Ramaphosa-aantygings oor verdeeldheid ironies – AfriForum
Video: Kallie Kriel in reaksie op president Cyril Ramaphosa se aantygings dat AfriForum en Solidariteit verdeeldheid saai.
President Cyril Ramaphosa se aantygings dat AfriForum en Solidariteit met hul besoek aan die VSA en verteenwoordigers van Donald Trump se administrasie “verdeeldheid saai”, is ironies omdat dit volgens AfriForum eerder Ramaphosa en die leiers van die ANC is wat verdeeldheid teweeg bring. Só het AfriForum se hoofuitvoerende beampte, Kallie Kriel, vandag vanuit die VSA gereageer op uitsprake wat Ramaphosa vroeër vandag by ’n onderwysberaad in Gauteng gemaak het.
Volgens Kriel moet Ramaphosa en die leiers van die ANC verantwoordelikheid aanvaar vir die verdeeldheid wat húlle saai. “Dit is Ramaphosa wat die anti-Afrikaanse Bela-wet onderteken het – ’n wet wat die voortbestaan van Afrikaanse kultuurgemeenskappe bedreig. Dit is ook Ramaphosa wat die Onteieningswet onderteken het. Dit is hý wat weier om uitsprake soos ‘Kill the Boer’ te veroordeel en dit is dieselfde president wat ook in die openbaar sê daar is nie iets soos plaasmoorde nie,” verduidelik Kriel in ’n reaksievideo.
Kriel wys voorts ook op skrywes wat AfriForum, Solidariteit en die Solidariteit Beweging aan die president gerig het oor die Bela-wet, die Onteieningswet en die huidige spanning met die VSA, maar dat dié kommunikasie bloot geïgnoreer is. Intussen voer Ramaphosa se woordvoerder ook aan dat die president weier om met dié organisasies in gesprek te tree. Kriel bestempel dié optrede, en Ramaphosa se u-draai oor die Bela-onderhandelinge by Nedlac, as minagtend.
“Ons sal ons nie hierdeur laat intimideer nie. Ons sal doodeenvoudig voortgaan om te veg vir dit wat reg is, om te veg in die belang van die land, maar ook om onbeskaamd te veg vir die belange van Afrikaners. Ons word hierdeur gemotiveer om nog harder ons boodskap uit te dra,” beklemtoon Kriel.
“Ons gaan ons nie laat stilmaak deur die sogenaamde ‘cancel culture’ nie en ons sien uit na die toekoms,” sluit Kriel af.
Die Solidariteit Beweging se afvaardiging in die VSA word gelei deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Hy word vergesel deur Kriel, dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, en Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by die Solidariteit Beweging. Die afvaardiging sit vandag hul gesprekke met meningsvormers in Washington DC voort.
Dekfoto: President Cyril Ramaphosa, Flickr, GovernmentZA