cyril Ramaphosa gister opnuut geweier het om die “Kill the Boer, kill the farmer”-oproep tot volksmoord te veroordeel én sy aanduiding dat die regering nie teen Julius Malema gaan optree vir die gebruik van dié slagspreuk nie, is – volgens die Suid-Afrikaanse regering se eie maatstawwe rakende volksmoord – ’n growwe skending van die Verenigde Nasies (VN) se Volksmoordkonvensie.
AfriForum grond dié stelling op die getuienis wat advokaat Tembeka Ngcukaitobi, lid van Suid-Afrika se regspan, in Januarie 2024 in die Wêreldhof tydens die volksmoordsaak teen Israel, gelei het. Ngcukaitobi het namens Suid-Afrika aangevoer dat “die opsetlike versuim van die regering van Israel om sodanige aanhitsing tot volksmoord te veroordeel, te voorkom en te straf, op sigself ’n growwe skending van die Volksmoordkonvensie is”.
Ngcukaitobi het verder aangevoer dat “hierdie versuim om sulke uitlatings deur die regering te veroordeel, te voorkom en te straf, het daartoe gelei dat volksmoordretoriek genormaliseer is” en het “uiterste gevaar vir Palestyne in die Israeliese samelewing [ingehou]”.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, getuig die ANC-geleide regering se verdediging van die “Kill the Boer”-slagspreuk, terwyl hulle soortgelyke oproepe elders in die wêreld uitwys as ’n bedoeling om volksmoord te pleeg, van dubbele standaarde rakende hul interpretasie van die Volksmoordkonvensie.
Kriel wys daarop dat plaasmoordontkenners nou baie hard poog om die ernstige aard van plaasmoorde te onderspeel nadat die Amerikaanse president Donald Trump tereg die internasionale kollig op plaasaanvalle in Suid-Afrika geplaas het. Dit word onder meer gedoen deur die slagoffers van plaasmoorde en die marteling wat daarmee gepaardgaan, te ignoreer en eerder te fokus op ’n debat oor die terminologie wat gebruik moet word om plaasmoorde mee te beskryf.
“AfriForum het nog altyd op die ernstige aard van plaasmoorde gefokus eerder as om in semantiese debatte oor die term ‘volksmoord’ betrokke te raak, maar dink dit het nou noodsaaklik geword om die optrede van Ramaphosa se regering te toets aan die hand van hul eie maatstawwe rakende die betekenis van volksmoord,” sê Kriel.
Die Suid-Afrikaanse regering het volgens Kriel tydens sy saak teen Israel gewys dat die aantal sterftes nie deurslaggewend is in die klassifikasie van volksmoord nie en dat daar eerder op die spesifieke bewoording van die VN se Volksmoordkonvensie gefokus moet word. Die konvensie se definisie van “volksmoord” bepaal, soos die Suid-Afrikaanse regering ook uitwys, dat daar bloot ’n “bedoeling” (intent) moet wees om ’n groep te “vernietig” (destroy) deur onder meer moord, liggaamlike of geestelike leed (mental harm).
Ramaphosa en sy regering se versuim om die “Kill the Boer”-slagspreuk (wat in terme van die VN-konvensie op ’n baie duidelike bedoeling van volksmoord dui) te veroordeel te midde van die realiteit van moorde en marteling én die oproepe tot geweld wat tot vrees en geestelike skade onder sommiges lei, brandmerk volgens Kriel die Suid-Afrikaanse regering as oortreder van die Volksmoordkonvensie.
- Die transkripsie van Ngcukaitobi se aangehaalde getuienis, lui soos volg: “The intentional failure of the government of Israel to condemn, prevent, and punish such genocidal incitement constitutes in itself a grave violation of the Genocide Convention. We should recall, Madam President, that in Article 1 of the Convention, Israel confirmed that genocide, whether committed in time of peace or in time of war, is a crime under International Law, and it undertook to prevent and to punish it as such. This failure to prevent, condemn, and punish such speech by the government has served to normalise genocidal rhetoric and [posed] extreme danger for Palestinians within Israeli society.”