|

Potchefstroom inwoners keelvol vir swak dienslewering

AfriForum se Potchefstroom-tak het Vrydag ’n klag oor die swak dienslewering van die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit by die premier van Noordwes, Lazarus Mokgosi, ingedien. Die situasie in Potchefstroom het nou ’n onuithoubare punt bereik en inwoners is heeltemal keelvol. ’n Soortgelyk klag is ook by die provinsiale Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (DSRTS) aanhangig gemaak.

AfriForum het in Mei ’n meningspeiling onder die inwoners van Potchefstroom onderneem waaraan nagenoeg 1 000 mense deelgeneem het. Hierin het hulle hul misnoeë met die dienslewering van die JB Marks-munisipaliteit te kenne gegee. Die resultate van hierdie opname vorm die basis van die klag wat AfriForum aanhangig gemaak het.

Respondente wat aan die opname deelgeneem het, is gevra om hul tevredenheidsvlak rakende dienslewering aan te dui – hul tevredenheid is op ’n skaal gemeet van baie ontevrede tot baie tevrede. Tevredenheid oor die lewering van munisipale dienste in nege afdelings is gemeet, naamlik: parke en ontspanningsgeriewe; verkeersveiligheid; straatligte; kliëntediens by munisipale kantore; riool- en sanitasiedienste; vullisverwydering; padinstandhouding; elektrisiteitsvoorsiening (beurtkrag uitgesluit); en watervoorsiening.

Padinstandhouding staan uit as die een diensleweringsaspek wat Potchefstroom se inwoners die meeste pla. Amper 95% van mense is baie ontevrede met die toestand van Potchefstroom se paaie. Daarbenewens het meer as 77% van respondente aangedui dat hulle baie ontevrede is met dienslewering ten opsigte van straatligte en parke en ontspanningsgeriewe.

Wanneer dit kom by die voorsiening van elektrisiteit, vaar Potchefstroom volgens inwoners op die oog af beter – moontlik net omdat dienslewering in die ander kategorieë reeds só vrot is. In hierdie afdeling, waarby die implementering van beurtkrag nie ingereken is nie, het byna 45% van respondente aangedui dat hulle ontevrede tot baie ontevrede is met die munisipaliteit se dienslewering. Inwoners se tevredenheid met vullisverwydering in dié munisipaliteit toon ’n soortgelyke patroon met net minder as 20% van respondente wat baie ontevrede is en amper 25% wat ontevrede is.

Volgens Alta Pretorius, distrikskoördineerder van AfriForum se Mooirivier-distrik, bevestig die bevindinge dat JB Marks-munisipaliteit sy inwoners in die steek laat. “Die gemeenskap het hul vertroue verloor in die plaaslike regering se vermoë om gehalte diens te lewer. Die tyd vir daadwerklike optrede in die herstel van dienslewering en die afdwing van verantwoordbaarheid het nou aangebreek. Ons glo dat die provinsiale owerhede sal intree voordat Potchefstroom totaal vernietig word. Intussen sal AfriForum die bevindinge van hierdie opname inspan om nie net druk op die munisipaliteit uit te oefen nie, maar om ook as deel van die organisasie se selfdoenbenadering voort te gaan om oplossings te vind wat die lewensgehalte van Potchefstroom se inwoners sal verbeter,” beklemtoon Pretorius.

Soortgelyke plasings