| |

Polisieminister probeer mislei oor grondgrype – AfriForum

Klankgreep: Jacques Broodryk (Afrikaans)
Klankgreep: Jacques Broodryk (Engels)

Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, se woordspeletjies tydens vandag se bekendstelling van die jongste kwartaallikse misdaadstatistiek was volgens die burgerregteorganisasie AfriForum ’n hopelose poging om die waarheid rakende grondgrype in Suid-Afrika te probeer verdraai. Mchunu het onder meer aangevoer dat daar géén grondgrype in Suid-Afrika plaasvind nie. Dit ten spyte van gereelde berigte van en hofsake oor grondgrype in verskeie dele van die land.

Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, het Mchunu vandag die onreg rakende grondgrype wat in landelike gebiede plaasvind misken deur ’n onderskeid te probeer tref tussen grondgrype (land grabs) en grondbesetting (land invasion). Luidens die minister is laasgenoemde ’n onwettige daad, terwyl hy grondgrype beskryf as ’n “georganiseerde manier en ’n benadering van gemeenskappe wat deur die regering toegelaat word om grond van eienaars te gryp”.

“Die minister se pogings om die voorkoms van grondgrype in Suid-Afrika weg te praat, strook nie met die realiteit nie en was doelbewus gedoen om die kritiek wat tans plaaslik en internasionaal op Suid-Afrika is oor die kwessie van privaat eiendomsreg, te probeer negeer,” verduidelik Broodryk.

Luidens Broodryk is daar uiteenlopende voorbeelde van grondgrype wat net die afgelope paar maande opspraak verwek het. In Februarie vanjaar is grondgrype buite Seshego in Limpopo aangemeld; in Maart het die voorsitter van die Parlementêre Portefeulje Komitee vir Polisie, Ian Cameron, kommer uitgespreek oor onwettige grondgrype in die Buffalo City-munisipaliteit; ook in Maart vanjaar is grondgrype in die Mangaung-metro aangemeld en die burgemeester, Gregory Nthatisi, het net verlede week weer bevestig dat die metro moeite doen om grondgrype hier hok te slaan; en vroeër vandeesmaand het die Johannesburgse hooggeregshof – in ’n uitspraak rakende grond wat in Muldersdrif beset is en waarna die besetters probeer het om die grond deur middel van ’n hofbeslissing te bekom – aangevoer dat besetters gepoog het om grondgrype deur middel van die hof te laat bekragtig. Voorts het die adjunkpresident, Paul Mashatile, in Februarie vanjaar ook aangevoer dat munisipaliteite reeds jare lank met grondgrype worstel. “Vir ’n land waar géén grondgrype kwansuis plaasvind nie, is dit vreemd hoeveel vermeldings politici oor die voorkoms van dié probleem maak,” sê Broodryk.   

Broodryk meen voorts dat dit interessant is dat ’n daling in plaasmoorde juis aangeteken is nadat die kollig ook internasionaal op die voorkoms van dié misdaad geplaas is.

“Die beskerming van die landelike gemeenskap bly steeds vir AfriForum ’n prioriteit. Daarom gaan ons voort om landelike veiligheidstrukture op te bou en te bemagtig om hulself binne die raamwerk van die wet te beskerm. Juis daarom het ons die afgelope week nog 28 protospanlede uit verskillende dele van die Wes-Kaap opgelei om as spesialiste in AfriForum se landelike veiligheidstrukture in dié provinsie te dien,” sluit Broodryk af.

Soortgelyke plasings