Potchefstroom se inwoners verloor vertroue in munisipale bestuur
AfriForum se Potchefstroom-tak het ’n onlangse meningspeiling onder inwoners van Potchefstroom bekendgemaak wat ernstige kommer oor dienslewering en munisipale bestuur in die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit bevestig. Die opname, wat tussen 9 en 21 Mei 2025 uitgevoer is, toon dat die oorgrote meerderheid van respondente uiters ontevrede is met die huidige stand van dienslewering en die vermoë van die munisipale bestuur om hul pligte na behore uit te voer.
Die opname is deur middel van aanlyn verspreiding via sosiale media uitgevoer en slegs 10,4% van respondente is tot ’n mate met dienslewering tevrede. In teenstelling hiermee het 75% aangedui dat hulle ontevrede of baie ontevrede is. Die grootste probleemareas sluit padinstandhouding, straatligte en parke in – met padinstandhouding wat die hoogste vlak van ontevredenheid toon: 95% van respondente is baie ontevrede.
Wat munisipale bestuur betref, is die prentjie selfs donkerder. Slegs 0,33% van respondente het aangedui dat hulle tevrede is met die huidige munisipale bestuurder. Sowat 92% het egter hul ontevredenheid uitgespreek. ’n Oorweldigende meerderheid van respondente (91%) is van mening dat sowel die munisipale bestuurder as die burgemeester uit hul poste verwyder moet word.
“Hierdie resultate bevestig wat ons al lankal weet: Die JB Marks Munisipaliteit faal sy inwoners,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder van AfriForum se Mooirivier-distrik. “Die gemeenskap het hul vertroue in die plaaslike regering verloor, en dit is tyd dat daar daadwerklik opgetree word om dienslewering te herstel en verantwoordbaarheid af te dwing.”
AfriForum sal die resultate van hierdie opname gebruik om druk op die munisipaliteit te plaas en sal voortgaan om oplossings te soek wat die lewensgehalte van Potchefstroom se inwoners verbeter.
"*" indicates required fields