President se versuim om “Kill the Boer” te veroordeel, wys sy goedkeuring van oproepe tot geweld teen Afrikaners – AfriForum
President Cyril Ramaphosa se kil reaksie en weiering om “Kill the Boer” te veroordeel, wys daarop dat hy sy stilswyende goedkeuring gee aan oproepe tot geweld teen Afrikaners en ander geteikende minderhede. Só sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, in reaksie op Vincent Magwenya, woordvoerder van die Presidensie, se uitlatings gister aan Netwerk24. Magwenya het onder meer aangevoer dat Ramaphosa nie die “Kill the Boer”-dreunsang gaan veroordeel nie.
Die dreunsang het die afgelope week weer opspraak verwek nadat die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, Maandag op X gesê het dat “Kill the Boer” ’n dreunsang is wat geweld aanhits, en dat Suid-Afrika se leiers en politici moet optree om Afrikaners en ander benadeelde minderhede te beskerm. AfriForum het ook vroeër vandeesweek in ’n brief aan Ramaphosa die president versoek om dié dreunsang ten sterkste te veroordeel. Julius Malema, leier van die EFF, en lede van dié party het “Kill the Boer” weer verlede week tydens ’n Menseregtedagbyeenkoms gedreunsang.
“Die president behandel klaarblyklik AfriForum se jongste brief en versoek aan hom met minagting. Dit is presies hoe hy ook ons vorige briewe aan hom met minagting behandel het. Dit bevestig weereens dat die president oneerlik was toe hy aangevoer het dat hy plaaslik Suid-Afrika se probleme wil uitpraat en oplos,” sê Kriel.
Volgens Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekking by AfriForum, bewys die president se klap in die rigting van minderhede dat hy meer besorgd is daaroor om nie die EFF te ontstel nie as wat hy daaroor is om gerusstelling te bied aan minderheidsgemeenskappe wat legitieme kommer en vrese het.